Onder dieselfde sterre – Anna Penzhorn

Onder die sterre_high res

Jacolien stap deur die tuin en om Skuilkrans se opstal. Dis ’n warm, windstil dag. Die enigste teken van lewe is ’n swerm spreeus in ’n maroelaboom. In die oop deur van die grasdakrondawel gaan sy staan en haar voete groei aan die sementvloer vas. Sekondes gaan soos minute verby.

’n Man sit uitgestrek op haar oorlede pa se uitskopstoel. ’n Stetson bedek die boonste helfte van sy gesig. Haar oë gly oor die prominente kakebeen, bene wat lyk of hulle vir ewig aanhou en gepunte stewels. Die vreemdeling laat haar soos ’n indringer voel, selfs al is hy salig onbewus van haar teenwoordigheid.

Die stoel het seker agtergebly toe haar ma en haar nuwe man drie maande gelede van Skuilkrans af see toe getrek het. Volgens haar ma bly pa Jan se enigste seun nou op die Bosveldplaas. Die cowboy kan dus niemand anders as haar stiefbroer, Stiaan van Dijk, wees nie.

Opgekrul by Stiaan se voete lê ’n foksterriër wat lyk of hy eweneens, gesus deur die suising van duisende sonbesies, in ’n diep slaap verkeer. Dis erg genoeg dat sy onaangekondig op Skuilkrans opdaag; nou lyk dit boonop asof sy Stiaan van Dijk uit sy middagslapie gaan wakker maak. Die foksterriër doen dit vir haar, vlieg op en gaan aan die blaf asof sy ’n gevaarlike virus is wat die mensdom se voortbestaan bedreig. Maar die lawaai is nie genoeg vir Stiaan om die hoed van sy gesig te verwyder nie.

“Bedaar nou, Jakkals.” Hy streel met ’n skoenpunt oor die foksterriër se rug. “Oom Kerneels, sê vir die werksmense hulle moet opskud, die vendusie begin oor ’n uur. Ek het nie heeldag tyd nie.”

“Ek ook nie.” Jacolien se stem is sekerder as wat sy voel.

Stiaan lig die hoed in ’n stadige beweging van sy gesig af, en sy kop van die stoelleuning. Hy moes pas gestort het, want sy hare is krullerig klam. Asof die daglig te skerp is, kyk hy na haar met oë op skrefies getrek.

“Juffrou, ek weet nie wie jy is nie. Ek wil ook nie weet nie.” Hy sit regop, tel ’n opgefrommelde papier van die tafeltjie langs hom op en gooi dit met ’n goedgemikte hou in ’n vullismandjie. “Jy het verby die afdraai na die 4×4-roete gery. Draai in jou spore om, die plaaspad loop op Skuilkrans dood. Julle avontuursoekers maak ’n gewoonte daarvan om te verdwaal.”

Haar hart klop voelbaar, die eerste teken dat sy haar bloedig gaan vererg. Maar nou is nie ’n goeie tyd nie. Sy sal haar sending om vas te stel of haar ma se erfstukke in haar meenthuis gaan pas, in die wiele ry. ’n Geïrriteerde frons is nie die reaksie wat sy gewoonlik van ’n man ontlok nie. Wie dink hy is hy? En wie dink hy is sy? Ooglopend verwelkom hy nie vreemdelinge in sy persoonlike ruimte nie. Maar sy is streng gesproke nie ’n vreemdeling nie. Dalk hou hy in die algemeen nie van meisies nie, beslis nie van dié wat op sy grondgebied oortree nie.

“Ek is Jacolien Maree, ek neem aan jy is Stiaan van Dijk. En ek is nie op soek na avontuur van enige aard nie.” Al die selfvertroue waaroor sy beskik, is in haar stemtoon vasgevang.

Jakkals besnuffel haar asof die kat, wat haar stert in die lug op die werf verwelkom het, haar tot in die rondawel gesleep het. Terselfdertyd bekyk Stiaan haar soos iets wat op ’n skou beoordeel word en ’n twyfelagtige kans staan om ’n prys te wen. Sy sal die pêrels wat sy van ouma Lien geërf het, verwed dat hy meisies wat nie staal in hulle pype en hare op hulle tande het nie, vir ontbyt eet.

“Ek sien.” Die twee woorde kom elkeen afsonderlik by sy mond uit. ’n Vol mond gedefinieer deur ’n opvallende kurwe, merk sy teen haar sin op. Die stoppelbaard op sy ken is ook ’n verskynsel waaraan sy nie gewoond is nie. Die mans in haar binnekring is skoongeskeer, dra dasse en lê nie agteroor in stoele nie. Ruaan de Jongh, die liefde van haar lewe, is ’n voorbeeld van so ’n man en kan nie in een asem met iemand soos Stiaan genoem word nie.

