Feestyd se voet in ‘n treklorrie – Felicia Snyman

Jingle bells, jingle bells, Jingle all the way. Oh, what fun it is to ride. In a one horse open sleigh. Probeer om dit te lees sonder om saam te sing. Onmoontlik! Hierdie spoggerige deuntjie, saam met ‘n half miljoen ander Kersfees liedjies, speel onophoudelik in winkelsentrums en elke ander publieke area. Om eerlik te wees dryf dit my die krans uit. Al hierdie vrolike melodieë wat te hard speel, terwyl jy probeer om ‘n geskenk te koop wat heeltemal onbekostigbaar is gedurende die feesgety.

Hierdie is waaraan Desember geken word. Winkelversierings, liedere en etes wat jou laat kreun. Daar is ook hierdie tyd van die jaar altyd ‘n advertensie op die televisie wat sinspeel op die groot migrasie af see toe. Dit is nou ‘n feit soos ‘n koei. Daar is meer motors op die pad as op die vloer by die motorhandelaars. Dis is asof die motors net skielik in Desember uitpeul. Geen mens weet waar al die mense vandaan kom nie. En almal is op pad met vakansie. See toe, Kaap toe, berge toe en wie weet waarheen toe.

Ons gesin is nie so gelukkig nie. Vir die laaste paar jaar trek ons elke liewe jaar en gewoonlik oor die Desember-vakansie. Ja, trek. Ja, elke jaar. En ek praat nie van ander mense se sogenaamde trek nie – pak twee bokse gooi dit in ‘n motor en ry na ‘n nuwe plek toe nie. Ook beslis nie die tipe trek waar mense ‘n verhuisfirma huur wat alles in borrelplastiek toe draai en in ‘n vragmotor deur arbeiders gepak word nie. Ek praat van die trek waarna niemand kan uitsien nie. Waar jy met jou eie hande breekware in koerantpapier, wat alles bevlek, moet toedraai, in bokse pak en toe plak. Amper vergeet ek dat mens nog die bokse eers moet gaan bedel by winkels en ander trekkers. Opslaan, onder toeplak en stewig maak. Daarna kan dit eers aangewend word vir die pakkerasie.

Hierdie Desember was geen uitsondering nie. My pa het moedeloos na al die huisinhoud wat op die sleepwa moet pas gekyk en mor-mor dit begin spasieer. Dit was ‘n lekkerlag-oomblik toe hy vra of dit alles is en ons drie vrouens (ek, my suster en ma) net skuldig rondkyk en openbaar dat daar nog ‘n hele vertrek is wat ons nog nie uitgedra het nie. Ek dink nie mens besef hoeveel klein tierlantyntjies mens in jou huis het nie. Skoenbokse, ornamente, mooigoed, los kussings, ekstra fieterjasies wat die huis moet laat modieus voorkom. Wat sal die mense sê as jy nie ‘n papierbokkop, reuse glaspotte met eksotiese kunswerke in en ‘n houtklok het om jou huis deel van die een en twintigste eeu te maak nie? Dit klink so goed op papier en lyk al te spoggerig, maar verpak nou al hierdie items om dit in eenstuk te probeer vervoer. Dit is ‘n heeltemal ander storie. Die breekbare en sensitiewe artikels moet in voertuie gepak word. Dit sal nie deug om dit agter op ‘n oop waentjie te pak en deur die wind en weer te laat martel nie. Net toe ons dink niks kan die energie nog meer uit ons tap nie, begin dit reën. Skielik moet alles toegemaak word met ‘n reusagtige plastiek om die yskas, banke en matras te beskerm. Die reuk wat uit ‘n nat matras sal kom is ondraaglik en dan moet mens dit noodgedwonge eerder aan die brand steek. So het ons bokse vol items en meublemente op ‘n enorme sleepwaentjie en in drie voertuie met ons eie arms (en bene) gepak en honderde kilometers op die besige snelweg gery.

felici

Moenie dink enige iemand het simpatie met die situasie nie. Wanneer mens by die vulstasie probeer deur worstel met ‘n oorvol sleepwa waarop plastiek en toue flapper, gee mense jou nie kans of plek nie. Almal is net in die vakansie-feesbui. Mense lag, koop koffie, drink ‘n drankie en geniet die lewe. Hier is ons doodmoeg, vee sweet af en verwens die ander vrolike individue. Die ander mense is ook geklee in vrolike somerrokke, blinksandale, netjiese gholfhemde en spoggerige uitrustings. Hulle hare is behoorlik gedoen vir die lang rit af see toe. Mens kan immers nie sonder perfekte hare op die strand beland nie.

Op dieselfde tyd suiker ons met rooi gesigte en hang skouers, poniesterte, kopbande, verbleikte denim kortbroeke, wat wragtig al beter dae gesien het, en vuil hemde rond. Voordat jy nou met oordeel hierdie kant toe staar, probeer ‘n hemp skoon hou terwyl jy ‘n boks groter as jouself dra en vyftig meter oor ‘n grasperk met krom bene na ‘n voertuig toe kruip.

 

Dit klink nou of die einde in sig is. O, nee, dink weer. Nadat die kilometers op die snelheidsmeter opgeteken en die eindbestemming bereik is, begin die hele affêre weer van voor af. Die pakkerasie mag nie op die sleepwa bly nie, dit moet weer terug besorg word aan die wa-lener. Hier gaan ons en herhaal die proses. Al die toue moet losgemaak word, plastiek afgehaal word en elke liewe artikel moet afgetel word. Ingedra word en weggepak word. Ons beweeg byna hande viervoet met droë kele soos kamele wat na ‘n oase in die woestyn toe voortbeur om net ‘n lafenis te kry. Teen die einde van die dag het ek pyne gehad op plekke wat nie geskik is om hier hardop te noem nie…

Mag die gróót trek ons nie weer volgende jaar tref nie. Maar as dit doen. Hier is my plan van aksie:

kry groot sterk ouens of mense wat trek vir ‘n lewe doen om te help met die trek;

dra ‘n masker sodat niemand jou natgeswete gesig herken nie;

moenie in die warmste, vrolikste en besigste maand van die jaar trek nie;

en bring ‘n koelboks met baie ys (onder andere) in saam.

 

So as julle dalk mense met ‘n gepakte sleepwa op pad na julle lang-beplan en verdiende vakansie sien wend ten minste ‘n poging aan om ‘n glimlag te deel. Dit is immers swaar dra al aan die eenkant…

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s