Wanneer die werklikheid vreemder as fiksie is …

 

Bok dreams

As uitgewer is een van my hooftake om manuskripte te keur en een van die belangrikste kenmerke waarvoor ek veral op die uitkyk in ’n verhaal is, is geloofwaardigheid. Dis dié dat ek onlangs met die lees van die Romanza-skrywer Karen de Villiers se manuskrip ’n sirkel om die beskrywing op die bladsy trek. Toe sy beskryf hoe ’n hond stappers na ’n waterval in ’n kloof begelei, dink ek, wag ’n bietjie, dis mos nie geloofwaardig nie?

Een van die kenmerke van ’n romanse is dat beide die verhaal sowel as die karakters geloofwaardig moet wees. Alhoewel die leser met die lees van die romanse na ’n soort sprokieswêreld wil ontvlug, moet die liefde en verhaalgegewens steeds tasbaar wees en kan die ridder nie sommerso uit die lug op die heldin se skoot val nie. Die leser wil glo dat hierdie liefdesverhaal háár liefdesverhaal kan wees en dat hierdie liefdesprokie in der waarheid ook in die regte lewe drie-dimensionele (werklike) vorm kan aanneem.

Dis egter nie lank nadat ek haar manuskrip vir haar teruggestuur het nie, dat Karen my kontak. Ons gesels land en sand en toe sê sy ferm dog vriendelik, “Hoor hier, ek wil net vir jou sê, daai storie van die hond is waar …” En ek hoor haar. En ek wil haar glo, maar steeds voel dit vir my dit kan mos nie wees nie. Maar Karen hou vol die hond bestaan en dis daar iewers in Pelgrimsrus en al sluk ek swaar aan die storie, begin ek al dink hoe ons die hond-verhaal op ’n meer geloofwaardige wyse deel van haar romanse kan maak.

Sowat twee weke later, liewe leser, kom kuier my skoonouers by ons. Ons het verlede jaar probeer om in een dag deur die Baviaanskloof in die Oos-Kaap te ry, maar moes noodgedwonge moed opgee toe ons teenspoed met die kar optel. Terloops, daardie pad, as mens dit kan waag om dit ’n pad te noem, skud jou skelet uitmekaar en indien jy gelukkig is, ruk dit jou rug weer in lit … gewoonlik gebeur presies die teenoorgestelde egter – jou rug ruk uit lit uit en jou spiere word spasmaknoppe. Skoonpa is nietemin vol moed en ywer om weer die kloof aan te pak – “dié keer sal ons dit oor twee dae doen”, sê hy. Hy het reeds verblyf in die kloof op die Bokloof-gasteplaas bespreek en vertel opgewonde van die hond wat ons deur die kloof sal lei …

“Wat?” vra ek oorbluf. “Pa speel seker?” Ek vertel hom hoe ek vir Karen laat weet het die deel in haar verhaal oor die hond wat toergids speel, is net te ongeloofwaardig. Skoonpa pluk al laggende die opgevoude koerantuitknipsel uit die Oos-Kaapse Burger uit sy rugsak en sowaar. Ek lees die berig “Skollie, jy hét my onthou, of hoe?” (Die Burger, 2016-06-13)  waar Monique Basson vertel hoe sy vyf jaar gelede tydens haar wittebrood die eerste keer met die Bezuidenhout’s van Bokloof se toergidshond Skollie kennis gemaak het en hom toe vanjaar weer gaan groet het.

Nouja, so liewe leser, is ons toe 22-24 Julie Oos-Kaap toe en ek het die geskud en die rit teen al die passe op en af oorleef. Ons het heelhuids by Bokloof in die Baviaanskloof arriveer en is daar deur die gasvrou Anina Bezuidenhout verwelkom. Aangesien sy toe sê dat die Waterkloof staproete ’n absolute móét is en ons reeds die volgende oggend vroegoggend weer in die pad sou moes val vir deel 2 van die Baviaanskloof, besluit ons toe om die laaste bietjie lig voor skemer te benut.

En so word Karen se verhaal werklikheid: Die ou bruin-swart Skollie-hond wat voor die staproete se bordjie lê en dut het, vlieg op en wys vir ons die pad aan. Kort-kort draf Skollie ’n ent vooruit en verdwyn dan in die bos tussen die malvaplante op soek na ’n muis of insek. Sodra ons hom egter durf verbysteek, skiet hy in die paadjie by ons verby – so asof hy wil sê: “Ek sal hierdie stappie lei, volg vir my!” My kop is vol verwondering, Romanza, romanse, die Liefde en die mag van stories. Ek kan nie glo dat ek skaars twee weke gelede ’n manuskrip aan ’n skrywer teruggestuur het met die boodskap dat die verhaal oor die toergidshond net te goed is om waar te wees nie en hier stap ek deur die stilte van ’n kloof diep in die Baviaanskoof met ’n toergids wat my lei.

Dis vinnig besig om sterk skemer te word en ons besluit om eers om te draai sodat ons met die paadjie terug nog genoeg lig het om te sien waar ons ons voete neersit. Vir oulaas kyk ek om na die al nouer-wordende kloof en dis toe dat ek die vinnige flits rooi van die Knysna-loerie se vlerk sien. Dis ’n magiese plek, dié, dink ek – die werklikheid is werklik vreemder as fiksie.

Knysna loerie

©Marlies Haupt

Lees hier meer oor die toergidshond Skollie van die Baviaanskloof, asook Bokloof:

http://www.netwerk24.com/Ontspan/Buite/Skollie-steeds-bobaas-van-Baviaans-20150331

http://www.netwerk24.com/Ontspan/Buite/skollie-jy-het-my-onthou-of-hoe-20160613

http://www.bokloof.co.za/activities

Foto van karre in die Baviaanskloofpas: http://www.kougadaytrip.co.za

Foto van Knysna-loerie: http://www.gardenroutetrip.co.za

Foto van die boek en verbeeldingsvlug: http://www.threebgagsofsugar.com

Ander foto’s geneem deur M Haupt en EJ Marais.

 

 

3 thoughts on “Wanneer die werklikheid vreemder as fiksie is …

  1. AWETHENTIQ says:

    Soms is uitgewers ongelukkig die ongeloofwaardiges. Uitstekende boeke is deur baie afgewys agv persoonlike voorkeur, gelukkig is baie gered deur ander, ouliker uitgewers. Dan: die ware Mandela, die waarheid oor SA, wel, meeste uitgewers is nie ingelig of dapper genoeg daarvoor nie. The Truth About South Africa – http://wp.me/p7D18q-L1 is iets wat almal moet hoor maar wie sal dit vertel?

  2. kristelloots says:

    O, ek hou baie van hierdie storie. Veral oor die bietjie ‘egg on face’ en vir `n wonder is dit nie mý gesig wat die ‘egg on face’ het nie. En ek hou van die grasie waarmee die flatertjie erken word. En ek hou van die lekker verteltrant van die storie. Ek hou sommer van julle almal.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s