’n Pa vir Alexa – Alma Carstens

Jessica bly soos ’n standbeeld in die middel van die kamer staan toe Marcello die deur sag agter hom toetrek. Dis presies dieselfde kamer waarin sy jare gelede geslaap het elke keer wanneer hy haar hierheen gebring het. Sofia het toe nog in die villa koning gekraai en hulle bewegings met valkoë dopgehou. Haar weersin in Jessica was ooglopend en sy sou enigiets doen om haar oudste seun teen die uitlander uit die Suide te beskerm. Sy sou waarskynlik dieselfde gedoen het vir haar jongste seun as sy geweet het sy hart is ook in gevaar, maar haar aandag was so intens op Marcello gerig dat sy in die proses van Lorenzo vergeet het. ’n Fout wat haar later baie duur te staan gekom het.

Jessica sluk toe sy opeens aan Sofia se waaksaamheid en streng reëls van destyds dink. Sy onthou nog goed hoe vindingryk sy en Marcello soms moes wees om mekaar in privaatheid te sien sonder die ou vrou se laserkyke wat hulle oral gevolg het.

Haar oë toer oor die breë dubbelbed se koperkopstuk, rus vlugtig op die blou-en-wit porseleinballetjies om die geelkoperpypies tussen die sierlike raam en kom tot rus op die sagte matras waaroor daar nou ’n veelkleurige lappieskombers gedrapeer is.

Jessica sluit haar oë toe die herinneringe aan haar destydse kuiers op die landgoed haar sonder waarskuwing soos ’n vloedgolf tref. Hier, in hierdie kamer waarin dieselfde bed steeds op dieselfde plek staan, hoor sy meteens weer die vloerplanke kraak as Marcello laatnag by haar kamer inglip en op sy tone na die bed toe sluip, kan sy die duik in die matras voel wanneer hy langs haar inskuif, beleef sy weer eens die opwinding wat in haar opwel wanneer sy hande soekend oor haar lyf beweeg en ervaar sy opnuut die afwagting waarmee haar mond na syne gesoek het in die donker.

Haar oë vlieg oop en sy sluk droog. Hoekom het Marcello haar hierheen gebring? Is daar dan geen ander kamer beskikbaar waarin sy kon bly nie? Waarom het hy haar nie eerder na Alexa se kamer toe geneem nie? Hy moet mos weet wat dit aan haar sal doen om weer in hierdie kamer te bly. Op dieselfde bed te moet slaap as voorheen.

Haar bors dein op en neer en haar asemhaling is vlak. Die herinneringe is so sterk, dit voel kompleet asof sy hulle passievolle nagte so pas weer beleef het. Met yskoue vingers vryf sy oor haar arms en voel die hoendervleis wat oor haar vel opgespring het. Sy moet haar regruk en nie toelaat dat die verlede steeds by haar spook nie. Dis tog lank gelede en het geen betekenis meer nie. Hulle is nou ouer. En wyser. Dis net ’n kamer en net ’n bed. En sy is net ’n gas wat vir ’n paar dae in hierdie kamer gaan bly. Dis al. Dis waarskynlik wat Marcello ook dink en waarom hy haar hierheen gebring het. Dit is uiteraard die grootste en beste gastekamer in die villa.

Jessica sit haar tas op ’n lae tafeltjie neer en maak dit oop. Nadat sy haar klere sorgvuldig oor die leë hangers in die kas gehang het, pak sy die tas bo in die kas weg. Dis toe sy van die kas af wegdraai, dat sy vaskyk in die groot spieël van die outydse spieëltafel teen die muur oorkant die venster. Haar voete beweeg stadig nader na die beeld tot sy reg voor die spieëlkas staan.

Wat sou Marcello gedink het toe hy haar vandag ná so ’n lang tyd weer sien? Hy het tog sekerlik nie die jong blondekopmeisie met die vleklose vel en uurglaslyfie verwag wat destyds so holderstebolder hier weg is nie, het hy?

Sy trek haar vingers liggies deur die donkerblonde lokke wat oor haar skouers tuimel. Haar hare is nog net so lank soos destyds, maar die kleur het ná Alexa se geboorte donkerder geraak. Haar vel kan seker, weens die goeie velsorgprodukte wat sy gebruik, steeds as vlekloos beskryf word, maar die verouderingsproses is opsigtelik reeds aan die gang, veral om haar oë waar fyn plooitjies verskyn wanneer sy lag. En haar lyf . . . Jessica sug en draai ietwat skuins voor die spieël. Dit het nou sowaar nie meer die uurglasvorm van twintig jaar gelede nie, maar volgens Alexa kan sy darem steeds met ’n bikini in die openbaar verskyn.

Moedeloos gooi sy haar hande in die lug en draai weg van die spieël af. Wat maak dit saak hoe sy lyk? En wat maak dit saak wat Marcello gedink het toe hy haar weer sien? Liewe genade, waarom kan sy nie die verlede in ’n trommel indruk en met ’n slot toesluit nie? Marcello treur waarskynlik steeds oor sy vrou. Waarom anders het hy nooit weer getrou nie? Buitendien gee sy nie ’n duit om wat hy van haar voorkoms dink nie. Nie meer nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s