Kammabruid – Ida Bester

kammabruid_high res

Terwyl sy die verflenterde bome rondom haar beskou, kom Charles aangestap. Hy het ’n ent teen die rant opgestap in die hoop om selfoonontvangs te kry. Die tevrede uitdrukking op sy gesig wys dat hy daarin geslaag het.

“Sanrie, ek is jammer, maar die baas sê hulle kan in hierdie stadium net bekostig om een van ons per helikopter hier te laat uitvlieg. En dit moet ek wees, want hy wil hê ek moet sommer op pad terug foto’s van die oorstromings en skade aan paaie neem.” Die trots in Charles se stem is onmiskenbaar, al probeer hy om nie te kraai oor hy die gelukkige een is nie.

“Ja, dit kon ek voorspel het.” Sanrie vermoed haar ergernis is misplaas, maar sy kry dit nie onderdruk nie. Nie alleen gaan Charles die geleentheid kry om die gevolge van die wolkbreuk vas te lê nie, maar hy gaan ook ’n ongelooflik mooi deel van die land uit die lug sien. Dis ’n geleentheid waarvoor sy ’n tand, wel . . . ’n kiestand, sal gee.

“Bowendien sê hy jy moet asseblief die voertuig terugbestuur wanneer die paaie begaanbaar is, anders moet hulle boonop iemand betaal om dit te kom haal.”

Haar baas se opportunisme gaan nou wragtie te ver. “Fine, dan hoop ek hy het ekstra versekering uitgeneem ingeval die voertuig afgeskryf word. Vroue kan mos nie bestuur nie.”

“Nou praat die suur druiwe en jy weet dit, Sanrie. Ontspan en geniet die ekstra tyd in die lodge. Dink net hoeveel uur jy met daardie hygroman van jou in die jacuzzi sal kan deurbring!” Charles se selftevrede glimlag het pas ’n grynslag geword. Daar het niks oorgebly van die kameraderie wat tydens die nagtelike storm tussen hulle was nie.

“Weet jy, ek kan skaars agterkom wie van jy of die baas die grootste chauvinis is, maar toemaar. Ek en Luan is besig om dik pelle te word, en vir al wat jy weet, kom ek nog met ’n artikel oor die tweeling by die koerant aan. Los net vir my asseblief ’n kamera, hoor. Jy sal seker een van jou versameling kan afstaan.”

Charles vroetel in ’n drasak wat by die chalet se deur gereed staan en haal ’n kamera daaruit. “Moenie jou asem ophou nie, mevrou Riekert,” smaal hy, “ek is seker die Britse duke en sy gesin is hier uitgelig die oomblik toe dit bekend word van die groot reën. Hulle is long gone.”

“Hy’s nie van Brittanje nie, manlief.” Sy gebruik aspris die troetelnaam wat hy pes om haar wrewel in te vryf. “Hy is Dietrich von Stuber, oftewel die hertog van Leipzig, Duitsland. Jy moet meer dikwels die koerant lees waarvoor jy werk, lyk dit my.”

“Kyk vroulief, jou jaloesie en liefdeloosheid dwing my nou om onmiddellik ’n egskeiding aan te vra.” Charles buk om sy bagasie op te tel en kom na haar toe aangestap. “It was all right while it lasted, darling, but I’m leaving you because of your poisonous . . . Nee, oppas man, daai ding kos ’n fortuin. Sit neer.”

Sanrie verkneukel haar in Charles se ontsteltenis. Sy sou hom tog nie regtig met sy, of erger nog, die koerant se kamera gegooi het nie. Maar sy hoop die helikopter kom gou sodat sy met haar eie ontwrigte lewe kan aangaan.

Charles se opmerking laat haar kriewelrig wonder hoe die storm en oorstromings die adellike egpaar in werklikheid geraak het. Met ’n sug vrees sy dat hy reg kan wees en dat hulle die park verlaat het omdat hulle bang is vir verdere storms en ontwrigting. In daardie geval sal sy met leë hande terugkeer ná wie weet hoeveel dae hier in haar ark op berg Ararat.

