Haar storieboekheld – Cheryl Rogers

haar-storieboek-held_voorblad_high-res

Hulle ry deur Naxos-dorp se strate. Bobbi verkyk haar aan die argitektuur. Baie van die geboue is wit met blou aksente – blou deure, blou vensterrame en blou hortjies. Die plek is mooier as wat sy gehoop het dit sou wees. “Ek sal vir altyd hier kan bly,” sug sy droomverlore.

“Bly asseblief hier!” Tania klink opgewonde. “Dit sal wónderlik wees.”

“As dit maar so maklik was.”

“Dis makliker as wat jy dink. Ons moet net vir jou die regte jong Griek aankeer. Ek het al ’n hele paar troues op die eiland bygewoon, en glo my, na m’y troue gaan jy ook ’n Griekse troue wil hê.”

“Dit sal die dag wees,” antwoord Bobbi. “Jy kry my nooit weer voor ’n kansel nie.”

“Dis wat jy nou sê.” Tania draai die bakkie behendig by ’n smal systraatjie in en hou voor ’n ewe smal dubbelverdiepinghuis met blou balkonrelings stil. Toe druk sy die bakkie se toeter.

’n Man met blonde hare verskyn vlugtig op die balkon. Hy lag en waai vir hulle. “Ek kom nou.”

Dit voel of iemand Bobbi se wind uitslaan. Slegte herinneringe spoel oor haar soos ’n onverwagse fratsgolf. Vir ’n oomblik het sy gedink dis Kyle daar bo op die balkon, maar haar gesonde verstand verseker haar dit kan nie hy wees nie. Kyle is duisende kilometer hiervandaan.

“Wat doen ons hier?” wil sy weet. Sy probeer haar stem kalm hou, al voel sy glad nie kalm aan die binnekant nie. Wat is die kans dat sy ’n man op ’n Griekse eiland sal raakloop wat net soos Kyle lyk? Moet die spoke van die verlede haar agtervolg waar sy ook al gaan? Dan het hy boonop in Afrikaans ook nog geantwoord. Hy is dus nie eens van hier nie!

“Ons laai vir Marko op.”

“Marko?” Bobbi se stem is hees. Kan Tania nie sien die man lyk net soos Kyle nie?

“Marko is my neef,” antwoord Tania.

’n Deur op die straatvlak gaan oop. Marko kom te voorskyn. “Baai,” roep hy oor sy skouer voor hy tot by die bakkie draf.

’n Mooi donkerkopvrou steek haar kop by die deur uit en roep in Engels agter hom aan. “Kom gou weer!”

Hy lag in haar rigting en wuif vrolik terwyl hy die bakkie se passasiersdeur oopmaak.

Eers toe sy lenige lyf halfpad in die bakkie is, besef Bobbi sy sal moet opskuif om vir hom plek te maak. Die man is nie van plan om agterop te ry nie. Sy vervies haar vir die reëling. Vir wat kan sy en Tania nie alleen terugry na haar ouma-hulle toe nie? Sy het geen begeerte om met ’n vreemde man oor koeitjies en kalfies te gesels nie; nog minder het sy lus om langs een ingeprop te sit wat haar so sterk aan Kyle herinner.

“Hallo, ek is Marko,” glimlag hy toe hy sy sit kry. Hy steek sy hand na haar toe uit.

Hy lyk eintlik glad soos Kyle nie, besef Bobbi terwyl sy sy hand skud. Dis net die blonde hare wat op ’n afstand die illusie skep. Kyle het nie sulke mooi kuiltjies nie, en Marko se ken is meer hoekig. Daarby is sy oë groen met bruin strepies, en nie eens amper blou soos die oë wat sy onthou nie. “Ek is Bobbi,” antwoord sy.

Sy bepaal dadelik weer haar aandag by die straattonele voor hulle. Haar lyf brand waar dit teen syne druk, want sy sit nie gewoonlik so styf teen mans wat sy nie ken nie.

“Marko was op reis deur Europa toe hy besluit het om in te val vir my troue. Wát ’n meisie nie moet doen om haar goeie ou neef te siene te kry nie,” sug Tania spottend.

“Ek kan mos nie jou troue mis nie, en buitendien, ek was in die omgewing.”

“Nederland is beswaarlik in die omgewing.”

“Een van jou Suid-Afrikaanse familielede moet darem hier wees om jou voete op die grond te hou; netnou begin jy glo jy is ’n volbloed Griek.”

“Ja, whatever. Ek is net bly jy het besluit om te kom.”

“Jou ouma en oupa is seker ook baie bly om jou te sien,” merk Bobbi op.

“O . . . nee, Yiayia en Papouli is nie my ouma en oupa nie, alhoewel hulle my soos hulle bloedeie kleinseun behandel. Ons twee se ma’s was susters,” beduie Marko na Tania en homself. “Ons deel ’n stoere Afrikaanse ouma en oupa wat in die Karoo geboer het. Hier langs jou sit ’n opregte boerseun. Ek kan my voorsate tot by die middel 1800’s terugspoor, en hulle is almal aan die suidpunt van Afrika gebore. Ai, wat ek nie sou gee vir ’n bietjie Griekse of Italiaanse bloed nie, maar helaas.” Hy sug gemaak teleurgesteld en lag toe. “Maar dit keer my nie om ’n wêreldreisiger te wees nie.”

“Marko blog oor sy reise en hy is besig om ’n Europese reisgids te skryf,” vertel Tania trots. Sy trap skielik rem toe ’n hond oor die pad hardloop. “Hy is ook die beste fotograaf wat ek ken. Ek vertrou niemand anders met my troufoto’s nie.”

Bobbi knik haar kop meganies. “Dit klink interessant.”

“Regtig? Jy lyk nie juis geïnteresseerd nie,” sê Marko.

“Jammer.” Sy glimlag verleë. “Ek was ingedagte. Jy moet vir my jou blogadres gee sodat ek kan gaan kyk wat jy alles skryf. Ek sal nie omgee om ’n wêreldreisiger te wees nie.”

“Bobbi skryf ook,” kondig Tania aan. Sy snak na haar asem toe Bobbi haar met die elmboog in die sy pomp.

“Is dít so?” Marko klink nuuskierig. Hy kyk indringend na Bobbi. Sy gesig is naby hare en uit die hoek van haar oog kan sy sien hoe hy haar gelaatstrekke bestudeer. “Wat skryf jy?”

“Sy skryf liefdesverhale,” blaker Tania dit uit voor Bobbi ’n kans het om te antwoord.

Bobbi voel hoe haar wange warm word. Vir wat is sy altyd so verleë as mense uitvind sy skryf liefdesverhale? Dalk oor dit ’n yslike klug is? Perfekte heldinne en perfekte helde bestaan net in stories en daar is nie regtig iets soos ’n happily ever after nie. Die regte lewe is nie soos ’n liefdesverhaal nie, dis vol teleurstellings en uitdagings. Sy behoort te weet.

Beleef Bobbi se hele Griekeland-advontuur vir slegs R85 of spaar bykans 40% as Romanza-klublid: http://bit.ly/2jRLEUk

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s