Dans met ’n stiervegter – Trudy Reinhardt

dans-met-n-stiervegter_voorblad-high-res

Haar woorde laat die groot held van die Spaanse arenas skaterlag. Dis die allermooiste klank wat sy nog ooit by enige man se mond hoor uitkom het. Sy blik gaan ooglopend belangstellend oor haar skouerlengte blonde hare voor dit sonder skroom tydsaam afwaarts dwaal tot by haar ligpienk geverfde toonnaels in oop plat sandale. Tahlia voel hoe die blos wat van haar hals na haar wange kruip haar nog warmer laat kry as wat die drukkende 40 grade Celsius van Barcelona reeds veroorsaak. Skaam is hierdie Alejandro Escribano beslis nie.

“Ons baklei nie met ons bulle nie,” weerspreek hy haar toe sy byna swart oë uiteindelik direk in haar bloues kyk. “Ons veg teen hulle,” grinnik hy.

“Sí, en vanaand is die grootste geveg van die jaar. Die kampioenskap,” laat sy bestuurder trots hoor.

“Oe, dis opwindend,” jubel Anna-Marie. “Kom julle, staan hier by my en Alejandro vir ’n foto.” Sonder om te vra, druk sy haar kameratjie in Manuel se hand. “Of, nee wag,” verander sy blitsig van mening. “Aparte foto’s,” kondig sy aan en pluk onseremonieel die kamera uit die man se hand. “Elkeen van ons op ons eie saam met hierdie opeetbaar pragtige man.”

Voor Tahlia kans kry om ’n sug van verligting te slaak oor haar voortvarende vriendin haar siening van Alejandro Escribano genadiglik in Afrikaans uitspreek, herroep Anna-Marie die woorde wat hulle die vorige aand laggend in ’n restaurant gebruik het met die hulp van ’n sakwoordeboekie.

“Delicioso,” hoor Tahlia haar sê, “muy delicioso.” Heerlik, baie smaaklik.

Dis alles goed en wel om tevredenheid oor ’n seekospaella aan ’n kelner met daardie woorde oor te dra. Dis egter verregaande om dit vir ’n wildvreemde stiervegter te sê. Hom te laat klink na ’n dis op ’n wit bord wat met ’n mes en vurk aangedurf kan word. Anna-Marie staan egter reeds styf teen die man en Madeleine, in wie se hand die kamera beland het, kliek laggend.

“Jou beurt,” pluk sy oomblikke later vir Tahlia aan die arm nader. “Dit gaan ons kosbaarste aandenking van Spanje wees,” verseker sy ingenome.

Die geamuseerde stiervegter se arm gaan vrypostig om Tahlia se lyf. Sy wil haar loswikkel, maar laat die gedagte vaar toe ’n subtiele geur van speserye en sitrus haar neusvleuels binnedring. Hy ruik eksoties en sy soel gelaat laat hom ook so interessant anders en aantreklik vir haar Suid-Afrikaanse oë lyk. Sy arm is ligweg om haar rug gevou en sy loer vlugtig af na sy hand wat gemaklik op haar kaal boarm rus. Lang, welgevormde vingers, goedversorgde naels. Dis lekker om hom teen haar te voel. Sy gee eintlik glad nie om om vir ’n hele ruk net so te bly staan nie.

“Kyk vir die kamera, Tahlia,” ruk Madeleine se woorde haar terug na die oomblik. Sy glimlag verleë in die rigting van die lens. Wat op aarde het haar ’n prentjie van ’n blou oseaan en ’n wit strand laat sien waar daardie hand verleidelik sonbrandolie oral oor haar vel smeer? Seker die speseryreuk wat hom ligweg omgewe.

“Ta-lee-aah,” spreek hy sag die naam uit wat hy haar vriendinne hoor gebruik. Op sy tong klink dit asof dit ’n vreemde smaak is waaraan hy proe- proe gewoond moet raak. Het enigeen al ooit haar naam so mooi laat klink?

Die rilling wat die beweging van sy hand op haar arm deur haar liggaam laat skiet, laat Tahlia vinnig wegtree. Sy is opnuut verbysterd oor die effek wat die stiervegter se voorkoms, stem en nabyheid op haar het.

“Jou beurt,” beduie sy vir Madeleine.

Terwyl Anna-Marie die kamera laat kliek, praat die twee mans met mekaar. Wat dit ook al is wat Alejandro vir sy bestuurder sê, is ooglopend nie iets wat Manuel se goedkeuring wegdra nie. Hy skud sy kop.

“No, no.”

“Sí, sí,” gaan die stiervegter hom teë en draai na die drie meisies. “Tahlia, ek wil vir julle kaartjies gee om vanaand na die geveg te kom kyk,” verduidelik hy in perfekte Engels. “Manuel sê egter julle weet niks van matadors nie en sal nie belangstel nie?”

“O nee, Manuel maak beslis ’n fout. Ons stel definitief belang,” verseker Anna-Marie hom entoesiasties.

“Gee die kaartjies en ons is daar,” laat Madeleine ewe ingenome hoor.

“Ek wil nie na sulke bloeddorstige goed gaan kyk nie,” mompel Tahlia onderlangs in Afrikaans.

Alejandro kyk vraend na haar. “Jy wil nie gaan nie?” Haar stemtoon en houding het ooglopend haar gevoel verklap. Sy gesigsuitdrukking spreek van verbystering. Dit gaan skynbaar sy verstand te bowe dat enige regdenkende mens nie dadelik so ’n gulde geleentheid wil aangryp nie.

“Wel, ek vermoed dit gaan wreed wees,” verduidelik sy. “Dit klink vir my na dieremishandeling.”

“Dis ’n baie ou tradisie wat reeds in die antieke Romeinse tye beoefen is,” verweer hy vinnig.

“Wat dit steeds nie aanvaarbaar maak nie,” val Tahlia hom vinnig in die rede.

“Ag tog, Tahlia, jy kan nie besluit oor iets wat jy nog nooit aanskou of beleef het nie,” tree Anna- Marie haastig tussenbeide. “Dankie, Alejandro, gee vir my die kaartjies. Ons wil graag gaan kyk.” Sy steek haar hand vrypostig uit na Manuel wat sy aktetas traag oopknip. Hy oorhandig twee kaartjies aan Anna-Marie asof dit goudstawe is.

“Nog een,” beveel Alejandro. “Dalk verander Tahlia van mening.” Hy kyk stip na haar.

“Ja, dalk,” knik sy om nie aanstoot te gee nie en verbreek vinnig oogkontak met hom.

“Kom, Alejandro,” laat hoor Manuel in ’n bevelende toon, “jy moet gaan rus. Daar wag ’n groot aand op jou.”

“Sí, sí,” laat Alejandro hom die opdrag welgeval. “Ek hoop ek sien julle daar,” sê hy met oë wat opnuut in Tahlia s’n boor voor hy omdraai en met ’n fier liggaamshouding na die hotel se ingang stap. Manuel volg kort op sy hakke asof hy hom so gou as moontlik van die drie meisies af weg wil kry.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s