Bosveldliefde – Felicia Snyman

bosveldliefde_voorblad_high-res

“Wat het met jou ma gebeur?”

Sy woorde is sag. Ellanné kyk vinnig na hom en weer na haar koffie. Sy is nie nou sterk genoeg om daaroor te praat nie. Stephan leun effens vorentoe en begin rustig gesels.

“My name is Stephan Enrico Tredoux. Ek is die jongste van drie seuns. Albei my broers bly in die buiteland en ek sien hulle omtrent net een keer ’n jaar. My oudste broer glo hy is die slimste, my middelste broer is glo die rykste, so argumentshalwe gaan ek sê ek is die aantreklikste.”

Sy giggel vir sy opmerking en wonder heimlik of dit nie dalk die waarheid is nie. Dit is net vir haar onmoontlik dat sy broers mooier as hy kan wees. Hulle sal dan gode moet wees, en dit kan nie wees nie.

“My ouers is steeds getroud en toer die wêreld deur. Die voordele van afgetree wees. Ek het studeer om ’n veearts te wees en dit is my passie. Ek geniet my werk elke dag. Jy weet reeds wat het gebeur met my vorige vennoot, so ek het innige simpatie met jou situasie. Ek het die plaas van my oupa geërf en hoor dit elke dag by my broers, alhoewel hulle elkeen ’n strandhuis gekry het. Ek dink persoonlik hulle is beter af. ’n Huis het nie reën, drade, diere en honderd ander dinge nodig nie. O ja, en ek is drie en dertig.”

Ellanné glimlag breed. Dit is die beste ding wat hy kon doen. Hy is eintlik ’n wonderlike mens. Hy het nou wel nie dadelik reageer nie, maar sy tydsberekening was goed. Haar uitdrukking word weer ernstig en sy praat vinnig.

“My ma is oorlede in ’n motorongeluk.”

Sy vee gefrustreerd ’n onwillekeurige traan af. Dit raak nog steeds nie makliker om dit hardop te sê nie. Haar ma was haar beste vriendin, haar beskermer, hulle het alles saam gedoen. Sy skrik toe Stephan skielik voor haar staan en haar optrek. Sy is verstar. Hy steur hom duidelik nie aan haar stokmannetjieposisie nie en vou haar eenvoudig in sy arms toe.

Ellanné weet vir ’n oomblik nie hoe om te reageer nie. Toe haal sy diep asem en laat toe dat haar hart haar lei. Sy laat rus haar kop teen sy bors en vou haar arms om sy lyf. Dit voel of sy in hom in wegsmelt. Haar pyn word letterlik minder. Dis asof hy die helfte daarvan vir haar dra. Hy vee sag oor haar hare.

“Ek is jammer.”

Hy fluister dit teen haar hare en sy beweeg om op te kyk na hom.

“Dankie.”

Hy vee oor haar wang. Dan soen hy haar. Sy mond is sag op hare. Hy trek effens weg asof hy homself probeer oortuig om haar eerder nie te soen nie, maar toe sy nie beweeg nie, druk hy sy mond harder op hare. Haar oë gaan sonder huiwering toe en sy neem met oorgawe deel aan die soen. Hy lig haar sag teen hom op en sy hand gaan deur haar hare. Sy weet nie wat dit is aan hierdie man of die manier wat hy soen nie, maar dit voel asof sy begin sweef.

Ellanné moet amper letterlik aan hom vasklou. Sy soene word tergend en ’n gloed brand deur haar hele wese. Haar arms gaan om sy nek en sy voel hoe die bekommernis van die afgelope ruk uit haar vloei. Sy kan voel dat Stephan terughou en dit maak byna dat sy meer in hulle omhelsing ingetrek word. Hy lig sy mond van hare af, maar soen haar dan dadelik weer, asof hy net soos sy nie enige iets anders as hierdie oomblik meer kan voel nie.

Sy mond beweeg stadig weg van hare en sy hou haar oë toe. As sy dit oopmaak, kan die hele oomblik dalk skielik verdwyn of sy kon dit gedroom het of erger, hy kan ontevrede na haar kyk.

Sy weet sy oë is op haar gesig gerig en hy raak liggies aan haar ken. Haar ooglede gaan stadig oop en sy kyk vas in sy sjokoladebruin oë. Wat sy daarin sien, is allesbehalwe ontevredenheid en dit laat haar sag snak na haar asem.

Hy laat sy vinger oor haar mond gly terwyl sy oë die aksie volg. Sy kyk amper gehipnotiseer na sy oë wat elke lyn van haar gesig inneem. Sy stem is net ’n fluistering naby haar.

“Ek weet nie wat ek gaan doen nie.”

Sy kyk op na hom en kan nie die bekommernis uit haar stem hou nie.

“Oor wat?”

Hy glimlag effens en sy vermoed dit is oor die uitdrukking wat oor haar gesig versprei het.

“Hierdie gevoel oor jou. En twee weke weg van jou en met hierdie gevoel.”

Haar mond voel skielik droog en sy wonder of sy besig is om stemme te hoor. Sy is ook nie regtig seker of dit ’n goeie of ’n slegte gevoel is wat hy oor haar het nie. Sy sluk stadig.

“Is dit sleg?”

“Dit is baie sleg en glad nie sleg nie. Dis aaklig en wonderlik. Dis ’n klomp dinge in een.”

Sy kyk deurmekaar na hom. Sy het nie die vaagste benul wat dit beteken nie. Sy weet net dat sy stem skielik gelaai is met emosie en dit ontsenu haar. Ellanné kyk vir die eerste keer weg en wonder of sy nie eerder moet ry nie.

Stephan moet weet wat sy dink, want hy vat haar sag aan die arm en kyk stip na haar.

“Bly by my.”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s