Ek het jou lief – Mari Roberts

ek-het-jou-lief_voorblad-high-res

Tessa sluk ’n slag en haal diep asem voordat sy sag sê: “Ek sal nie huis toe kan kom nie.”

“Vir wat nie?” Sy hoor die teleurstelling in haar ma se skril stem en Tessa byt saggies op haar onderlip. Sy kan haar ma se reaksie heeltemal begryp, want sy het al so baie verskonings in die verlede aangevoer om nie huis toe te gaan nie dat Sandra dit seker verwag het. Die ironie is dat Tessa hierdie keer werklik graag eerder tuis saam met die familie wil kuier as om hier in die Spookhuis te bly.

Die familie of Roux? treiter ’n stemmetjie haar en sy klem die gehoorstuk stywer vas.

“Die pas het toegesneeu en ons sit vasgekeer hier,” verduidelik sy, maar haar verskoning klink vir haar ook maar flou.

“Ag nee.” Sandra probeer dit wegsteek, maar Tessa voel haar teleurstelling aan.

“Nie een van die onderwysers wat in Geelstertvlei woon, kon die hele week deurkom nie.” probeer sy haar ma van die erns van die saak oortuig, maar dit voel eerder of sy dit net vererger. “Ek is jammer, Mamma.”

“Dit is orraait, ek verstaan.” Maar of Sandra regtig verstaan, twyfel Tessa, veral omdat haar ma se stem maar baie dun klink.

“Roux het aangebied om my saam te bring huis toe, maar nou sal hy nie kan deurkom nie. Sal Ma asseblief vir hom sê?” vra Tessa.

“Roux sou jou kom haal het?” Die flikkering van nuuskierigheid in haar ma se stem laat Tessa onmiddellik spyt voel dat sy dit genoem het.

“Ja,” sê sy en groet dan oorhaastig met die verskoning dat meneer Sterling iemand wil skakel, want sy weet hier kom ’n inkwisisie waarvoor sy nie kans sien nie.

Sy voel nie so teleurgesteld omdat Roux ook daar gaan wees nie, probeer sy haarself ergerlik oortuig toe sy heelwat later opgekrul in haar bed lê. Sy wou regtig graag by haar ma gewees het op haar vyftigste verjaarsdag. Dit is ’n spesiale dag en Arnold sal ook nie hier wees nie.

Vrydagoggend breek helder en wolkloos aan. Dit is asof die berge rondom die skool asemhaal en die natuur ondanks die koue ’n malse vreugde uitstraal. Die gevoel word deur almal in die skool opgeslurp en die seuns is glad nie lus vir die klaskamers nie. Hulle is so uitbundig en rusteloos dat meneer Sterling ná eerste pouse afkondig dat almal eerder buite moet gaan speel as om verder skool te gaan. Tessa wil eers in die klas agterbly, maar dan hoor sy Manie in die gang praat en sy spring op en vlug agter die kinders aan. Sy is sommer vies vir haarself. Sy sal iets moet doen want Manie is besig om haar lewe in ’n tronk te verander.

Sy bly in die nabyheid van Theo wat net so laf soos die kinders is en saam met hulle in die sneeu rondrol. Iemand maak ’n video oor die klomp se onblusbare energie en lawwigheid terwyl omtrent die hele personeel toekyk. Tessa steek haar hande diep in haar baadjie se sakke.

“Kom, Tessa!” roep Theo knielend in die sneeu met arms wyd oop. “Voel die son, my girl!” Die volgende oomblik duik een van die groter seuns hom met ’n gil om. Theo seil soos ’n paling onder hom uit en dan tref ’n handvol sneeu hom vanuit ’n ander rigting vol in die gesig. Die uitdrukking op sy gesig is so komieklik dat almal uitbars van die lag. Hy herstel gou van die verrassingsaanval en met min aanmoediging bars ’n sneeugeveg tussen die onderwysers en die kinders los. Dit is net Manie wat eenkant bly staan, veilig, sodat niemand hom raakgooi nie.

Tessa se hare hang later in nat toue en sy gil van plesier toe ’n sneeubal haar vol in die gesig tref. Sam, self nie meer die netjiese juffrou wat Tessa leer ken het nie, probeer weghardloop maar dan tref ’n sneeubal haar tussen die blaaie sodat sy soos ’n boom wat afgekap word vooroor tuimel en gesig eerste in die sneeu land. Tessa lag so vir die oorblufte uitdrukking op Sam se gesig toe sy regop kom dat sy amper nie asem het nie.

Die malse speelsheid kom tot ’n vinnige einde toe ’n helikopter laag oor die skool sirkel en eers ’n ent vlieg voordat dit met ’n wye draai op die verste punt van die rugbyveld neersak. Tessa se arms val slap langs haar sye toe sy die logo van die goue arend op die donkerblou deur herken. Sy staan soos ’n standbeeld en kyk na die landing en hoe die rotors al stadiger draai toe die enjin afgeskakel word. Toe bars pandemonium rondom haar los.

“Dit is awesome!” snak van die jonger seuns.

“Wie is dit?” wonder ’n ander hardop en hulle opgewondenheid is voelbaar.

Tessa kan haarself steeds nie sover kry om te beweeg nie. Hy het sowaar gekom, sing die besef deur haar. Sy steek haar koue hande weer in die baadjie se sakke terwyl die opgewonde gepraat van haar kollegas en die seuns rondom haar ’n veraf gemurmel word. Sy sien hoe van die seuns na die helikopter storm waar dit sowat twee honderd meter verder staan.

“Wie is dit?” vra Sam en vee haar hare uit haar oë. Haar wange is rooi van die koue en haar oë blink so helder dat Tessa vir ’n oomblik vergeet van die helikopter en haar verkyk aan die meisie langs haar. Sy lyk so gelukkig, besef Tessa verwonderd. Sy het nie so gelyk toe sy hier gekom het nie. Maar die gedagte is vlietend, want haar oë word soos ’n magneet na die helikopter getrek waar Roux uitklim en vir ’n oomblik stilstaan en eers die seuns se talle vrae beantwoord.

Sy sterk manlikheid hou Tessa gevange. Hy is selfs aantrekliker as drie jaar gelede, besef sy met ’n skok. Die lyn van sy breë skouers is selfversekerd terwyl hy nader stap met die seuns in ’n sirkel om hom. Die donkerbril verskans sy oë en die swart kuif hang deurmekaar oor sy voorkop. ’n Fyn glimlaggie krul om sy mondhoeke, wat seker as gevolg van die opmerkings van die seuns is. Hy lyk ontspanne, sy treë gemaklik, rustig. Die jeans sit aan sy lenige liggaam asof dit spesiaal vir hom gemaak is en die parka laat hom groter lyk.

“Middag,” groet meneer Sterling en vryf sy hande koulik teen mekaar. Hy was nie by toe hulle netnou ’n sneeugeveg gehou het nie en moes dus bitter vinnig hierheen gekom het, dink Tessa geamuseerd. “Ek is meneer Sterling, skoolhoof van Zamani. Waaraan het ons die eer van jou besoek te danke?”

“Goeiemiddag. Roux Kielblock.” Roux steek sy hand na die skoolhoof uit. Hy toring behoorlik bokant die korter man uit. “Ek moet een van jou personeellede kom optel.”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s