“Dan is my pa met jou ma getroud,” praat hy weer. “En net terloops, vir my vriende en familie is ek Stiaan. Vir die ander Sebastiaan.” Die teregwysing maak die situasie nie minder ongemaklik nie, want vriende is hulle nie en deel ook geen bloedband nie. Vir haar is hy dus Sebastiaan. “En waaraan het ek die eer te danke, Jacolien? Of is dit nou Lientjie?”

“Jacolien vir mense wat my nie ken nie,” troef sy hom, maar haar ongemak styg ’n graad. Sy oë hou die moontlikheid in om te terg, maar seker nie nadat hy in sy middagslapie gesteur is nie.

“Jou ma en my pa bly die afgelope drie maande nie meer op Skuilkrans nie.” Hy praat met haar asof hy in graad twaalf en sy in die laerskool is.

“Vanselfsprekend weet ek.” Sy sluk swaar. “Ek bedoel waar my ma is.”

“Ek aanvaar jy is hier omdat jy nog altyd ’n brandende begeerte gehad het om jou stiefbroer te ontmoet.”

Die kyk wat sy hom gee, kan die grasdak aan die brand steek, maar keer nie dat sy oë soos voelers oor haar gly nie. Is haar romp nie te kort nie? Of het sy dalk toe sy lipstiffie in die kar aangesit het, haar liplyn misgetas?

“Om ’n stiefbroer te hê was nog nooit boaan my wenslys nie.” Sy praat sonder om te dink. “Vra my ma as jy my nie wil glo nie.”

“Die twee verliefde ou siele is behoorlik die kluts kwyt.” Hy staan op en vou sy hande om sy biseps. Sy wens hy het nie, want dit maak hom selfs meer intimiderend.

“Ek stem nie saam nie. Om verlief te wees is so natuurlik soos asemhaal.”

“Meesal is dit verbeelde emosies. ’n Mors van tyd en energie.” Hy snork deur sy neus. “Hulle koer vir mekaar en hou soos tieners hande vas.”

“Ek het nie geweet daar is ’n ouderdomsbeperking op verlief raak nie,” gaan sy hom moedswillig teë. As sy nie so verleë was om in die ou plaashuis te kom nie, het sy sy raad gevolg en omgedraai. Pleks daarvan maak sy haar rug reguit, haar longe vol lug en kyk na Sebastiaan soos na ’n kind wat nie sy huiswerk gedoen het nie. “Vir my is dit nogal oulik as ouer mense mekaar liefdevol aanraak.”

“Om verlief te raak, is ’n streep wat die lewe ons trek. As jy dit nie weet nie, gaan jy die een of ander tyd jou kop stamp.”

“Om lief te hê is om te waag,” sê sy koppig.

Sebastiaan is so deursigtig soos glas, dink sy. Hy is ontnugter en nou pantser hy hom teen die seerkry van die lewe. Saam met die gedagte wat deur haar kop flits, val haar maag tien vloere in ’n stukkende hysbak. Sy irisse is ’n ryk, diep bruin – molasse en sjokolade en espresso en elke ander dekadente geur. ’n Meisie kan in sy oë verdrink, vrywilliglik.

As die bank nie met tydskrifte besaai was nie, sou sy gaan sit het. Die man se nabyheid is soos ’n spinnekopbyt wat haar stadig verlam, want haar bene voel of sy al die pad van Polokwane geloop het. Aan die ander kant wil sy so gou moontlik wegkom van die bruin van sy oë en daardie trek om sy mond wat haar laat vermoed daar was ’n tyd toe hy maklik geglimlag het.

“Jacolien.” Hy proe aan elke lettergreep van haar naam. Mans kyk dikwels na haar met oë soos dié van ’n verleë brak wat dae laas ’n been gekry het. Maar dis nie hoe Sebastiaan van Dijk na haar kyk nie, hy laat haar eerder voel sy is ’n vreemdsoortige spesie wat sy wêreld binnedring. “Jy lyk na ’n dapper muis en nie na die sagte katjie wat jou ma Lientjie noem nie.”

“Niemand het my nog ooit met ’n muis vergelyk nie. Ek vertrou dis nie jou idee van ’n kompliment nie.” Haar hand vou stywer om die band van haar handsak wat oor haar skouer hang. Van ’n man met soveel arrogansie kan sy enigiets verwag.

One thought on “Onder dieselfde sterre – Anna Penzhorn

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s