’n Tweedehandse hart − Didi Potgieter

Net toe Helene dink die rit plaas toe gaan so stil verloop soos die een die oggend, gee Cronjé ’n ongemaklike kuggie. “Ons sal seker moet gesels oor hoe ons dinge gaan hanteer.”

“Watter dinge?” hou sy haar dom. “Jy sal meer spesifiek moet wees, Cronjé.”

“Ons . . . alles. Hoe gaan ons die volgende paar maande hanteer?”

Helene hou haar asem ’n paar sekondes op. “Ek weet nie; jy is die een met die planne.”

“Jy het jou nog nooit regtig aan my planne gesteur nie.”

“Dis ook weer waar.”

Die glimlag wat volg op die opmerking slaan amper haar asem weg. “Jy het my nooit gesê wat jy met Groote Schuur gereël het nie.”

“Ek moet my vasgestelde aantal ure in die akademie insit, verder kan ek eintlik kom en gaan soos ek wil. Ek het gedink dit sal goed wees as ek my teaterlyste om jou rooster kan beplan. Dit is die beste wat ek vir die huidige kan doen.”

Hy knik. “Ek waardeer regtig jou moeite. Wat het jy gesê is die rede waarom jy Bloem toe kom?”

“Dat ek nie onmiddellik van my man kan skei nie omdat ons nou saam ’n kind geërf het, maar dat ek net wil verseker jy kry toesig voor ek terugkom.”

“So hulle weet van ons?”

Helene knik.

“Weet hulle dat jy Lindi geken het?”

“Nee.” Helene sluk swaar. “Pla dit jou?”

“Dat hulle nie weet jy het Lindi geken nie?”

Helene glimlag flou. Hy is seker ook daarop geregtig om dom te speel. “Nee, dat ek haar hart geoes het.”

Hy trek sy skouers op en skud dan sy kop. “Ek het Donderdagaand gedink dit pla jou, en Vrydag gewens dit is die geval, maar teen gister was ek vas oortuig dat as Lindi kon kies, dit jy sou wees. Ek is bly jy was in haar laaste oomblik by haar. Dat sy nie alleen was nie.”

“Die oomblik in die teater was nie haar laaste nie, Cronjé, die oomblik in die kar was. Dit was saam met Hannes, en ek dink dit sou haar keuse gewees het.”

“Is jy nog kwaad vir hulle oor hulle mekaar liefgekry het?”

Helene skud haar kop. Sy wil teenoor hom erken dat sy nooit regtig kwaad was daaroor nie, omdat sy immers self vir iemand anders lief was terwyl sy met Hannes uitgegaan het. Dit het gegaan oor die tydsberekening. Sy was kwaad omdat Frik Stander op sy sterfbed gelê het en sy hom nie kon haat nie, maar ook nie kon vergewe nie. Al wat sy egter uitkry, is: “Nee.”

 

Daar heers weer stilte tussen hulle tot hulle by

die huis kom en die inkopies wegpak. Cronjé weet egter dat daar nog bitter baie goed is wat gesê moet word, daarom val hy met die deur in die huis toe Helene die ketel aansit. “Jy weet almal

op Dewetsdorp gaan wonder hoekom jy terug

is, nè?”

Helene trek haar skouers ongeërg op. “Met Retha Erasmus as oom Ben se sekretaresse gaan hulle nie lank wonder nie.”

“Hulle gaan skinder oor ons.”

“Hulle moet maar skinder, Cronjé, daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Solank dit nie ons saak benadeel nie.”

“Dit is waarvoor ek bang is. As Retha die skinderbek agter die stories gaan wees, gaan almal weet jy is nie hier uit vrye wil nie.”

“Niemand kan dit bewys nie.”

“Ek weet, maar dit is belangrik dat jou en my storie moet ooreenstem.”

“Watse storie?”

Cronjé haal ’n slag diep asem. “Dat die baba wat ons verloor het ons huwelik gesink het. Dat die feit dat ons nou ’n kans het om ’n kind saam groot te maak ons weer nader aan mekaar gebring het.”

Haar oë is soos ys. “Tegnies is dit die waarheid.”

“Ons kon weer probeer het.”

Sy skud haar kop en vir ’n oomblik verbeel Cronjé hom hy sien trane vlak in haar oë. “Ek is jammer. Ons is van mekaar vervreem, ons wil weer saam wees, en as die paw-paw die fan strike, dan sê ons net dit het toe net nie gewerk nie!”

“Hoe eenvoudiger hoe beter.” Sy haal ’n slag diep asem. “Daar is nog iets wat ek met jou wil bespreek.”

“Wat?”

“Geen oorbodige public displays of affection nie.”

“Wat?”

“Jy mag voor mense my hand vashou, dalk jou arms om my skouers sit. In uiters noodsaaklike situasies my dalk soen. Maar dis al, en net voor mense.”

“Wat dink jy van my?”

“Dit is nie wat ek van jou dink nie, Cronjé, dit is wat ek van mans oor die algemeen weet. My bed is my bed, joune is joune, en as jy dit nie kan respekteer nie, pak ek my goed en gaan terug Kaap toe.”

“Glo my, jy hoef nie daaroor bekommerd te wees nie.” Vies vir homself en vir haar draai hy om en stap by die agterdeur uit.

Mans oor die algemeen? Wat de hel beteken dit? Dat sy nie die afgelope vyf jaar vreeslik kuis gelewe het nie? Die swaaideur wat agter hom toeklap, eggo die gevoel in sy binneste. Hy gee werklik nie ’n blou duit om of sy ander mans in haar bed gehad het of nie.

Maar hy gee tog om, moet hy teenoor homself erken toe hy by die store trek en sy hartklop steeds nie na normaal teruggekeer het nie. Sy is syne. Sy was syne. Net syne. Die dag toe sy by die deur uitgestap het, was hy die enigste persoon wat haar op daardie vlak geken het, en dit brand soos ’n kool vuur om te dink dit is tien teen een nie meer die geval nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s