Om Ben lief te hê – Madelie Human

wilde-hawerai

“Leah . . . nog net so mooi soos altyd . . .”

Sy kyk op en Ben kom stadig uit ’n rottangstoel op die stoep orent. Hy is nog groter en langer as wat sy hom onthou. Sy skraal lyf van tien jaar gelede is nou baie forser en meer gespierd. Sy kort, swart hare is klam ná ’n stort. Hy is een van die min mans wat werklik goed lyk met ’n stoppelbaard, dink sy. Dit verleen donker skadu’s aan sy hoekige gelaatstrekke, wat hom gevaarlik aantreklik maak. ’n Rilling gaan deur haar lyf. Iets wat sy tien jaar gelede styf vasgevat het, gee skiet en kom los. Ja, haar lyf onthou hom alte goed. Dit hou niks goeds vir haar gemoedsrus of onstuimige hart in nie.

Sy haal diep asem. “Ben . . . hallo,” is al wat sy uitkry.

“So, my klein sussie is weer terug.” Sy stem spot liggies, maar sy oë lag beslis nie. Hulle trek hare soos ’n magneet en sy kan met die beste wil ter wêreld nie wegkyk nie.

“En hoe gaan dit, ouboet?” Sy lê aspris klem op die ouboet en terg kastig saam om haar verleentheid te verberg. Haar knieë wil haar nie meer dra nie en sy gaan sit op die stoel langs syne. Hy sit ontspanne agteroor en bekyk haar rustig. Hy lyk na ’n man wat weet wat hy wil hê en is ooglopend baie tuis in sy eie nerf. Leah voel uiters ongemaklik terwyl hy elke besonderheid inneem, asof hy meer kan sien as wat sy wil hê hy moet.

“’n Glasie witwyn?” Hy beduie na die wyn op die trollie.

“Ja, dankie, dit sal lekker wees.” Toe hy vorentoe buk om haar wyn aan te gee, ruik sy suiwer Ben en tien jaar se probeer vergeet word een groot onthou. Leah trek haar asem diep in en drink ’n klein slukkie wyn, haar hand wat die glas vashou, onseker.

“Kinders! Dis wonderlik om julle albei hier by my te hê.” Benjamin kom sit op sy gunstelingstoel, kyk hulle ingenome aan en lig die glas wat Ben aangee in ’n heildronk. “Ons drink op daai splinternuwe doktorsgraad van jou, Leah. Mag jou praktyk ’n reusesukses wees.”

“Dankie, Pa,” glimlag Leah, verlig oor sy teenwoordigheid.

“Ek is so baie aan Pa verskuldig. Sonder jou finansiële bystand sou ek dit nie kon doen nie,” sê sy en sit haar hand op Benjamin se arm.

“My kind, jy het eintlik baie van jou studies self betaal met al die beurse wat jy gekry het. Boonop het jy en Hanna my lewe so verryk en my so gelukkig gemaak dat dit vir my ’n voorreg was. Moenie praat van skuld nie. Jy is my dogter. Ek het met liefde vir jou studies betaal, net soos Ben s’n. Julle albei maak my ’n trotse pa.” Benjamin is openlik aangedaan.

Ben hou sy glas op in ’n stil saluut en drink ’n slukkie sonder om sy oë ’n oomblik van haar af te neem. Sy sien nie ’n sweempie van die ou weersin van hul tienerjare nie. Ben is ’n man van twee en dertig, sy tienerjare lankal verby. Leah slaak ’n sug van verligting. Miskien kan hulle tog sonder die ou gevoelens van kompetisie tussen hulle hier saamwoon, dis te sê as sy haar hart, wat die afgelope paar minute so in haar keel bokspring, in toom kan hou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s