Hoe lyk die moderne romanseheldin? – Alta Cloete

Ek het onlangs weer ’n paar Afrikaanse liefdesverhale uit die jare sewentig van die vorige eeu deurgedraf.  Dit was ’n ervaring wat my ietwat gehawend gelaat het, hoewel daar ook (kortstondige) aha-oomblikke was.

Dit was egter nie net nag nie, dit was ook pret. Want mens kan steeds verstaan hoekom die ou hardeband-liefdesverhale vir ’n hele paar dekades Afrikaanse vroue (maar ook heelwat mans) aan die lees gehou het. Die dinge wat die leser in ’n lekker liefdestorie soek, was almal daar: ’n aantreklike held, ’n pragtige heldin, dikwels ’n eksotiese plek. En dan natuurlik die verpligte gelukkige einde. Wat destyds gewoonlik ’n (redelik) innige soen behels het.

Aan die ander kant was dit ’n frustrerende ervaring om die boeke te herlees. Eerstens kan mens sien hoe die taal intussen ontwikkel het. Nie almal sal dit as positief sien nie, maar vir my is die gemakliker, meer informele taal en selfs die invoeging van Engelse woorde wat ons deesdae kry, ’n teken van groei. Die vryer, losser taal is vir my bloot ’n weerspieëling van ons vryer, oper samelewing. En ons skryf deesdae soos ons praat, wat verhale geloofwaardiger maak.

Die helde het my egter die wildeweghol gegee. Skrikwekkend aantreklik (daardie tyd was ’n man nooit mooi nie), dikwels heelwat ouer as die heldin, altyd meer geleerd of senior as die heldin, dikwels ’n edelman uit ’n eksotiese oord, dikwels skatryk. Altyd, altyd betreklik bombasties, dikwels spottend en neerbuigend teenoor die heldin, seksisties tot in hul (beslis nie gepedikuurde!) kleintoontjies. Kortom: die redder van die arme heldin. Aaarrggh! (Skuus, ek gril.)

Die heldinne het die stukkie van my gees wat nog oor was na die lees van die held effektief laat verskrompel. Die goedjies − want ja, hulle is goedjies – is meestal piepjonk, popmooi, onbeholpe en sonder veel van ’n mening. En vreeslik lomp, altyd aan die struikel of kos oor iemand se skoot aan die uitmors. (Stel jou voor ’n lugwaardin moet dit regtig oorkom!) Altyd jonger, korter, armer, dommer as die held. Darem nie minder mooi nie, want dit was basies al wat hulle moes doen: mooi lyk. En so af en toe iets onbeholpe in ’n asemrige stemmetjie kwytraak. En in ’n poel van hulpeloosheid versmelt (sonder om skandelike vleeslike behoeftes ten toon te stel) as die held sy (ongemanikuurde)  hande op haar lê. Want, sy was kuis, baie kuis en vermoedelik betreklik oningelig oor lakensake.

Wat my nou met die skryf hiervan opval, is ongelukkig nog skrikwekkender: Ek kry die ongemaklike gevoel dat baie meisietjies vandag nog grootgemaak word om sommige van bogenoemde dinge te wees. Die oordaad van pienk, die speelgoedjies vol (pienk) fieterjasies, die frilletjies en valletjies, die blink hakskoentjies, die naellak vir kleintjies, dit alles maak my onrustig. En dan het ons nog nie eens by die maerweeskultus gekom nie; dis ’n storie op sy eie.

Dan is daar die mode om na dogtertjies as prinsesse te verwys. ’n Prinses hoef net een van twee dinge te doen om ’n prinses te word: Sy moet ’n prins voor die kansel kry of sy moet per geluk die dogter van ’n koning wees. En as sy maer en mooi (in dié volgorde) is en gereeld glimlag, word sy ’n mediaverskynsel en leef vir die res van haar lewe in die glaskas van Die Huisgenoot en die poniekoerante. Verstaan my mooi, ek het ook vir Diana bewonder en ek kyk ook Kate se klere en pragtige kinders as niemand my sien nie. Maar dis nie wat ek die dogtertjies van die wêreld toewens nie.

