My boeke is my kinders − Anna Penzhorn

As ek verveeld is…

Wat is verveeld? Maar soms speel ek tydrowende speletjies op my tablet.

Vrede omring my as …

Ek goeie kos eet en verouderde wyn drink saam met ou vriende voor ’n kaggelvuur.

Ek droom van ’n vakansie in …

Kroasië. Drome is gratis.

kroasie1

Watse verrassings is in jou beursie?

Die blou note in my beurs verras my telkens as ek agterkom hulle verdwyn soos water deur ’n sif.

Ek kan regtig lewe sonder …

Onopregte mense, opgewarmde kos en slaggate in my straat.

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en …

Die man in my lewe nie. Sy naam is Charles en hy is ’n opregte hond met hier en daar Jack Russell voorouers.

My gunsteling woord is

Troetel. Wie wil nie vertroetel word nie?

My trooskos is …

Warm, tuisgebakte brood met regte botter en afval soos my ma dit gemaak het.

Wie is jou gunstelingskrywer?

Etienne van Heerden en Isabel Allende.

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

My ouma, want ek is hier omdat sy die konsentrasiekamp oorleef het; Albert Einstein, want ek hou van intelligente geselskap en Audrey Blignault, want sy kon die gewone buitengewoon maak.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Chris Roerden se boek, Don’t murder your mystery, is my skryfbybel. Niemand het my nog ooit soveel goeie raad gegee nie.

51W1yZbedRL._SX331_BO1,204,203,200_

Hoeveel beplanning en navorsing doen jy voordat jy begin skryf?

My beplanning vir ’n verhaal is nie langer as ’n bladsy nie. Ek hou byna nooit daarby nie, die karakters neem oor. Hulle laat my lag en maak my kwaad, maar as ek van hulle afskeid neem, huil ek. Indien ’n tema vreemd is, sal ek begin deur navorsing te doen of met ’n kenner te gesels. Andersins kom Google tot my redding.

Het jy altyd weet dat jy ’n skrywer wou word?

Nee, dit was eers na my eerste verhaal gepubliseer is, wat ek verslaaf geraak het aan die bevrediging om met woorde te speel.

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

Ek sal ’n regisseur wil wees. Dan kan ek ‘speel’ met regte mense en nie karakters op die rekenaarskerm nie.

Wat beïnvloed jou skryfstyl?

Dit wat ek lees. Ek sal graag soos Susan Howatch wil skryf, ek bewonder haar styl.

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Ek skryf op my beste tussen vieruur en sesuur in die oggend − met baie koffie.

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Ek hou van roetine en probeer kantoorure werk. Natuurlik kry ek dit nie altyd reg nie.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Skryf is soos enige ander uitdaging: hoe harder jy werk, hoe gelukkiger word jy.

Wat is die inspirasie agter Onder dieselfde sterre?

My vrees vir knaagdiere. Ek het gewonder wat sal gebeur as my heldin haar vrees vir ’n rot moet te bowe kom ter wille van die liefde.

Onder die sterre_high res

Wat is die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan tot dusver?

Elke keer as ek ’n manuskrip voltooi, of beter nog, die eindproduk in my hand hou, is dit ’n hoogtepunt. My boeke is my kinders. Ek skryf vir my lesers en daarom is erkenning deur ’n leser vir my elke keer ’n hoogtepunt. Dit laat my voel alles is die moeite werd.

 

One thought on “My boeke is my kinders − Anna Penzhorn

  1. Renate Roux says:

    My liefste Anna. Ons is al 45 jaar beste vriende en ek dink ons het mekaar nog altyd oor-en-weer bewonder. Ek het soveel respek vir jou pragtige skryfstyl en deursettingsvermoë. Jy gee nooit op nie, probeer altyd weer deur storms en reën en mooiweer. Jy het my gehelp om my eerste roman te skryf en nou worstel ek om ‘n jeugverhaal gepubliseer te kry, want sien ek is nie so ‘n getroue werker soos jy nie. Ons twee is in elk geval “Onder dieselfde sterre,” gebore. Renate Roux.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s