Perfek vir mekaar − Louise Minnaar

Perfek vir mekaar high res

Nicola en Daniel loop gelyk by die winkeltjie in.

Sy ignoreer hom. Dit sal waarlik makliker wees om hom op ’n afstand te hou as sy nie so gereeld in hom vasloop nie. Om hom blatant te ignoreer is redelik ongeskik en nie heeltemal hoe Nicola verkies om mense te behandel nie.

“Geniet jy darem nog die rit?” vra hy vriendelik.

Nicola knik net. As hy so vriendelik is, is dit baie moeilik om hom koud te behandel. Dókter Daniel, so ewe. Kan hy nie agterkom dat sy liewer nie met hom wil praat nie? Sy weet sy sal môre, selfs vanaand al, beter voel en weer kans sien om met hom te praat, maar op die oomblik is sy nie lus nie. Hy hou haar vir die gek en lag heel waarskynlik agteraf vir haar.

“Ek hoop nie jy is van plan om my die hele tyd te ignoreer nie?” vra hy met ’n glimlag. Klaarblyklik pla dit hom glad nie dat Nicola niks met hom te doen wil hê nie.

“Hoekom nie?” vra Nicola bitsig.

“A, sy praat darem weer met my.”

“Moenie spesiaal voel nie.”

“Nee, met jou naby sal ek verseker nie spesiaal voel nie,” antwoord Daniel droog. “Drink jy Coke?”

Nicola knik en sien verbaas hoe hy twee koeldranke uithaal en daarmee betaalpunt toe loop.

“Ek kan my eie koeldrank koop,” laat sy vies hoor. “Of dink jy net dokters kan dit bekostig?” Nicola voel hulpeloos. Sy wil nie hê hy moet vir haar koeldrank koop nie; sy wil nie eers hê hy moet met haar praat nie.

“Ek is seker jy kan. Maar neem dit nou in die goeie gesindheid wat dit bedoel is.”

Soveel geduld. Sy besluit om nie met hom te baklei nie. “As jy daarop aandring.”

“Jy kan maar net dankie sê.”

Sy antwoord hom nie.

“Ek hoop regtig nie jy gaan probeer om my die hele naweek te ignoreer nie, want ek gaan dit nie vir jou maklik maak nie.” Hy lyk skielik baie ernstig en Nicola twyfel nie dat hy dit bedoel nie.

“Hoekom . . .” Sy bly stil toe Liesa by die winkel inloop.

Nicola wonder of sy weet waarheen hulle op pad is. Watter tipe mens dra rompies en hoë hakke en rooi lippies Wildtuin toe? Nicola voel skoon ongemaklik vir Liesa se onthalwe. Nicola probeer onthou of Janine ooit genoem het watse werk Liesa doen. Sy moet onthou om weer vir Janine te vra.

“Hoekom het ek jou nie gesê dat ek ’n dokter is nie?” voltooi Daniel haar vraag van vroeër toe Liesa buite hoorafstand is.

“Ag, dit maak nie saak nie.” Nicola waai met haar hand.

“Is dit wat jou pla?”

Hoekom bly hy so geduldig, wonder Nicola opnuut.

“Niks pla my nie,” sê sy geïrriteerd.

“H’m. Ek wou nie die kans laat verbygaan om self ’n bietjie gedokter te word nie,” antwoord hy eenvoudig.

Nicola glimlag effens, maar voel nog steeds nie lus om hom te vergewe nie. “En jy stop my nie toe ek jou in detail vertel wat met jou enkel gebeur het nie? Jy kon dit heel waarskynlik beter verduidelik het.” Haar stem is beskuldigend.

“Jy onderskat jouself! Jy het heel goed verduidelik – ek kon nie fout vind nie.”

Sy trek vir hom ’n gesig, maar lag tog saam.

Hy betaal vir die koeldrank, draai dan na haar toe, en sy kan nie help om te dink dat hierdie hele situasie ’n déjà-vu gevoel meebring nie. Dit is presies soos die vorige dag in die winkeltjie waar hy net wil praatjies maak en sy nie met hom wil gesels nie.

Sy sê dit ook vir Daniel. Hy glimlag, maar vervolg dan ernstiger. “Ek is jammer, ek moes jou gesê het ek is ’n dokter. Ek het aanvanklik gedink jy weet.”

“Dankie vir die koeldrank,” is al wat sy sê toe hy die Coke na haar uithou.

Daniel stop en vat haar liggies aan haar skouer sodat sy ook moet gaan staan. “Wat sê jy? Kan ons die strydbyl begrawe?”

“Dit lyk heel intiem,” sê Liesa bitsig toe sy by die winkeltjie uitloop.

Toe Daniel haar nie antwoord nie, gaan staan Liesa langs hom, asof sy die gesprek wil oorneem.

Nicola sien dit as ’n gulde geleentheid om onder Daniel se ondervraging uit te kom. Geen meisie is bestand teen daardie blik nie, daarvan is sy seker. As hy met sy groen oë so reguit na jou kyk asof al sy aandag op jou gefokus is . . . Sy betig haarself. Hy is dit beslis nie werd nie.

Toe Nicola terugkyk, sien sy hoe Daniel nog steeds in haar rigting kyk. Sy is nie seker hoe om die uitdrukking op sy gesig te lees nie, maar dit maak haar ongemaklik. Asof hy dink hy sal haar nou laat gaan, maar wag maar net, hy sal nog ’n antwoord uit haar wurg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s