 

Die tjak-tjak-tjak van ’n helikopter word hoorbaar. Met ’n stuk bagasie in elke hand kan Charles nie vinnig genoeg teen die steilte uit nie, met Sanrie kort op sy hakke. Toe die helikopter naby genoeg is, beduie ’n man in die oop sydeur dat hulle ’n tou gaan laat afsak. Sanrie wonder stuitig wat sal gebeur as sy vir Charles voorspring en eerste die tou sou beetkry. Maar sy verwerp dadelik die plan as gevaarlik vir haar loopbaan, want Phil Breda, haar baas, die suinige man wat boonop sonder ’n humorsin gebore is, sal ’n oorval kry as sy sy planne sou dwarsboom.

Sy bly dus gedwee staan terwyl Charles met sy bagasie by sy voete neergesit, hom in die helikopter vasgespe. Sy besef hy gaan sukkel om sy kosbare besittings opgetel te kry en staan vorentoe om dit vir hom aan te gee. Hou die kamerasak agter, fluister die duiweltjie agter haar oor ’n tweede moontlike wraakplan, maar sy raak geoefen daarin om die reperkussies van sy sluwe voorstelle te voorspel en pypkan hom weer. Sy draf gebukkend onder die orkaan van die rotor uit en staan en kyk hoe haar fotograaf die lug in gehys word.

“Totsiens, liefling. Kom haal my gou!” roep sy agterna vir die ore van enige personeellede wat moontlik staan en luister. Hulle staan dalk die reddingspoging vanaf die lodge op die Tweedepoortrant en dophou. Sy kan net-net uitmaak dat Charles vir haar tong uitsteek. Kleinlik van die man. Sy het tydens hul kortstondige verbintenis tog niks gedoen om die lewe vir hom moeilik te maak nie.

“Sanrie! Hoei, Sanrie!”

Sanrie . . . eggo haar naam in die kloof op. Sy kyk rond. Naby die chalet gewaar sy niks. Toe trek swaaiende arms op die dek van die lodge oorkant die ravyn haar aandag. Dis Luan wat sy bes doen om haar aandag te trek. Sy begin nader beweeg om te hoor wat hy te sê het. Halfpad met die paadjie af na die plek waar die hangbrug was, steek sy vas. Vir die eerste keer sien sy nou die kabel wat van ’n boom naby haar na die balkon van die lodge op die oorkantste rant gespan is.

“Sanrie, ’n werker het vanoggend vroeg sy lewe gewaag om die kabel oor te vat. Kom wag by die lodge tot die paaie weer oop is.”

Een kyk na die afstand tussen die kabel en die bodem van die kloof help haar om te besluit: Sy sal nie met die beste wil in die wêreld met die geprakseerde foefieslaaid oor hierdie ravyn beweeg nie. Hoe weet sy die boomstam waaraan die kabel vas is, is sterk genoeg vir haar gewig, selfs al is sy fyn gebou? Wie sê die kontrepsie waaraan sy veronderstel is om te hang, en haar arms, gaan haar tot aan die ander kant dra?

“Komaan, Sanrie. Ek sal jou aan dié kant vang!” Luan staan op die lodge se balkon, sy hande bak gemaak weerskante van sy mond sodat sy stem oor die afgrond kan dra. Dis eintlik nie eens nodig nie, want sy hoor sy skrikwekkende uitnodiging hard en duidelik.

Maar al klink dit hóé aanloklik om in Luan se arms te land en al wil sy hóé graag in sy oë dapper lyk, hom selfs met bewondering na haar laat kyk, sy kan die vrees vir daardie hoogte en die moontlike plons tot in die water, of erger nog, tot op die reuserotse doer onder, nie oorkom nie.

“Ek kan nie,” roep sy terug, “ek is jammer.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s