Ou liefde roes nie − Dina Botha

ou-liefde-roes-nie_voorblad_high-res

Die reling is koud onder haar handpalms, maar sy is nouliks bewus daarvan. Waarvan sy wel akuut bewus is, is die subtiele geur wat Marco omhul. Nie net naskeermiddel nie, maar ook die reuk van man. Sterk, standvastig en manlik. En sonder die geur van sigaretrook, soos destyds.

“Rook jy nie meer nie?”

“Nee, die slegte gewoonte lankal afgeleer.”

“Ek sien, wyse besluit gewees.”

Die wolke beweeg weg voor die maan en sy kyk werktuiglik op. Die maan hang amper vol bokant hulle koppe en tower alles silwerwit. Net so vinnig is die betowering weer weg toe ’n wolk voor die maan inskuif. Maar dit bly ’n magiese nag met die maan en wolke wat speletjies speel, die geur van blomme wat in die lug hang en ’n kriek wat so hardnekkig van hom laat hoor.

Marco leun onverwags nader en sy gesig is sentimeters van hare af. “Jy is steeds een van die mooiste mense wat ek ken.”

Sy asem vee warm oor haar gesig en daar is iets betowerends in die effense grofheid in sy stem. Sy teenwoordigheid het haar so ingetrek dat sy die vibrasies teen haar lippe kan voel. Haar mond word droog en haar ooglede swaar. Haar hele wese reik uit na hom. Alles in haar hunker polsend na fisieke kontak. Sy arms om haar lyf, sy vingerpunte op haar vel en sy mond op hare.

Vir ’n tydlose oomblik wag sy dat haar droom gestalte kry, maar toe tree koue realiteit in. Sy onthou waar sy is. Waar húlle is. Sy ruk haar kop weg en beweeg terselfdertyd weg.

“Wat dink jy doen jy, Marco? Wil jy my sosiaal vermoor? As enigeen ons so betrap, is dit môre ’n skinderstorie op elke tong in die stad.”

Marco lag ongesteurd. “Nie op elke tong nie.”

“Jy weet goed wat ek bedoel. Moenie maak of ek ’n moroon is nie.”

“Jy het geen idee hoe onweerstaanbaar jy vanaand lyk nie, Milea. Min mans sal die versoeking kan weerstaan om jou te soen. Maar ek is bereid om jou om verskoning te vra. Jou reputasie is gelukkig nog ongeskonde.”

“Ek gaan terug. Alleen,” sê sy vinnig toe hy haar dadelik wil volg.

Marco lag geamuseerd. “Goed, dan doen ons dit so. Ek sal jou oor ’n minuut of twee volg.”

Milea loop weg, maar nie voordat sy hom hoor sê: “Ek het gejok, jy is die mooiste vrou wat ek ken.”

Dalk is dit te wyte aan die heelwat warmer vertrek wat sy binneloop, maar hoendervleis vorm op haar arm. Marco het hoegenaamd niks van sy sjarme verloor nie. Dis net nou verfyn tot ’n dodeliker variasie. Van haar voorneme dat hy nie haar aand gaan bederf nie, is niks oor nie. Sy voel kwetsbaar.

Milea knoop dadelik ’n gesprek met die vrou oorkant haar aan. Dit terwyl sy nou gespanne bewus bly van die oop sitplek langs haar. Die stoel word uitgetrek en haar lyf ruk toe Marco se ander hand liggies teen haar naakte skouer druk en vir ’n paar sekondes daar talm. Toe hy sit, skuur die growwigheid van sy baadjie teen haar skouer. Met haar senuwees nou aan flarde het dit dieselfde effek as skuurpapier op haar vel. Tot haar verdere marteling skuif hy sy stoel so langs hare in dat die sitplekke aan mekaar raak. Tensy sy op die persoon aan haar ander kant se skoot wil sit, is daar geen beweegruimte nie. Toe Marco langs haar ontspan, voel sy sy knie onder die tafel teen hare druk. Dis onmoontlik, sy weet, maar dit voel of haar knie en been dadelik warmer word. Dis met moeite wat sy weer op die vrou voor haar kan konsentreer. Toe besef sy dat die vrou haar iets gevra het en dat sy skoon vergeet het om te luister.

“E . . . ja,” gryp sy na die eerste die beste generiese antwoord in haar kop.

Dis nie die regte antwoord nie, besef sy toe die vrou frons en verward glimlag. Sy draai haar kop en begin ’n gesprek met die man langs haar. Milea voel hoe die bloed teen haar wange opstoot. Sy het Marco nie nodig om haar sosiaal te ruïneer nie, dit wil voorkom of sy dit op haar eie baie goed regkry.

Die nagereg word bedien, maar Milea se gedagtes bly op die stoep vasgevang. Het sy lippe aan hare geraak of het dit nie? Vervlaks, hoekom het sy nie maar toegelaat dat hy haar soen nie? Vir soveel jare het sy daaroor gedroom en toe laat sy die geleentheid ter wille van sosiale protokol verbygaan.

Marco stamp liggies aan haar en het dadelik haar aandag.

“Hoekom is jy so stil?”

“Want ek het maniere, ek praat nie met ’n mond vol kos nie.”

Marco kyk na haar nageregbordjie en terug na haar. Sy oë terg.

“Wat eet jy, jou poeding is dan klaar?”

Milea sit haar vurkie neer en gee hom ’n vernietigende kyk.

“Wel?” dring hy ten spyte daarvan steeds op ’n antwoord aan.

“Dis jy wat my so kwaad maak, Marco. Watse tipe man lê by ’n getroude vrou aan?” sis sy deur haar tande en maak seker net hy hoor dit. Sy wenkbroue wip op.

“’n Man wat oor ’n klomp goed wonder, Milea. Soos waar jou man is. Hoekom is hy nie juis nou, in hierdie aaklige tyd, aan jou sy nie? As jy myne was, was ek saam met jou op jou pa se begrafnis, ek sou jou nie halfpad om die aarde alleen laat vlieg het nie.”

“Maar nou is ek nie jou vrou nie.”

“Nee, jy is nie.”

Marco tel sy glas op en kyk voor hom. Hy proe liggies aan sy wyn, sy gedagtes duidelik elders.

“Nog wyn vir jou, Milea?” vra die ouerige man aan haar linkerkant en sy knik dankbaar. Toe hy ’n gesprek met haar aanknoop, is sy maar te verlig.

Ná ete beweeg die gaste terug na die sitkamer waar nog sjampanje op skinkborde aangebied word. Die musiek verander en ’n bekende liedjie van die sewentigerjare speel. Die gaste vorm ’n sirkel om die Van der Walts en Koot neem sy vrou in sy arms. Milea neem aan dis die lied waarmee hulle die dansvloer op hulle troudag geopen het. Dis stadig en die woorde van die liedjie is diep en gevoelvol. Of sy dit nou wil toelaat of nie, dit maak ’n hunkering in haar los. ’n Diep begeerte om deur iemand bemin te word, skop in haar nes. Sy waag dit nie om in Marco se rigting te kyk nie. Sy is bang hy lees wat sy op daardie oomblik voel dalk in haar oë.

Haar lyf ruk toe Marco sy hand liggies teen haar rug druk en sy nek buig om naby haar oor te praat.

“Wil jy dans, Milea?”

Ou liefde roes nie nou beskikbaar: http://bit.ly/2mzCGbM  

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s