BOKS VOL SOENTJIES – Dina Botha

Celeste maak Up Town se deure oop en Steven dra ’n swartbord tot in die middel van die gang.

“Waar moet ek dit neersit, Celeste?”

“Sommer net daar waar jy staan.”

“Specials op jou eerste dag al?” vra Steven skepties.

“Ek dink dis ’n goeie idee. Die negatiewe effek van die onlangse resessie is nog lank nie verby nie en nie almal kan die duurder geregte op die spyskaart bekostig nie. Buitendien wil ek eerder die voete lok wat die winkelsentrum deur die dag besoek as om tot laataand hardnekkige gaste te bedien.”

“Jy is seker reg.”

Voor die ontvangstoonbank steek sy vas. Blomme! Dis wat sy vergeet het om te kry. Daar moet ’n bloemistewinkel in die sentrum wees, anders sou die meisies nie die vorige dag daaroor gepraat het nie. Agter die toonbank haal sy haar beursie uit haar handsak.

“Amanda, ek het skoon vergeet van blomme vir die toonbank. Hou die fort, ek is nou terug.”

“Ek sal gaan,” bied Shelly ywerig aan.

“Nee, ek is slimmer as dit. Jy sal eers ’n praatjie met die sexy ou van die bloemistewinkel wil aanknoop en daar is nie vandag tyd nie,” sê sy laggend voor sy uitstap.

Dis nie moeilik om die winkel te kry nie. Dis net om die volgende hoek en die naam staan lewensgroot teen die venster geskryf: Casandra se Blomwinkel. Die winkel is nie vreeslik groot nie, maar die blomme wat orals in emmers staan, ruik hemels. Sy neem aan die eienaar is agter besig toe daar niemand by die toonbank is om haar te ontvang nie. Die deur agter die toonbank is effens oop en sy hoor beweging. Sy kyk rond en het nie regtig ’n idee wat sy wil hê nie. Ná ’n minuut se wag raak sy ’n bietjie ongeduldig.

“Hallo!” roep sy hard uit.

Amper snak sy hoorbaar na haar asem toe die aantreklike vreemdeling van die agterplaas by die agterste deur na binne loer.

“Skuus, ek het jou nie hoor inkom nie.” Hy vee sy hande aan ’n handdoekie af. “Ek is besig met ’n ruiker,” verduidelik hy heeltemal onnodig.

Dit moet een van die mans wees waarvan die meisies gepraat het. Die een wat Shelly ’n oom genoem het, maar hy is niks ouer as twee en dertig nie, skat sy terwyl sy hom beter beskou. Die meisies het die woord “sexy” gebruik, maar sy sal dit eerder volwasse aantreklik noem.

“Waarmee kan ek help?”

“Ek soek blomme,” sê sy vinnig en hoop hy het nie agtergekom hoe verbaas sy was nie.

Hy glimlag weer sy dodelik aantreklike glimlaggie. “Dan is jy beslis by die regte plek.”

Sy ruk haar vinnig reg. “Jammer, ek is ’n bietjie verstrooid vandag. Ek soek ’n ruiker of sommer net ’n bos blomme in ’n mooi glasvaas.”

“Waar wil jy dit sit? Moet jou gaste oor die blomme of onderdeur kan sien?”

Uit ’n bloemis se oogpunt is dit seker belangrik om te weet. “Op ’n ontvangstoonbank.”

Die vreemdeling stap agter die toonbank uit en kom langs haar te staan. Hy is heelwat langer as sy en sy moet na hom opkyk. Daar is bruin vlekkies in sy groen oë, merk sy. Nee, die vlekkies maak sy oë eerder kakiegroen. Tussen sulke digte swart wimpers is sy oë, net soos die res van sy gesig, iets om te waardeer. Sy gesig het mooi sterk en manlike lyne. Sy onderlip is vol en mooi genoeg om vir soenbaar en sexy deur te gaan. En sy wange en hoekige ken is skoongeskeer. Wat hom regtig intelligent laat lyk, is sy effens hoë haarlyn net onder sy donker kortgeknipte hare.

“Wat van hierdie perskekleurige rose as ’n basis?”

Sy forseer haar gedagtes na die blomme. “Ek weet nie veel van blomme af nie,” sê sy flou.

“Kom ons kyk wat het ek nog.”

Celeste luister hoe hy die blomme se name uitryg en voorstelle maak terwyl sy die vreemdste gevoel ondervind. H’y het die eienaardigste uitwerking op haar. Die man se stem en sy persoonlikheid is … hipnoties.

superromanza app

Daar is ’n Romanza-app vir jou foon! Enige tyd, enige plek.

As jy ’n iPhone het, klik op die iStore en tik ROMANZA in. Laai dit af.

As jy ’n Android-foon het, klik op Google Play Store en tik ROMANZA in. Laai dit af.

Alle Romanzas op die Romanza-app is nou slegs R59,99!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s