Leila se leeuman – Felicia Snyman

leila-se-leeuman_voorblad_high-res

“Hoe anders gaan ek ooit agterkom wat jy van my dink?”

Sy kyk hom reguit aan en iewers in haar borrel ’n waagmoed wat sy nie normaalweg ken nie.

“Jy kan vra.”

Haar gesig bly doodernstig en sy kyk hom vas in die oë. Dit is duidelik dat dit die laaste ding is wat hy verwag het, want hy huiwer ’n oomblik. Sy vraag is onseker.

“Wat dink jy?”

“Ek dink jy is nou ten minste ’n kop langer as op daardie foto en seker lag-lag tien keer aantrekliker. Ek weet nie eens of dit normaal is om spiere te hê waar jy dit het nie.”

Hy glimlag effens verleë en sy probeer die antwoord speels hou. Dit hou nie baie lank nie, want haar gevoelens vir hierdie man het ’n wil van hulle eie.

“Ek dink jy is ’n ongelooflik goeie besigheidsman met ’n wonderlike omgeehart. Ek dink jy is amper net so sjarmant en intelligent soos jou pa. Ek dink ook dat ek dit baie geniet saam met jou.”

Leila huiwer vir ’n oomblik voordat sy haar dinkery voltooi.

“Ek dink ek dink te veel aan jou.”

Haar laaste sin is sagter.

“As jy nie besig was met hierdie projek vir jou verdere studies nie, sou jy saam met Victor gegaan het?”

Sy kyk vinnig na hom. Hierdie is een van daardie oomblikke waar ’n mens doodeerlik moet wees.

“Voordat ons na die boskamp toe gegaan het, sou ek dit dalk vir ’n oomblik oorweeg het, maar op daardie oomblik, nee, ek sou nie.”

“Wat het daar verander?”

“Jy.”

Sy vermy oogkontak en voel hoe haar maag draai van spanning. Was daar al ooit ’n tyd in haar lewe wat sy so eerlik met enige iemand was? Toe sy weer haar kop draai om te sien wat hy van haar woorde dink, staan hy op.

Hy loop stadig op haar af en haar oë rek onwillekeurig.

Hy stop so naby aan haar dat die hare op haar lyf regop begin staan en sy haar kop moet oplig om na hom te kyk. Leander trek haar sag van haar stoel af op sodat sy byna teen hom staan.

Haar asem stol in haar keel. Sy aanraking in hierdie oomblik laat ’n rilling van genot langs haar rug afgaan. Sy kyk vas in sy soekende oë.

“Jy is beeldskoon. Dit vat nog die hele tyd al my selfbeheersing om nie soos ’n skoollaaitie na jou te staar nie. Dit voel onwerklik dat jy my enigsins sou raaksien.”

Leila kan nie haar oë wegneem van sy sterk gesig nie. Sy sit haar hand sag op sy kaal borskas en voel hoe haar eie vel begin brand. Leander se mond raak sag aan hare en sy trek haar asem hoorbaar in. Sy kop sak laer en hy laat sy lippe langs haar nek afgly. Hy huiwer by haar ontblote skouer.

“Leila, jy doen dinge aan my. Van daardie eerste dag wat ek jou in jou handdoek voor my sien staan het, wou ek jou in my arms neem. Jy maak iets in my wakker. Ek kan nie ophou aan jou dink nie. Dit maak my mal.”

Sy kan aan niks dink om te sê nie. Haar lyf wil sy eie taal praat. Sy lippe dwaal weer teen haar nek op en hy laat haar hare los oor haar skouers val.

Hy kyk vir ’n oomblik na haar en die kleur van sy oë verdiep soos die emosies daardeur gaan.

“Jy is so beeldskoon.”

Haar hartklop het merkbaar versnel en sy kan nie haar gevoelens meer wegsteek nie.

Sy lippe raak sag teen hare asof hy bang is hy maak haar seer. Die soen verdiep. Sy vergeet dat sy net in haar bikini is en haar arms gly om sy nek. Hy tel haar op terwyl hul soene net meer en meer passievol raak.

Hulle beweeg na binne en hy lê haar saggies op die groot rusbank neer. Sy oë gaan bewonderend oor haar lyf en sy snak na haar asem.

Sy sal in ’n leeftyd nooit genoeg kan kry van daardie blougroen kykers nie. Sy hande gly oor die rondings van haar lyf en sy reageer sag.

Haar hande gaan deur sy hare en trek sy kop weer nader. Sy mond hou hare gevange terwyl sy hande haar lyf verken. ’n Elektriese golf gaan deur haar toe sy kaal borskas aan haar raak. Die stukkies klere tussen hulle is vir haar ’n frustrasie.

Sy lippe gaan oor die oop dele van haar liggaam en sy kreun. Hy trek haar weer stywer teen hom vas en soen haar asof hy haar nie kan laat gaan nie. Asof hulle lewens van hierdie oomblik afhanklik is.

Haar lyf bewe. Die passie wat tussen hulle opvlam, is onkeerbaar. Sy weet sy moet dit stop, maar sy wil nie.

Asof hy weet wat deur haar gedagtes maal, stut hy homself op sy arm en trek haar met die ander arm nader. Passie brand smeulend in sy oë. Haar asemhaling is rukkerig en haar hart klop onbedaarlik.

“Leila, jy is perfek. Presies soos ’n fyn vlinder wat volmaak gevorm is.” Sy lippe brand weer in haar nek voordat hy vervolg: “Ek begeer jou meer as wat jy kan dink. Maar ek kan nie soos ander mans net jou liggaam begeer nie. Ek wil alles van jou hê. Ek wil alles vir jou wees, ek wil jou wys dat jy my kan vertrou om jou sag te hanteer en met respek lief te hê.”

Leila probeer haar binnekant onder beheer kry. Sy weet nie waar hy die selfbeheersing vandaan kry om so skielik te stop en hierdie woorde te sê nie.

Sy woorde laat ’n nuwe vlam deur haar trek. Dit brand sterker as die verliefdheid wat sy vir hierdie man voel.

Hy skuif effens en lyk onwillig om weg te beweeg. Sy vou vinnig haar arms om hom en sit haar kop teen sy bors.

“Moenie gaan nie. Bly net hier.”

Hy hou haar styf vas. Hy soen haar sag op haar kop en sy sug tevrede. Sy krul teen sy bors op. Hulle lê ’n paar oomblikke so in stilte en sy voel hoe hul albei se hartklop effens bedaar.

“Vertel my iets wat niemand weet nie.”

“Ek probeer my asemhaling terug na normaal reguleer en kan aan niks anders dink as die mooiste groenoogmeisie in my arms nie.”

Hy vee sag oor haar hare wat wild om haar kop lê en sy glimlag teen sy bors.

Leander van Breda is besig om die man te word vir wie sy alles sal gee.

Koop nou Leila se leeuman: http://bit.ly/2nhfrE4 Romanza-klublede spaar tot 40% op hul Romanzas!

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s