Skakerings van hoop − Madelie Human

“Hoekom huil jy?” Dis die stem van ’n baie jong kind wat hier by sy kop praat. Wat de hel? Ongeduldig byt Mark op sy tande, knipper die laaste sweetdruppels uit sy oë en probeer fokus op die paar piepklein pienk tekkies wat tussen sy twee groot gryses tot stilstand gekom het. Hy lig sy kop en kyk vas in fluweelbruin oë wat hom doodernstig vanuit ’n engelgesiggie betrag. Terselfdertyd probeer hy om sy spiere te laat ontspan sodat die spasma tot bedaring kan kom.

“Ek huil nie.” Sy stem klink hortend en grof van die inspanning, maar sy deins nie terug nie, bekyk hom net met blink ogies. Hy’t nie ’n probleem met kinders nie, maar hy weet gewoonlik nie wat om vir hulle te sê nie. Wat weet hy in elk geval van klein mensies af? In sy volwasse lewe het hy maar min met kleingoed te doen gehad. Mark skat die blonde krulkoppie so tussen drie en vier jaar oud, te jonk om alleen hier te wees. Hy kyk vinnig heen en weer op die strand, maar daar is geen teken van ’n volwassene nie. Watse soort ouer laat so ’n kleintjie alleen hier onder by die see ronddwaal? Dis mos nie veilig nie.

“Is! Ek kan sien jy huil. Jy maak net of jy nie huil nie, want reuse is taf, maar ek kan sien jy huil.” Sy steek haar hand uit en vee met ’n fyn vingertjie aan die sweetdruppels op sy wang. Haar onverwagse aanraking maak dat hy verstar en onwillekeurig sy kop terugtrek. Sy druk dadelik die hand agter haar rug in, maar gee nie pad nie, vernou net haar ogies vir hom. “Waar is jou eina?” dring sy steeds aan.

Mark besef sy gaan sowaar nie ophou voor hy haar vraag beantwoord nie. “Dis nie trane nie, dis sweet.” Om sy woorde te beaam, vee hy weer sy gesig met die sweetband af.

“Jy jok. Ek kan sien dis baie seer.” Die handjie skiet weer uit en vryf oor die frons tussen sy oë. “Jy maak kwaai gesig, maar dis omlat jy seerkry. Siestog.”

“Omdat,” korrigeer hy haar. “Ek maak kwaai gesig om klein meisietjies soos jy bang te maak.” Mark frons aspris nog meer in die hoop dat sy hom alleen sal laat. Hy hou nie daarvan dat ander sy ellende aanskou nie, al is dit ’n kind.

“Ek bang jou nie. My pappa is baie kwaaier as jy. Jou gesig is kwaai en jy praat soos die reus in my boek van Jan se boontjie, maar jou oë huil.” Met albei handjies nou in haar denimgeklede sye daag sy hom uit om haar te weerspreek.

“Jan en die boontjierank,” raai hy waarvan sy praat.

“Ek sê mos.”

Mark sug. Die klein parmant is reg. Dis ’n yslike eina wat hom so laat sweet en wat maak dat hy so frons en haar so bars aanspreek. “Waar is jou mamma?” vra hy effens sagter. Hy kyk weer rond of hy iemand sien aankom, maar die strand is verlate.

“Sy en Sylvia maak wol.”

“Wol?” Hy het op ’n skaapplaas hier naby grootgeword, maar van wol maak, het hy nog nooit gehoor nie. “Skape maak die wol, nie mense nie.”

“Issie, Mamma en Sylvia maak wol. Pienkes en bloues en geles en nog baaaaie ander kleure, soos ’n groot elmboog.”

Kleure soos ’n elmboog? Genade, waarvan praat die kind? Toe kliek iets in sy moeë brein. Dalk is haar ma tant Lalie se kleindogter, sy Lorelei van destyds. Dan is sy getroud en sy het ’n kind, nes hy gedink het. Sy het natuurlik die tuisnywerheid by haar ouma geërf. “’n Reënboog,” help hy haar weer reg.

“Ek sê mos!”

As hy nou ’n man was wat van kinders gehou het, sou sy seker vir hom baie oulik gewees het. Hy en die vuurvretertjie van twee bakstene hoog begluur mekaar, nie een bereid om bes te gee nie. Mark kry vir die eerste keer in ’n lang tyd regtig lus vir lag, maar die verroeste klank daarvan maak dat hy dit onmiddellik staak en nog dieper frons.

“Nicci! Nicci, waar is jy?” kom ’n heserige vrouestem van iewers anderkant die duin. Daardie sexy stem wat hom jare gelede so bekoor het dat hy nie geweet het hoe hy dit met homself het nie. Maar nou ja, sy is nou die ma van ’n kind en hy is ’n krok wat tot niks meer as ’n skommeldraffie in staat is nie.

“Hier, Mamma. Kom kyk, die reusoom huil.” Steeds hande in die sye staan sy waar sy staan.

superromanza app

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s