Om haar pinkie – Didi Potgieter

Vies vir homself parkeer Willem sy bakkie die volgende oggend voor MC’s, Melissa se winkel. Hy moes eintlik nou besig gewees het om klaar te pak. Hy vlieg immers vanaand Johannesburg toe. Daar is nie vandag tyd hiervoor nie en as daar tyd was, sou hy baie ander dinge kon doen eerder as om agter ’n vroumens aan te ry.

Maar hy kan nie oorsee gaan met dinge tussen hom en Melissa soos dit is nie. Hy was verkeerd en hy was nog altyd mans genoeg om te erken as dit gebeur. Die oomblik toe Willem by die deur instap, besef hy dat daar niks anders is wat hy eerder sou wou doen nie. Nie met Melissa wat so opreg vir een van haar klante glimlag nie. Toe sy hom sien, verdwyn die glimlag egter, wat hom van voor af soos ’n wurm laat voel.

“Hi.” Sy stem klink vreemd.

“Hi, wat maak jy hier?”

Hy wonder self, wil hy antwoord. Sy is tog groot genoeg om na haarself om te sien. Dit was nie nodig om spesiaal te stop vir ’n vervlakste broodjie nie. Maar hy het, daarom sit hy die pakkie op die toonbank neer as antwoord. “Middagete.”

“Hoekom?”

“Jy het nie gisteraand of vanoggend geëet nie.”

“Dankie, maar . . .”

“Ek is jammer,” wurg hy dit uit. “Ek het nie bedoel wat ek gister gesê het nie. Jy is nog my vriendin en die soen het dit nie verander nie . . . al was dinge stram.”

“Oukei.”

“Ek is ook jammer oor Saterdag.” Dit kom darem makliker. “Ek kon sien jy het baie moeite gedoen, en ek het my soos ’n buffel gedra.”

“’n Buffel?”

“Met ’n seer tand. Die steak was heerlik, regtig.”

“Dankie.”

“Ek bedoel dit, Melissa. Jy is welkom in my huis . . . en in my kombuis.” En in my lewe, sê hy amper by, maar keer die woorde net betyds.

“Ek wil op niemand se tone trap nie.”

“Jy sal nie. Behalwe dalk my huishulp, Rebekka, maar sy is nie iemand wat sommer op haar tone laat trap nie.”

“Ek sal my bes probeer om nie haar werk meer te maak nie.”

Willem hou haar dop terwyl sy die pakkie op die toonbank oopmaak. Haar glimlag laat hom van voor af bietjie onvas op sy voete voel en skielik is die winkel te klein vir hom. “Ek sal moet gaan. Ek moet sesuur by die lughawe wees en ek het nog baie om te doen.”

“Vat iemand jou weg?”

Hy knik. “Hulle kom laai my op.”

“O oukei, dan groet ons maar.”

“Totsiens.” Tog kry hy nie sy onvas voete om dadelik te beweeg nie. As die twee vroue by die oorkantste rak wat hul so onderlangs dophou, net wil uitgaan, kan hy haar ordentlik groet.

Melissa gee hom egter nie kans om te wag nie. Stap net tot voor hom en soen hom sag op die mond. “Pas jouself mooi op.”

Sonder om te dink aan die toeskouers, trek hy haar nader. Sy hande gaan onder die krulle in om haar kop nader te trek. Dan eis sy mond hare op. Sy proe soos somer, soet en perfek, presies soos hy onthou. Selfs die dag ná Lindi en Hannes se begrafnis, toe alles koud en dood gevoel het, was dit sy belewenis van haar. Toe sy brein egter weer bewus word van die ander mense in die winkel, staan hy terug. “Jy ook.”

Sonder om terug te kyk, stap hy bakkie toe. Met sy hande op die stuurwiel sit hy ’n oomblik roerloos.

Goeie hemel, wat het hy nou weer aangevang?

uitgawe-1

RomanzaLiefde 1 beskikbaar: http://bit.ly/2lqo01M

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s