Vuurvliegie – Frenette van Wyk

vuurvliegie-voorblad_frenette-van-wyk_high-res

Xanthe wil net verlig voel dat sy van die kwaai gids ontslae is, toe Bence weer voor haar verskyn. Hy is sowaar in die cabana aan die ander kant langs hare ingeboek en kom die paar trappies flink afgedraf, verkyker in die hand, toe hulle verbygestap kom. Sy kuif skitter kompleet soos ’n heilige halo op sy kop toe ’n sonstreep deur die bome op hom skyn. Sy vel is ’n gesonde goudbruin kleur en sy gelaatstrekke is min of meer perfek.

Xanthe se maag maak weer ’n vreemde draai toe sy betowerende oë haar insuig nes vroeër op die boot en netnou daar in die lodge se voorportaal.

“Nogmaals jammer oor daardie waardevolle vonds wat deur jou vingers geglip het,” sê sy met stroperige berou. “Ek het nie besef jy is hier op ’n skattejag nie,” treiter sy hom weer.

Hy gee sowaar ’n kort, geamuseerde laggie. “Lekker sarkasties, nè,” sê hy, “maar eintlik is jy net ’n skadelose ou vliegie sonder gif in daardie angeltjie van jou.”

Ag so?

“Bye en skerpioene het gewoonlik angels, nie vliegies nie, as jy regtig iets van die natuur geweet het,” probeer sy hom weer bykom. “Maar dis blykbaar ’n gebied waarmee jy nog sukkel, nes foto’s neem. Maar toemaar,” sê sy en lig haar kamera tot voor haar oë, “ek neem báie goeie foto’s.”

Sy mik en neem vinnig ’n foto van hom, bekyk die prentjie op die kamera en kyk toe weer op na hom. “En ek het so pas die perfekte foto van ’n goue aap vir jou geneem!”

Natasja trek haar asem geskok in. En Bence se neusvleuels tril net effentjies, maar Xanthe ignoreer sy gloeiende skrefiesoë en stap neus in die lug weg.

“Dit was nou lelik van jou!” Natasja is op haar hakke.

“Hy het gesoek daarvoor,” verdedig Xanthe, maar haar hart klop harder as haar stem in haar eie ore. “Die verwaande . . . aap! Ek móés hom net ’n druppel van sy eie medisyne teruggee.”

“Jy gaan hom om verskoning moet vra.”

“Ek sal nie,” weier Xanthe summier. Sy kan self nie glo dat sy so aaklig kon wees nie. Sy het niemand in haar lewe nog ooit so doelbewus beledig nie, maar hy het daarvoor gesoek. Hy het haar uitgelok. Hy het haar eerste ’n ou vliegie genoem.

“Ek praat liewer nooit weer met hom nie.”

Sy vlug behoorlik die trappe op na haar cabana toe.

 

Xanthe stort, was haar hare en trek weer skoon en gemaklik aan. Daarna maak sy haar hare droog en bind dit in ’n netjiese poniestert uit haar gesig. Sy wend room aan haar gesig, sorg dat haar wenkbroue netjies gekam is en tik ’n glansende lipsalf op haar lippe om hulle sag en vol te laat lyk.

Voor sy uitstap, trek sy haar skouers regop en haar maag in, en haal ’n paar maal diep en stadig asem. Sy kyk eers vir haarself in die badkamerspieël. Solank haar gesigsuitdrukking kalm is en sy geen onseker, onrustige of onstuimige emosie vanaand daar in die eetsaal verraai nie. Daardie man moet hoegenaamd nie die idee kry dat sy vir hom terugstaan nie.

Dit het al donker geword en die aandluggie is heerlik soel. Met selfvertroue stap sy oor die verligte paadjie na die eetsaal toe, gereed om Bence te trotseer. Sy gaan nie toelaat dat hy haar onderkry nie. Vanaand, en vir die res van die tyd hier, gaan sy haar doof en blind hou vir hom.

Sy cabana lyk dig toe en donker. Hy is seker reeds eetsaal toe. Haar spiere ontspan dadelik meer en haar tred is ligter. Sy kan ten minste die entjie in vrede stap.

’n Krieweling kielie egter teen haar ruggraat af die oomblik toe sy by die eetsaal instap en hom eerste sien. Vars geklee in ’n langbroek en wit oopknoophemp, vierkantige skouers, kuif nog effens klam en agteroor gekam, en ’n houding wat oorloop van selfvertroue, staan hy by die deur met Anabelle en gesels.

Sy mik om vinnig verby hulle te glip sonder dat hulle haar raaksien, maar die geluk ontsnap haar.

“Xanthe!” Anabelle wink haar nader.

“Haai!” Haar bene voel ’n bietjie jellierig toe sy nader stap en Bence ook vir haar staan en kyk, maar dis net vir ’n oomblik voor sy haarself regruk. Sy het niks van die ou te vrees nie.

“Haai, ekskuus, ek dink nie ek het julle twee al aan mekaar voorgestel nie,” sê Anabelle. “Bence, dis Xanthe Liebenberg, ’n jare lange vriendin van my. Sy is die fotograaf vir ons troue.”

Xanthe stoot haar ken trots uit en kyk hom vierkantig in die oë.

“Aangename kennis,” sê Bence net, asof hy Xanthe nou vir die eerste maal sien. Sy gesig verraai geen teken dat hulle al twee maal vanmiddag ’n paar woorde, minder vriendelike woorde, met mekaar gewissel het nie. Dat sy die fotograaf vir die troue is, maak skynbaar geen indruk op hom nie. Sy oë vee net niksseggend oor haar.

“Dis Bence Strauch, Xanthe. Hy en ek het ’n unieke verbintenis met mekaar. Ons is vriende en familie. Ek het hom ontmoet toe ek daardie twee jaar ná skool in Engeland gaan werk het. En toe vind ons uit dat hy al die tyd ook ’n verlangse neef van my aan my ma se kant is.”

“Nou toe nou,” sê Xanthe, “dis gaaf om jou te ontmoet.” Sy kyk weer reguit in sy oë, maar haar gemoedelikheid klink so vals in haar ore soos die glimlag wat sy aanplak. Sy is verlig toe Anabelle weer praat en sy kyk dadelik weer vir haar. Hopelik kom haar vriendin nie die gespannenheid tussen hulle agter nie.

“Jy moet tog onthou om ’n paar mooi foto’s van ons twee saam te neem hierdie week en ook die dag van my troue.” Anabelle haak by Bence in.

Xanthe bekyk die prentjie met ’n benoude hart.

Hoe gaan sy weer enige foto van Bence Strauch kan neem? Ná daardie foto van vanmiddag was sy van plan om nie eens weer vir hom te kyk nie, wat nog te sê met hom te praat en hom te vra om mooi vir haar te glimlag!

“En raai wat nog!” gaan Anabelle opgewonde voort. “Bence het aangebied om te help met die fotonemery,” verras sy Xanthe nog verder.

“Die wat?” Xanthe se bors trek in ’n benoude kramp.

“Ja, hy gaan jou assistent wees. Ek kan nie verwag dat jy die hele taak alleen op jou neem sonder enige bystand nie. Dis ’n groot verantwoordelikheid en hy was so gaaf om aan te bied om te help.”

En ons gaan heerlik saamwerk, smeul ’n glimlag van selftevredenheid nou oor sy hele gesig.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s