Held in ’n Oorpak – Madelie Human

held-in-n-oorpak_voorblad_high-res

“Hei, Zack. Van wanneer af koop jy pienk sticky notes en gekleurde paper clips? Ek dog dan jy werk met hamers en beitels?” Hanno kom met ’n inkoopmandjie oor die arm om die winkelrak en loer nuuskierig in Zack se trollie.

Zack verkyk hom aan sy vriend wat uitgevat is of hy na ’n modefunksie op pad is. Hanno is soos ’n vroumens oor mooi klere, maar hy aanvaar hom so. Hy weet wat hy aan hom het. “Moenie jy nog vra nie. Die bekwame galerybestuurder wat jy so gaaf was om vir my aan te dra, het my op hierdie missie gestuur – skryfbehoeftes vir haar kantoor. Jy moet dit sien. Sy het antieke kantoormeubels wat die laaste ambassadeur glo uitgegooi het in die buitekamers uitgekrap, dit skoon geskrop en vir haar ’n spoggerige kantoor ingerig met kunswerke teen die mure op die koop toe.”

“Dit klink soos onse Emma. En hoe gaan dit tussen julle tweetjies daar in jou mansion? Kom julle darem oor die weg?”

“Haar bekwaamheid verbaas my nogal, maar sy self is vir my ’n raaisel.”

Hanno rol sy oë. “Don’t even try, my friend. Hulle sê mos die boek oor hoe om vroumense te verstaan, is so dik soos ’n baksteen. Sy is eintlik ’n engel, maar die manual vir daai ene bestaan nie.”

“Hoe lank ken jy haar al?”

Hanno verskuif sy mandjie na sy ander arm. “H’m, seker so sewe of agt jaar. Sy het eendag daar by die restaurant kom werk soek toe sy nog ’n student was. Brandarm en doodhonger. Maar sy kan werk soos ’n esel. Sy het haarself deur die universiteit gekry sonder enige hulp van haar ouers. Maar oor hulle praat sy nie juis nie. Haar pa is glo ’n kwaai drinker en die ma heel afwesig, maar dis al wat ek weet. Emma het ná matriek letterlik weggeloop van die huis af om kuns te kom swot en nooit weer teruggegaan nie. Daar is glo nog ’n sussie by die huis, maar van haar weet ek nie veel nie. Solank jy nie persoonlike vrae vra nie, is als oukei. Ask no questions and hear no lies.”

“Ek wonder maar net.”

“Gedink sy sal jou tickle. Die oomblik wat ’n mens uitvra, kom haar dorings uit. Prickly pears kan maar laat staan teen haar.”

“Jip. Sannetjie-raak-my-tog-nie-aan-nie. Miskien kan ek tog . . .”

Hanno keer vinnig. “Los uit. Laat staan gerus maar. Jy sal nie naby haar kom nie, al probeer jy. Ek het lankal moed opgegee met daai ene.”

“Oukei, as jy so sê. Kom jy ’n bietjie oefen vanaand? Ek is skoon styf van op lere klim. Ek moet eenvoudig ’n slag die handskoene aansit en litte losmaak. Ek het vir ons ’n lekker oefenvertrek in een van die buitekamers ingerig, kompleet met slaansak en als.”

Hanno lek sy lippe af, vee denkbeeldige nattigheid uit sy mondhoeke uit en bestudeer sy goedversorgde naels dan krities. “Dit klink soos ’n definitiewe date, maar dit sal laterig moet wees, want ons het baie bookings vir aandete. Nie voor elfuur nie.”

Zack wonder hoeveel duisende kere hy al hierdie kenmerkende gebaar van sy vriend gesien het. Nadat hulle mekaar op skool leer ken het daardie dag toe hy die boelies opgeneuk het oor hulle Hanno ’n moffie genoem het, het hy vir Hanno leer boks om homself te kan verdedig en al stel Hanno nie in die sport belang nie, oefen hulle gereeld saam om fiks te bly. “Dis oukei, ek sal maar daar wees. My nuwe assistent het vir my kantoorwerk uitgedink wat my tot ounag besig sal hou.”

Hanno lag. “Kantoorwerk? Jy?”

“Jip. Ek moet ’n begroting vir die galery opstel en jy weet ek en boekwerk is nie maters nie.”

“Miskien kan ek jou help.”

“Nee wat, ek sal seker maar moet regkom, dankie. Ek het ’n kwaai genoeg baas.”

“H’m. Dit lyk of onse Emma jou sal kan hanteer. Sy kan ’n regte bossy boots wees.”

Zack frons. “En wie se skuld is dit dat ek nou na ’n vroumens se pype moet dans?”

“Komaan, ou grote, jy doen niks wat jy nie wil doen nie en jy weet dit. Jy kon dit nie weerstaan om die damsel in distress te help nie. Die oomblik toe jy hoor sy gaan uit haar woonstel geskop word, toe val jy daarvoor.” Zack kan sommer sien Hanno kry baie lekker.

“Sy is allesbehalwe hulpbehoewend as sy van agter haar groot lessenaar instruksies uitdeel asof dit eintlik ek is wat vir haar werk, hoor jy vir my.”

“Ha-ha. Ek kan haar dit sien doen. Have fun, my maat van yster en plaat. Sien jou vanaand.” Met ’n wuif van sy vingers stap Hanno na die ry kasregisters toe.

Zack sug en bestudeer sy inkopielysie beswaard. Volgende keer kan sy haar eie inkopies doen. Genade, hier is hy in die middel van die week in die winkels soos ’n wafferse huisvroutjie met ’n inkopietrollie op sleeptou. Dit kan nie so werk nie. Hy het baie beter dinge om te doen. Jip. Hy sal sommer vandag nog by die bank gaan reël dat sy ’n debietkaart van die galery se rekening kry. Die inkopies is van nou af haar werk. Sy soek mos gedurig iets om te doen.

Held in ’n oorpak nou beskikbaar: http://bit.ly/2n0SDIV

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s