Joga versus sperdatums – Felicia Snyman

Ek het onlangs besluit om die spirituele wêreld van joga te betree. Eintlik moet ek eerder stel dat ek gepoog het om dit uit te probeer. Makliker gesê as gedaan. My vriendin het aangesluit as deel van die gim-gemeenskap − ’n sentiment wat ek onder geen omstandighede deel nie. Ek glo aan goeie gene en min fisiese oefening. Tog, het sy my met die joga-krummels gelok. So is ons die eerste keer aangetrek en gereed vir die rustigheid van joga. Gmf! Rustigheid. (Lag net gou vir ’n oomblik vir my wanpersepsie) In die films is dit hierdie mense van verskillende grotes en kulture wat in ’n grasgroen park joga doen, terwyl voëltjies fluit en die stres uit hulle verdwyn soos die gees stil raak. Die realiteit is wel … bietjie anders.

Eerstens het ek en sy baie skepties opgedaag en met groot oë na ons instrukteur gesoek. Ons werksvriende het geweldige genot daaruit geput om ons te herinner aan die joga instrukteur van ’n komedie wat in ’n walglike speedo die klas baie persoonlik aangebied het. Ons het met ’n naarkol op ons mae rond gesoek en verlig gesug toe dit ’n vrou is. En net vir die rekord sy was bekoorlik geklee in netjiese drag. Daar sluip ons in, gooi ’n joga-mat en val met oorgawe weg. Ek dog ek is dood.

Die bewegings is glad nie so eenvoudig soos dit voorkom nie. Dit is balanseer en asemhaling. Strek, buig, krul en leun. Die dame roep bewegings uit en die res van die klas volg byna moeiteloos. My enigste troos deur die inspanning van pynlike spiere is dat my vriendin ook voorkom asof sy sukkel. Aan my anderkant is daar egter ‘n oom van ’n 104 jaar oud. Oukei, dit is bietjie oordryf, hy is omtrent 90. Wel, miskien laat sewentigs. Die punt is: ’n ouer man van drie keer my ouderdom voer die joga bewegings grasieus uit. Sy konsentrasie is foutloos en mens kan sien dat die energie kalmerend deur hom voel. ’n Ware legende. Dit laat my nog meer soos ’n onfikse amateur voel. Teen die einde van die klas was ek my ma innig dankbaar dat sy my (met die plathand) gemotiveer het om my balletklasse te voltooi. Dit het my reputasie net-net uit die modder gehou.

Hier teen die einde van die les moet mens diep asemhaal, arms uitstrek en in bid-hande voor jou hart vou, daarmee saam word ons aanbeveel om ons liggame te bedank vir dit wat dit vanaand vir ons gedoen het. Pff! My liggaam het geen bedanking verdien nie, dit het my lelik in die steek gelaat deur te bewe soos ’n riet, terwyl ek die Titanic- beweging met een been in die lug probeer uitoefen het. Jy, liggaam, sal gestraf word met ’n glas wyn!

7c9792a46de0ffbb92fe748dfb224137

Ons tweede klas het heelwat beter afgeloop. Dit het ons onverdiende moed en arrogansie gebied. Dit is die derde klas wat egter ons twee se flentertjie selfvertroue finaal geknak het. Meestal omdat ek myself gebreek het van die lag. My vriendin is piepklein en die dag besluit die dame ons moet op reuse oefenballe hierdie ondoenbare joga-bewegings uitvoer. Dit is planking, down dog en warrior. Die naaste wat ek aan ’n kryger gevoel het as toe ek uiteindelik my balans kon hou om my voet agter my kop vas te hou. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde. Ons volg die instruksies en wend ’n daadwerklike poging aan om die posisies in te neem. Dit is egter ’n onmoontlike taak vir my vriendin en sy rol rond soos ’n skilpad wat op sy dop beland het. Ek kan eenvoudig nie my lag hou nie en gevolglik is my pogings maar power. Ek kom vinnig agter dat ek nie in staat is om my balans te hou solank as wat ek nie konsentreer en fokus behou nie. ’n Selfsugtige idee as mens dink daar is ’n skreeusnaakse rondrollertjie reg langs jou in die klas.

Die koeël was deur die kerk toe die vrou wat glo elke beweging sonder enige inspanning kan uitvoer, aandui dat ons ’n beweging moet doen waar ons met net ons hande op die grond druk en ons boude van die grond af lig. Say what?! Het almal gelees – net my hande. Um… nee. Ek het net daar plat op my alie gaan sit en kliphard gesê “nee”. Ek is finaal op. Op soos ou brood.

Tydens hierdie onbeholpe penarie waarin ons onsself bevind het, bedink ek die stand van sake in my besige lewe. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat joga baie soos sperdatums is. Die mallemeule van die gejaagde lewe kan aanklank vind by die “rustigheid” van joga. Indien ’n onbereikbare (volgens jou) sperdatum (of selfs beproewing) mens in die gesig staar, dink daaraan soos ’n ondenkbare joga-beweging. Met goeie voorbereiding en vasbeslotenheid is jy in staat tot enige iets. Met mens se oë gerig op ‘iets’ standvastig kan jy nie jou balans verloor nie. Net soos in joga moet mens egalig asemhaal, gedagtes skoonmaak en fokus op die doel voor oë.

Die volgende keer wanneer jou sperdatums wink en op pad is om verby te gaan, terwyl jy magteloos, moeg en bewende (ek in joga-klas) begin waai – rig jou blik op ’n vaste bron en fokus op die taak voor hande. Vra vir hulp, om dit reg te doen, eerder as om seer te kry. En balanseer jou lewe.

Moenie net ‘nee’ sê, voordat jy ten minste probeer het nie. Daar lê veel meer krag in jou (arms) as wat jy oorspronklik gedink het daar is.

Felicia se jongste boek, Bosveldliefde, is nou beskikbaar: http://bit.ly/2l72ifn

Advertisements

One thought on “Joga versus sperdatums – Felicia Snyman

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s