Liefde in September – Alta Steyn

liefde-in-september_alta-steyn_voorblad_high-res

Toe sy op die voorstoep kom, laat sak Janine haar kop in haar hande. Sy weet nie wat sy verwag het nie. Was sy so kinderlik naïef om te dink ’n wonderwerk sal gebeur en die stoetery sal nie verkoop word nie? Sy is nie meer ’n kind nie en sy weet al geruime tyd dit gaan gebeur, en tog kan sy nie help om ’n intense hartseer te ervaar nie.

Sy trek haar asem diep in en gaan sit op die trappie. Kyk na die perde wat weerskante van die rylaan in hul kampe staan en wei. Hul sterte swaai kwistig en hulle lyk so tevrede. Dit is asof niks en niemand hulle kan omkrap nie. Sy sien die blinksilwer Audi wat in die son geparkeer staan. Dit is ’n R8 Spyder. Seker een van die duurste sportmotors in Suid-Afrika. Sy voel egter lus om die ding met klippe te bestook. Elke klip moet ’n simbool wees van die hartseer en bitterheid wat sy nie net teenoor Dewildt Malan voel nie, maar ook teenoor haar pa. Vir die besluit wat Renier Vermeer gemaak het. Vir die vertroue wat hy nie in sy eie dogter gehad het nie. En wat het haar oupa tog besiel om haar as’t ware aan die man te probeer afsmeer? Dan is hy boonop verloof!

Janine sluk. Dewildt Malan weet dit net nie, maar hy het onbewustelik ’n vuishou dwarsdeur haar maag geplant, nes sewe jaar gelede voor hy en sy pa teruggekeer het Kaap toe. Sy het toe al gewens die aarde moet oopskeur en hóm sommer heel insluk.

Hulle het daardie dag langs die opleidingsring gestaan en die afrigter in sy doen en late dopgehou. Sy was opgewonde want vir die eerste keer in die twee maande nadat Dewildt en sy pa Steenbokvlei se drumpel reeds deurgetrap het, kon sy alleen met die mooi man gesels.

“Is jy nie spyt julle het die stoetery verkoop nie, Dewildt? Vermeer Egyptians bars nou uit sy nate met jul perde ook, en soos ek verstaan, sal my pa hulle nie sommer verkoop nie.”

Hy het onverwags na haar gekyk. Sy blou oë was helder soos die hemel bokant hulle. Die kuiltjies in sy wange het opnuut met haar hart getoor, en alhoewel sy nie heeltemal kon uitmaak wat op daardie oomblik in sy gemoed aangaan nie, het sy geweet sy was verlief. Reeds van die eerste oomblik toe hy die skinkbord by haar in haar pa se studeerkamer gevat het. Sy hand het liggies aan hare geraak en hy het vir haar geglimlag. Haar bene wou skoon onder haar meegee.

“Ek beoog om eendag weer na die Laeveld terug te keer en met ’n stoetery te begin.”

“Maar waarom het julle dan verkoop as jy weer gaan terugkom? Dit maak nie vir my sin nie.”

“My pa se landboubesigheid brei al meer uit en hy het my ondersteuning nodig, maar my doel is om nie langer as vier jaar weg te wees nie.”

“Jy besef seker dat jy nuwe grond sal moet koop en weer stalle oprig? Dit is baie werk en kos geld. Om nie eens te praat van die personeel nie. Jy sal weer mense moet kry wat jy ten volle kan vertrou.”

Sy het egter simpel gevoel. Natuurlik sal die Malan-miljoene sorg vir wat hy ook al nodig het.

“Wel, sover is daar sprake dat jou pa dalk gaan verkoop, en as dit wel die geval is, staan ek eerste in die ry.”

Sy het haar hart voel ruk. “Waar kom jy daaraan? Het hy dit vir jou gesê?”

“Nou nie in soveel woorde nie, maar ek kon aflei dat . . .”

“Ek glo nie jy weet waarvan jy praat nie, Dewildt. Die stoetery is my erflating, saam met Steenbokvlei. My pa sal my ook sê as hy enigsins ander planne het.”

“Ek stem, Janine, die een werk nie sonder die ander nie, maar ek dink jy sal eerder met jou pa hieroor moet praat. Miskien wag hy net vir die regte oomblik om jou van sy planne te vertel.” Hy het skielik intens na haar gekyk. ’n Kyk wat sy ook nooit vergeet het nie.

“Jy is nou agtien, reg?” Sy het net geknik. “Jou pa is bekommerd oor jou, Janine. Ek weet ek is dalk nou heeltemal uit my plek, maar ek stem saam met hom dat jy nie vroualleen die stoetery sal kan hanteer nie, veral wanneer hy die dag nie meer hier is nie, en soos ek van hom verstaan, gaan Amandelvlei ook nog na jou toe kom. Ek het dus vir hom gesê ek is bereid om uit te help waar ek kan.”

Sy wou hom nie direk in die oë kyk nie, want sy het geweet hy praat die waarheid, maar as gevolg van sy voorbarige houding het sy besluit om haar man te staan, om vir almal te wys wat in haar steek en dat sy nie die swakkeling is wat hulle dink sy is nie.

“Wel, ek dink steeds jy het verkeerd gehoor, Dewildt. Ek is sy enigste kind. Dit is my nalatenskap!”

“Bedaar, Janine, ek weet dit, maar jy sal moet besef dat die stoetery nie grappies is nie. Jy is nog bitter jonk en naïef, en daar is wolwe wat jou lewendig sal wil verslind. Glo wat ek jou sê.” Daarmee het hy omgedraai en weggestap. Sy fier, regop houding het haar skielik geïrriteer.

“En jy is seker die grootste een van hulle, Dewildt Malan!” het sy agterna geblaf, maar hy het nie eens teruggekyk nie.

Toe hulle vertrek, het Dewildt na haar gedraai en sy hand uitgesteek.

Sy het egter net daarna gekyk en gefluister: “In jou oë mag ek bitter jonk en naïef wees, meneer Malan, maar dit beteken nie jy kan hier kom maak en vat net soos jy lus het nie. Vir so lank as wat ek asemhaal, sal jy nie weer op Amandelvlei of Steenbokvlei welkom wees nie.”

“My naam is Dewildt, onthou dit,” het hy egter gesê en is daarna saam met sy pa vir die laaste keer by die deur uit.

Janine sug en vryf oor haar oë. Nou is Dewildt Malan terug en nie alleen het hy alles van haar af weggevat nie, maar het hy reeds met die eerste klank van die diep ondertoon in sy stem weer iets teruggebring ook. Nie sy of haar hart was vandag hierop voorberei nie.

Koop Liefde in September hier: http://bit.ly/2eIAnDW

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s