Moenie Romanzas op haar baadjie takseer nie – Mandie Human

rebrand banner 3

Vinnig het ek besef dat my prentjie oor Romanza’s heeltemal verkeerd is. Die opinies van ander het my opinie gevorm nog voordat ek self enige ervaring daarvan gehad het. Hoeveel vrouens het al ʼn Romanza-boek saam hul rooi rose ontvang en die boek net iewers in ʼn kas gebêre sonder om eers die agterblad te lees. Die stereotipering oor hierdie genre strek wyd in Suid-Afrika, terwyl dit eintlik ʼn skat is wat nog verder ontdek moet word.

As kind en tienerleser was ek nie bekendgestel aan hierdie boeke nie. Boeke wat my ouma vanaf Leserskring bestel het, was oorgedra aan my en nie een Romanza was deel van daardie oorhandiging nie. My leeservaring het bestaan uit literêre werke van Daleen Matthee, Marlene van Niekerk, Ettienne Le Roux, Pieter Fourie en Jan van Tonder. Ek het digbundels en dramas gelees en ook nie-fiksie soos Dis ek, Anna en Thula-Thula.

Ek self was skuldig aan hierdie stereotipering as gevolg van my literêre belangstelling en fondasie. Totdat ek die geleentheid gekry het om ʼn internskap te doen by LAPA Uitgewers se Romanza-afdeling. My idee van Romanzas was dat dit ʼn ordinêre, vervelige genre is met min “oemf” en geen “backbone” nie. Ek het dit verwar met hygromans, waar elke tweede bladsy ʼn erotiese beskrywing bevat. Ek wou iets met ʼn duidelike storielyn lees wat my vanaf die eerste bladsy sal boei en was oortuig daarvan dat dít nie in hierdie boeke voorkom nie.

Ek was baie optimisties en gretig om my internskap by Romanza te doen juis omdat ek so min geweet het van hierdie genre. Tydens my eerste dag het ek verskillende artikels ontvang en gelees oor Romanzas en liefdesverhale. Soos wat ek een artikel klaar gelees het en die volgende een begin het, het ʼn hele nuwe wêreld vir my oop gegaan. Die kompleksiteit en “resep” van hierdie genre het my gefassineer en ek was opgewonde en gretig om my eerste romanza manuskrip te lees.

My eerste Romanza was Een laaste somer deur Dina Botha. Vanaf die eerste bladsy het die boek my gegryp en het ek dadelik myself met die heldin geïdentifiseer. Toe ek die boek neer sit het ʼn skuldgevoel by my opgekom. Hoe kon ek vir al die jare so ʼn wanpersepsie van hierdie genre hê? Wie was ek om te oordeel of dit “oemf” het as ek dit self nog nie eers gelees het nie?

een laaste somer_high res

Een van my hoofvakke tydens my BA-graad was Sielkunde en daarom het ek die artikel oor die sielkundige impak van hierdie genre op die vroueleser baie interessant gevind en het ek as leser dit self ervaar. Boeke in hierdie genre is nie net oppervlakkige boeke wat deur ʼn lukrake vrou geskryf is nie. Nee. Hierdie genre bestaan uit boeke wat vir die vrou geskryf is om te ontsnap uit hul alledaagse lewe met al die negatiwiteit. Dit is geskryf om die leser te laat besef dat liefde ʼn ware verskynsel is.

Die resep en struktuur van hierdie boeke is baie kompleks en by uitstek soms komplekser as literêre werke. Die held en heldin moet so sterk en geloofwaardig wees om die storielyn regdeur die boek te dra. Realiteit en fantasie speel ook ʼn rol. Die leser wil juis ontsnap van alledaagse bekommernisse oor finansies, geweld en moord en daarom moet die verhaal so geskryf wees om die leser te laat ontspan. Wat my ook opgeval het, is dat die heldin nie meer onderdanig aan die held is nie. Sy is nie sy vloerlap waarmee hy kan doen net wat hy wil asof sy ’n ligskakelaar is wat hy kan aan en af sit soos hy lus kry nie. Die heldin is ʼn sterk vrou, met drome en ideale en suksesse. Sy weet wie sy is en wat sy in die lewe wil hê en daarom kan ELKE vroueleser met haar identifiseer al is sy self nie so ʼn vrou nie het − sy die behoefte om so te wees.

Die held, aan die ander kant, is die toonbeeld van elke vrou se droom. Hy is sterk, maar tog sag. Hy neem standpunt in, maar domineer nie die vrou nie. Die belangrikste van alles is, hy laat haar toe om haarself te wees en haar eie identiteit te hê.

Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie genre en voel dat dit nie genoeg krediet en eer ontvang nie. Dit is belowende genre wat ontspannende leesstof aan elke leser verskaf. Romanzas moet daarom nie op hul baadjie takseer word nie. Binne daardie klein boekie is ʼn wêreld opgesluit waarin jy kan verdwaal en jouself kan verlustig aan liefde. Die werklikheid word uitgebeeld, maar sorg tog vir ongelooflike ontvlugting.

Is jy ʼn trotse Romanza-verslaafde? Sluit nou by die Romanza-klub aan en spaar op jou verslawing: https://www.lapa.co.za/Romanza/Romanza-klub

 

2 thoughts on “Moenie Romanzas op haar baadjie takseer nie – Mandie Human

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s