Ek wens hulle toe om gemaklik in hul eie vel te wees. Om so maer of onmaer te wees as wat hulle gemaklik kan handhaaf volgens hulle genetiese samestelling en die leefstyl wat hulle verkies. Om nie hulpelose prinsessies te wees nie, maar vegters vir die dinge wat saakmaak. (Dit sluit nie klipgooi en afbrand in nie.) Om met ’n  man (of selfs ’n vrou) te trou omdat hulle hom/haar lief het, nie om van haar eie omstandighede of finansiële verknorsing weg te kom nie. Selfs nie eens om kinders te hê nie. As sy dalk langer, ryker of meer geleerd as haar eie, persoonlike held is, hanteer hy dit. Of probeer ten minste sy bes. (Want hy is ’n man in voeling met sy emosies en bereid om aan probleme te werk.)

Net ’n mens(Voorblad)

In Romanzas en Vrouefiksie tree vroue met meer lyf en meer karakter al hoe meer na vore!

Ek wens moderne dogtertjies veral toe om te kan NEE sê. Ja, soms ook vir tjoklits. Maar veral vir seks. Binne én buite die huwelik. En dit lyk my, hoe vroeër ’n meisie dit kan aanleer, hoe beter. Aan die ander kant moet sy ook kan JA sê. Op die regte tyd vir die regte man.

En dis presies wie en wat die moderne Romanza-heldin is. Sy is nie noodwendig beeldskoon, bloedjonk en/of brandmaer nie.  Sy is haar eie, unieke mens. Met oorgawe. Sy het ’n goeie werk of ’n loopbaan of sy is aan die veg daarvoor. Sy weet wat sy wil hê. En as sy nie weet nie, vind sy uit. (En dis nie in die heel eerste instansie ’n man nie.) Sy voel nie sy moet getroud wees voor haar mondigwording nie. Trouens, haar mondigwording lê dikwels ver in die verskiet. Sy kan selfs al die rype ouderdom van veertig of – behoede ons! – sestig bereik het. Sy kan plooie en/of rolletjies hê. Sy kan geraamtes in haar kas hê. Sy kan mislukte verhoudings in haar verlede hê. Sy is selfs ’n bietjie sinies, want sy het waarskynlik al seergekry. Sy het waarskynlik al seks gehad. Sy het self besluit of sy dit wou doen. Sy het dit nie noodwendig geniet nie, want sy het nie noodwendig ’n minnaar gehad wat haar respekteer en bewonder nie. Of sy het dit inniglik geniet en is nooit weer met tweedeklas tevrede nie.

Bowenal is sy iemand met integriteit. Sy is wat sy is. Sy is nie vals nie. En sy soek na ’n man (Want ja, sy soek hom. Dis net nie ál wat sy doen nie.) van dieselfde gehalte.

Maar sy het steeds ’n hart so sag soos ’n malvalekker. Want sy bly ’n vrou.

Jy sê dis ’n droomvrou wat ek hier skets? Natuurlik is dit. Want dis wat ons met die lees (en die skryf!) van romanses doen: Ons droom. Ons verdrink ons vir ’n paar uur in ’n stukkie fantasie. En daarna kom ons met nuwe moed terug na die harde werklikheid. Soms ontdek ons selfs in ons eie werklikheid ’n splintertjie van daardie fantasie. Droom is belangrik. Droom kan ons staande hou wanneer dit rondom ons brand (letterlik of figuurlik).

Lank lewe Lucas Maree se Droomvrou. Lank lewe die moderne Romanza-heldin!

 

5 thoughts on “Hoe lyk die moderne romanseheldin? – Alta Cloete

  1. amandacl says:

    Ek het onlangs ‘n redelik klomp Romanzas gelees, en ek stem een honderd persent saam met Alta se opsomming van hoe die moderne heldin daar uitsien. Dit kom beslis so deur in die nuwe Romanzas. Die dames staan hulle staan, maar tog pragtig en besonders,elkeen op haar unieke manier.

  2. Chanette Paul says:

    Wonderlike insigte en ‘n heerlike stuk skryfwerk hierdie, Alta! Dis goed om te onthou hoe desjare se heldin gelyk, geklink en opgetree het sodat ons kan verstaan hoe ver ons gekom het – en dit sonder om op te hou droom.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s