Kersie bo-op − Bernette Bergenthuin

31519_laparomanzaliefde_fa

“Ek wens ek het ’n rok aangetrek,” glip dit uit. Ag hel, sy is seker sy bloos!

Die sjokolade oë met die lui-lang wimpers hou haar blik gevange. “Hoekom het jy nie?”

Ek is totaal uit my diepte, besef sy. Wat sou Wouter Greyling doen? Marcelle maak haar doelbewus gemaklik in die stoel. “Dalk omdat ’n rok mens weerloser laat lyk? Dalk wou ek my pantser teen dít alles.” Sy maak ’n wye beweging met haar hand.

Basjan Rademan knik en leun dan sameswerend oor die tafel. “Ek dink ek het ’n skinny jean en ’n leerbaadjie aangetrek om my ook te beskerm teen dít alles.”

Fake it ’til you make it. Sy wed haar hele nuwe klerekas dat die helfte van Wouter Greyling se selfvertroue vals is. As hy kan wegkom daarmee, kan sy ook. “O?” Sy hoop sy klink geamuseerd en so ’n klein bietjie sexy. Iets werk want Basjan Rademan maak byna ongemaklik keel skoon.

“Ja, weet jy hoe teleurgesteld is die deursneemeisie as die baas van die plaas nie ’n blou-en-kakie hemp met die plaas se naam op dra nie?”

Haar glimlag kom natuurlik. “Wat is jou plaas se naam?”

“Sê jy my.”

Bladsy drie in Kate se lêer, bo-aan . . . Wat staan daar? Haar gedagtes is gestroop van enige inligting. Ag, dit is ook nou nie ’n eksamen nie. Sy kyk hom waterpas in die oë. “Kyk, Basjan, ek gaan eerlik wees. Ek het absoluut geen navorsing oor jou plaas, die winsgewendheid van jou bedryf of die moontlikheid van blou bloed in jou are gedoen nie. Maar ek weet jy boer met konfyt en ek verstaan dit glad nie.”

Sy lag is diep en laag. Die spiere agter haar naeltjie trek saam, haar asemhaling kom vlakker. Wat gaan aan? Wouter is reg, sy is totaal en al manverskrik. ’n Boer in ’n skinny jean lag en dit voel vir haar asof hy aan haar raak. As sy eendag hier uitkom, wat te oordeel na haar power verleidingstegnieke vandag nog sal wees, moet sy internet dating oorweeg. Enigiets om haar verwysingsraamwerk op te bou.

“My plaas se naam is Mon paradis. Dis my paradys, my hemel op aarde. Die handelsmerk is Mon paradis konserv.”

“Het jy konfytkunde in Frankryk studeer?”

Hy lyk verras. “Jy het my tog gegoogle?”

Marcelle skud haar kop. “Glad nie. Kom ons sê maar net uit die aard van my werk het ek ’n oog vir detail. Jy lyk nie soos een vir pretensie nie, wel vir kultuur. Jy sou nie jou plaas ’n Franse naam gegee het as jy nie eerstens self die taal magtig was en tweedens, ’n belewenis in Frankryk gehad het wat jou laat besluit het om eendag jou eie stukkie hemel kontinentaal te doop nie.”

Die aantreklike, eksentrieke man voor haar vryf ingedagte met ’n wysvinger en duim oor die stoppels op sy vierkantige ken.

“Vir jou, Marcelle Erasmus, gaan ek binnekort leer kersiekonfyt kook in die hemel.”

Beteken dit sy is deur? Liewe hemel, sy dink sy is deur na rondte twee! Kate het ’n wenner beet, die waarhede wat hulself darem tydens die skiet van hiérdie reeks gaan ontbloot.

One thought on “Kersie bo-op − Bernette Bergenthuin

Leave a comment