Moeilikheid met ’n meermin – Sophia Kapp

Moeilikheid met 'n meermin_high res

Kate haak die band van haar sak oor haar skouer en tel die laaste krat met die mediese toerusting op wat sy gewoonlik saans in die kantoor toesluit. Miskien, as sy maak asof sy hom nie sien nie en net eenvoudig ook wegstap, sal hy opspring en agter haar aankom, en kan sy hom van die boot afkry sonder ’n konfrontasie. Want sy kan sien hy brand om een af te dwing. Die hele dag nou al hang hy om haar rond, nie in haar pad nie, maar só dat sy nie van hom kan vergeet nie.

Nie dat sy sou kon nie, al het hy hom in die romp toegesluit – daarvoor is hy net te . . . te dáár. Dis die statuur van die man, die aura van selfvertroue wat hy soos ’n harnas dra, die helder bruin blik wat haar vashou al wil sy nie vasgehou wees nie, wat hom onvergeetlik maak. Die lyf en die gelaatstrekke, hoe strelend op die oog ook al, is niks in vergelyking met sy syn nie.

Sy sug ongeduldig. Dit maak nou nie saak hóé aantreklik of indrukwekkend Gerrit Ebersohn of sy werk is nie, sy wil hom nie in haar lewe hê nie. Nie in enige hoedanigheid nie. Hou gouer hy – en sy – dit begryp, hoe beter vir hulle al twee.

Maar nou sit hy waar hy sit en sy kan nie die boot verlaat voordat hy af is nie. Maatskappybeleid.

“Meneer Ebersohn, die rit is verby, jy moet asseblief nou afklim.”

Hy roer nie.

Sy byt op haar tande, plak die krat neer en stap uit tot in die boeg waar hy sit. “Het jy my gehoor?”

Die bruin oë glinster. “Ja, ek het.”

“Gaan jy reageer?”

’n Grinnik pluk aan die mooi mond, en dan rank hy uit sy sitplek uit. Haak die toiingrige sak oor sy skouer. “Ek sal afklim sodra jy my die geleentheid gegee het om met jou te praat.”

“Ekskuus?” Hierdie man gaan haar voor ’n ultimatum stel? Dink hy nou wraggies hy gaan haar manipuleer sodat hy sy sin kan kry nadat sy dit duidelik gemaak het dat dit nie ’n opsie is nie? Wie dink hy is hy? En belangriker nog, wat dink hy is sy?

“Komaan, Kate,” paai hy saggies, sy oë intens en donker. “Jy wil tog nie vir my sê jy voel dit nie ook nie? Daar is iets aan die gang tussen ons en dis dalk net die moeite werd om uit te vind wat dit is.”

In haar bruis die paniek. Ja, daar is iets tussen hulle. Ten spyte van alles, teen al die waarskuwings wat haar gesonde verstand uitstuur, teen alle ervaring in, is daar ’n bewustheid. Sy kan daarteen baklei, maar sy kan dit nie ontken nie.

Vir hom is dit natuurlik om dit verder te wil ontdek. Vir haar is dit waansin. Heerlike waansin, maar waansin nietemin.

Al wat oorbly, is aanval. Met alles wat sy het.

Sy kyk hom op en af. “Iets aan die gang, sê jy? Watse ‘iets’?”

“Dis wat ons moet uitvind,” antwoord hy glad. Met net die regte tikkie rasper in die stem.

Gee hom wat hom toekom, dink sy: Hy is ’n uitstekende toneelspeler. As sy nie geweet het hoe maklik dit vir ’n man is om met ’n vroumens se kop te smokkel nie, sou sy kon dink daardie donker blitse in die oë en die manier waarop die borskas styg en val, is opreg.

Sy knik asof sy saamstem. “Ek dink jy’s reg. Ons behoort uit te vind presies wat jou ‘iets’ is.”

Die blyheid wat deur die bruin skiet, beroof haar amper van haar fokus. Amper. Hemel, die man hoort op Broadway, so goed is hy. ’n Oomblik lank wou-wou sy glo dat die ongebreidelde vreugde opreg is.

Voordat dit haar ontspoor, tree sy vorentoe, kry hom aan die nek beet en trek sy kop nader. Haar mond gryp syne, vol en warm, en sy soen hom, behoorlik, volledig, met lippe en tong en baie beweging, totdat sy mond van pure skok oopval.

Sy weet presies waar sy hom het, weet presies hoe lank om hom daar te hou, presies wanneer om die soen af te breek en hoe ver om terug te tree. En sy weet presies hoe om haar mond te roer, haar lippe baie effentjies te smak soos wat ’n mens maak as jy aan ’n glas bedenklike wyn geproe het, en hom dan takserend te staan en aankyk.

“Mmm,” sê sy onentoesiasties, “so drie, vier, sou ek sê. Daar is potensiaal, maar dit gaan nooit beter word as ’n vyf nie.” Sy gee hom ’n breë, onopregte glimlag, skud haar kop en kreukel haar neus. “Jammer, dit doen dit nie vir my nie. Maar moenie sleg voel nie, daar is ’n hele eiland vol girls wat dit as ’n groot kompliment sal beskou om in jou skoot te kan val. Probeer een van hulle. Maar ek gaan nou huis toe, want my dag was lank en ek is te moeg om verder met jou speletjies te speel. Totsiens, goeienag, oor en uit.”

En daarmee tree sy terug, sluit al twee die deure van die kajuit, tel die krat op en stap met lang treë al met die kaai tot by die kantoor. Waar sy net so vinnig sluit, in haar kar klim en ry.

Die enigste manier waarop Gerrit Ebersohn van daardie boot gaan kan afkom, is om op die reling te balanseer tot by die agterstewe waarvandaan hy op die kaai sal kan klim, en dit gaan hom ’n paar minute neem as hy nie met kamerasak en al in die water wil beland nie. Sy het ’n voorsprong, dis nie nodig om te jaag nie.

Maar die feit dat sy fisiek van hom af kan wegkom, beteken nie haar kop het hom laat los nie. En sy kan vir hom lieg oor haar reaksie, maar vir haarself kan sy nie om die bos lei nie. Alles aan haar – hartklop, asem, ingewande – is aan die ruk en bewe. Alles aan haar wat vrou is, het wakker geword die oomblik toe sy daardie mond onder hare geproe het. Alles wat lyflik is, alles wat nodig het, is skielik skreeuend en klouend, pleitend vir ontlading.

Soos weerlig, dink sy. Dis soos om weerlig in jou hande te probeer hou.

Kate haal diep asem en hou dit vir ’n paar tellings in haar longe totdat die bewing in haar begin bedaar. As sy weet wat goed is vir haar, sorg sy dat haar en Gerrit Ebersohn se paaie nie weer kruis nie. Niemand se hart, nie eens haar hardgebakte een, kan twee keer deur weerlig getref word en daarna ooit weer normaal klop nie.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s