Projek ware liefde – Marilé Cloete

projek-ware-liefde_marile-cloete_voorblad_high-res

Dis presies toe sy die stapeltjie borde versigtig in die seepwater laat sak dat die hond verwoed voor die agterdeur begin blaf. Sy is geen kenner van honde nie, maar daardie blaf voorspel moeilikheid. Asof in stadige aksie sien sy hoe die deurknop afgedruk word. “Is hier iemand in die huis, Caesar?” hoor sy die stem wat sy vrees. “Soek hom, my honne.” Die deur swaai oop. Die hond skiet soos ’n weerligstraal na binne, genadiglik aanvanklik heeltemal by haar verby.

Of dit pure adrenalien is of haar hoogspringvermoëns van ’n paar jaar gelede, weet sy nie, maar voor die hond sy draai gemaak het, is sy op die kombuistoonbank. Haar rug is teen die kas agter haar, haar skouersak soos ’n skild voor haar. Sy is reg om haarself te verdedig. Teen die hond of teen die man, soos dit nodig mag wees.

Stadig dring die stilte tot haar deur, ook die feit dat sy met haar oë styf toegeknyp staan. ’n Eienaardige geluid verbreek nou die stilte, iets tussen hoes en lag en huil. Stadig, stadig maak sy haar oë oop. ’n Tree voor haar sit Caesar penorent, ore gespits, tong wat uit die hygende bek hang, yslike slagtande vir enige mens om te sien, kennelik net reg om enige bevel uit te voer. ’n Tree agtertoe staan Dennis Minnaar in sportklere, raket in die hand, dubbel gevou soos een wat maagpyn het. Dis uit sy mond wat die geluide kom. En dis nie geluide van hoes of huil of pyn nie. Dis ’n hulpelose, magtelose lagbui. Ten koste van haar.

Chris knyp summier haar oë weer toe. Sy smag daarna, maar geen berge val op haar, geen heuwels bedek haar nie. Die proesgeluide word wel stil, net Caesar se opgewonde asemhaling is nou hoorbaar.

“Chris?” Hy het die lag kwalik onder beheer, probeer sy stem sedig hou. Tevergeefs.

“Gaan weg.” Sy probeer dit met soveel gesag as moontlik sê.

“Ek wil nie. Dis my huis waarin ons staan.”

Hy het ’n punt beet. En sy kan seker nie vir ewig hier bo bly met geslote oë en haar skouersak soos ’n skild voor haar nie. Stadig maak sy haar oë oop. Dennis staan darem nou regop, hy lyk nie meer of hy in pyn is nie. Sy mond is op ’n sedige plooi getrek, maar die donker oë skitter van die pret. Sy hare is vasgemaak en los krulletjies klou natgesweet om sy gesig. Die baard is ’n dag of twee oud en onweerlegbaar sexy.

“Gaan dan net weg dat ek kan afklim.” Sy kan aan geen manier dink om met selfs die geringste mate van grasie weer op Moeder Aarde te kom nie. “En vat jou hond saam met jou.”

“Sal jy my dan vertel hoekom jy in my huis is? En hoekom jy besig is om my skottelgoed te was? Nie dat ek beswaar daarteen het nie, hoor.”

“Oukei.” Sy is nie juis in ’n posisie om te onderhandel nie.

Maar hy draai nie weg nie. Hy steek sy hand na haar uit. “Kom ek help jou af.”

Sy ignoreer die hand en sak vinnig op haar sitvlak af en probeer die skouersak ongemerk weer neersit. Met haar lang bene is dit nou kortpad vloer toe. Maar toe sy wil afwip, is sy meteens teen sy lyf. Met merkwaardige krag vir so ’n skraal man vat hy haar om die lyf en lig haar van die toonbank af. En los haar nie.

Iets gaan iewers in die heelal verkeerd. Die kosmos mis ’n asemteug, of so iets, sy weet nie wat nie. Sy is in haar werkstewels amper so lank soos hy. Sy oë is feitlik swart en lag nie meer nie. Sy wimpers is dig en donker. Sweet blink in sy nek, hulle het sweerlik in die hitte gedraf tot hier. Sy hande bly op haar ribbes, beweeg vlugtig op, dan weer af. “Chris . . .” Sy stem is ’n bietjie skor, sy asem kom onreëlmatig. Van die draf, natuurlik. Sy mond is baie naby hare.

Met ’n flink tree na links is sy uit sy omhelsing. Sy mis onmiddellik die gevoel van sy hande op haar. En oortuig haarself dis blote verbeelding. “Ek . . .” Waar is haar asem tog nou? “Ek het jou kwotasie gebring. Jy reageer nie op my e-posse nie.”

Sy hande gaan dadelik in die bekende gebaar na sy hare. “O hel, die kwotasie. Ek is treurig met e- pos en nou kom ek by niks uit nie.” Hy vat een van haar mooi blink glase en draai na die yskas, maak die glas vol, sluk dorstig. “Caesar, kom drink.” ’n Roomysbak staan gereed vir Caesar se water.

Dennis kyk oor sy skouer na haar. “Koeldrank vir jou? O genade, ek het nie koeldrank nie. Water?” Wat sy van die yskas se inhoud kan sien, gee haar nie veel hoop vir sy toekoms nie.

“Water sal lekker wees, dankie.” Sy moet dringend afkoel. In meer as een opsig.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s