Die professor en die beterweter – Malene Breytenbach

die-professor-en-die-beterweter_voorblad-high-res

Hy het seker rede om hom slim te hou. Hy is ’n ingenieur met sy eie maatskappy maar Egipte fassineer hom so dat hy kom inskryf het vir ’n meestersgraad oor die vroulike farao, Hatsjepsoet, onder professor Kallie Viljoen. Wanneer hy sy ver­skyning gemaak het om met die professor te kom “gesels” (eintlik om te stry) het hy hom by hulle tuisgemaak asof hy een van die personeel was. Sommer saam tee gedrink in die teekamer. Hy was onmoontlik om te ignoreer, hoewel sy hard probeer het om hom te vermy. Die ander vroumense en die studente het hom aangegaap en met hom gesels as hulle kon.

“Het jy nie iewers werk om te gaan doen nie?” het sy eendag parmantig vir hom gevra toe hy hom­self weer in die teekamer tuisgemaak en daar sit en lees het nadat teetyd verby was. Sy houding van meerderwaardigheid het haar angel laat uitkom.

“Ek hét ander werk waarmee ek my daaglikse brood verdien, maar my sake is uitgesorteer en ek neem tyd af vir my studie,” het hy haar uit die hoog­te meegedeel. “Ek was lank genoeg ’n tegnokraat en nou wil ek my kulturele belangstellings volg. Julle sal my maar net moet verduur, en dalk nog die vol­gende paar jaar in my bakkies vaskyk.”

“Die man is moeilik en hy stry baie met ’n mens, maar hy is eenvoudig briljant,” het prof Kallie haar vertel. Dit was sy laaste nagraadse student voordat hy aftree en hy het die man met fanfare deurgesit. Summa cum laude.

Sy het die dag by die gradeplegtigheid tussen die akademici op die verhoog gesit en kyk hoe Anton Bredell, lank en onmoontlik aantreklik in sy swart toga, die eerste van die MA’s by die verhoog opstap om deur die rektor gekap te word, want hy het mos met onderskeiding geslaag. Hy was langer as die registrateur wat sy band omgehang het. Langs haar het die vroulike professor in Engels hoorbaar gesê: “What a dish.”

Ja, watter dis. Maar moeilik om te hanteer. En s’y sal hom seker van nou af moet hanteer, want prof Kallie is weg, Anton Bredell wil sy doktorsgraad in Egiptologie behaal en prof Kallie het hom na haar verwys. Sy maak haar reg vir bekgevegte en kri­tiek. En beterweterigheid.

Daar is ’n klop aan haar deur. “Binne,” sê sy hard en bly sit.

Die deur gaan oop en die lang man, wat om­trent die ruimte verdwerg, kom in. Hy glimlag vir haar, sy tande wit en eweredig. Hy dra jeans en ’n geruite blou hemp wat oor breë skouers span. Swart baardskaduwee is sigbaar onder sy soel vel. Eintlik is sy kakebeen effens te prominent en dit laat hom vasberade lyk. Of koppig. Sy oë, wat ge­woonlik grys is, is vandag blouer weens sy blou hemp.

’n Man kan nie elke dag vir so ’n beeld in die spieël kyk wanneer hy skeer en nié ydel wees nie. Hy verwag natuurlik om haar sommer gou-gou mak te kry en uit sy hand te laat eet.

Jy moet my nie onderskat nie, meneer Bredell, dink sy terwyl sy vir hom ook glimlag. Ek is nie ie­mand wat maklik vir enige man val nie.

“Môre, meneer Bredell. Kom sit gerus.”

“Môre, Proffie. Dankie dat jy my op kort kennis­gewing sien. Ek het net ’n uur vir praat, dan moet ek weer teruggaan kantoor toe.”

Kantoor, het sy nog by professor Viljoen verneem, is Bredell, Meintjies en Roos, Siviele Ingenieurs, in Kaapstad. Dat hy die verkleinwoord “proffie” ge­bruik, steek haar dwars in die krop.

“Ek sal dit waardeer as jy my professor sal noem en nie proffie nie,” sê sy kil. “Ek glo nie jy sal ’n manlike professor so noem nie.”

Hy gaan sit oorkant haar en stoot sy promi­nente ken vorentoe. Dit dui aggressie aan, dink sy. Hy grinnik egter spottend. “Goed dan, Proféssor, ek sien ek het hier met ’n feminis te doen wat sensi­tiewe tone het. Jammer as ek daarop getrap het.”

“Ek sal myself nie ’n feminis noem nie, me­neer Bredell, maar ek dink ons moet wedersydse respek toon en ek hou nie van ’n verkleinerende aanspreekvorm nie.”

Sy kook van binne en dit slaan warm op haar wange uit. Sy sien hy kyk daarna en hy lyk geamu­seerd.

“Natuurlik,” sê hy sedig. “Ekskuus. Jy stel jy dit so hoogdrawend maar ek wil nie van die begin af op die verkeerde voet met jou wees nie.”

Sy klem haar hande saam. Hanteer die man met kalmte en grasie, Karin Kaltwasser, vertel sy haar­self. Jy het geweet waarvoor jy jou inlaat. “Jy wil glo jou doktorale studies aanpak, meneer Bredell.”

Hy sit vorentoe, die spot weg. Nou lyk hy gees­driftig en sy oë blink soos damme onder ’n blou hemel. Vervlaks, moet die man so aantreklik wees?

“Jy weet, ek het vir prof Viljoen gesê ek het suk­ses in my ingenieursloopbaan behaal, maar daar is ander dinge wat ek ook wil doen. Toe my vrou drie jaar gelede dood is, het ek besef die lewe kan kort wees, en as ek nie daardie dinge aanpak nie, is my lewe armer. Ek stel intens in Egipte belang. Het nog altyd. Ek kyk alle programme op DStv daaroor en ek google en YouTube en alles. Toe laat hy my wragtig toe om ’n M onder hom te doen. Man, dit was die lekkerste ding wat ek nog gedoen het. Ek het Egipte toe gegaan en die tempels en grafte bekyk. Hatsjepsoet het my so gefassineer. Die vroulike farao wat soos ’n man opgetree het. Sy moes selfs ’n vals baard en mansklere dra en so aan, an­ders het sy net nie die statuur gehad om te regeer nie.”

Hy grinnik vir Karin. “Iets soos jy.”

“Ekskuus?” Sy gluur hom aan. Beweer hy dalk dat sy mannetjiesagtig is, of dat sy haar soos ’n man gedra? Moet sy nou wragtig dié vermetele man se studieleier word? Sy wou hom net jammer kry oor sy vrou se dood, toe versondig hy haar weer.

Advertisements

One thought on “Die professor en die beterweter – Malene Breytenbach

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s