Om Dirk te tem – Madelie Human

wilde-hawer

“Kom in hemelsnaam binne!” roep ’n growwe, ongeduldige stem toe sy die deurklokkie ’n derde maal lui.

Ja-nee, dit moet Dirk Degenaar wees, dink Marica. Suster Swart in die hospitaal op George het heelwat oor dié aantreklike vrygesel te sê gehad toe sy die lêers en mediese verslae gaan haal het sodat Marica die geval kon bestudeer voor sy die betrekking aanvaar. As die suster die waarheid oor sy humeur en ongeduld gepraat het, sal sy hare op haar tande nodig hê met haar nuutste pasiënt. Maar sy wat Marica Sonnekus is, is reg vir hom. Geen man sal haar ooit weer ore aansit nie.

Nou ja, laat sy maar sien hoe haar knorrige pasiënt lyk. Sy draai die deurknop en stoot die swaar voordeur oop. Dit stuit teen iets. Wat sou in die pad wees? Marica loer om die donker eikehout en kyk vas in ’n fronsende, bebaarde gesig. Sy ruk haar kop terug.

“Kom tog net in!” grom die ongeduld op twee krukke weer.

Sy lig haar handsak se bandjie oor haar skouer en skuifel deur die smal opening, versigtig om hom nie met die deur tussen hulle om te stamp nie.

“Jy’s laat,” knor die wankelrige reus. Sy sien sweetdruppels op sy voorkop pêrel. Dis nie warm nie, dis ’n koel dag, dus moet dit van inspanning of van pyn wees. Sy raai dat laasgenoemde twee die sondebokke en die oorsaak van die waag-dit-net-om-met-my-te-mors-houding is.

“Marica Sonnekus. Ek is hier in verband met die pos as fisioterapeut.” Sy steek nie haar hand uit nie, want sy weet hy het albei syne nodig om die krukke vas te hou om staande te kan bly.

“Ja, Sureta het my van jou koms laat weet. Wat ek wil weet, is hoekom ek nou skielik ’n nuwe terapeut nodig het. Sureta het onnodig haar neus in my sake gesteek. Waar is daai Gerhard-ventjie? Hy het my mos tot nou toe in die hospitaal behandel en ek het gevra dat hy my terapie hier by my huis voortsit.”

“Volgens die hospitaalbestuur het Gerhard ’n besige praktyk en kan hy jou nie langer behandel

nie. Ek is die enigste terapeut wat op die oomblik nie voltyds besig is nie, dus is jy op my aangewese, meneer Degenaar. Miskien moet ons iewers gesels sodat ons die besonderhede kan bespreek.”

Sy beduie hoopvol na ’n sitkamer wat deur ’n oop deur sigbaar is. Haar nek is klaar seer van opkyk na die lang man, al leun hy effens vooroor op sy krukke. Liewe hemel, hy is groot! dink sy. Die yslike bos baard en wilde, lang hare help ook nie juis om sy byna skrikwekkende voorkoms te versag nie.

Van die sondige aantreklikheid waaroor die suster giggelend agter haar hand gefluister het, is daar geen sprake nie. Wat op aarde het Sureta na hom aangetrek? Sy haal haar skouers op. Alle mense se definisie van wat aantreklik is en wat nie, is sekerlik nie eenders nie.

Hy beduie met sy kop dat sy moet voor stap en hink dan pynlik stadig agterna tot in die sitkamer. Terwyl hy aangesukkel kom, kyk sy waarderend in die gesellige vertrek rond.

Die meubels is ooglopend duur, maar die klem is op gemak eerder as luuksheid. Iemand in die huis het uitstekende smaak, of genoeg geld vir ’n peperduur binneversierder.

“Nou hoekom het Gerhard my nie self daarvan kom sê nie? Kon hy nie maar ’n plan gemaak het om my in te pas nie?

“Volgens die hospitaalpersoneel sien hy nie kans om hier te kom bly nie. Hy is getroud en wil saans na sy eie huis terugkeer. Hy het op die oomblik ook heelwat ander pasiënte wat hy nie net sommerso kan los nie. Maar dit het niks met my te make nie. Ek is hier net omdat Sureta my gevra het om jou te kom help.”

“Hoekom het Gerhard nie reguit vir my gesê hy sien nie meer kans nie?” hou hy halsstarrig vol. Ongeduld rasper in sy stem en Marica merk op dat hy sy een heup herhaaldelik vryf.

Sy maak haar rug reguit en klou verbete aan die laaste rafels van haar geduld. Die man sal selfs ’n engel se geduld beproef! Sy weier om verantwoording vir die onbekende Gerhard se gedrag te doen.

Sy ignoreer met opset die vraag en verduidelik verder: “Ek is besig om van Kaapstad George toe te verhuis en verwelkom ’n tydelike werk wat blyplek insluit. Dit sal my die geleentheid gee om hier in die omgewing vir my en Sureta ’n woonstel of ’n klein huisie te soek. Ek weet jy en Sureta korrespondeer per e-pos, dus is jy seker daarvan bewus dat ek en sy saam ’n praktyk in die nuwe vleuel van die privaat hospitaal gaan open?”

Sy kyk afwagtend na hom, maar hy antwoord haar nie.

Toe beur sy maar voort: “Maar dis eers van Oktober of November af. Ek het dus die tyd om jou intensiewe behandeling tot dan waar te neem.”

Hy bekyk haar met ’n ondersoekende blik van kop tot tone. “Hoe weet ek of jy bekwaam genoeg is om my behandeling waar te neem en dat jy nie net die werk aanvaar omdat dit jou pas en omdat Sureta jou gevra het nie?” Met ’n trek van pyn op sy gesig en ’n sisgeluid tussen sy tande deur val hy op die bank neer en beduie ongeduldig sy moet sit.

Marica voel hoe haar humeur begin smeul. Liewe hemel, sy kom van Kaapstad af om die man te kom help en hy behandel haar asof sy die melk uit sy tee kom steel het!

Koop nou Wilde hawer hier: http://bit.ly/2ff2ERY

 Romanza-klublede spaar R60 met hul 30%-afslagvoordeel!

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s