Nou eers verlief: Redding kom uit ‘n onverwagse oord

nou eers verlief_High_res

Sy sit die televisie af en gaan draai die bad se krane oop. Sy gooi omtrent die helfte van die bottel badskuim in die water. Net nadat sy diep in die heerlike warm skuimende water in gesak het, hoor sy iets. Sy sit regop. Die badkamerdeur is oop en so ook die deur na Annabelle se kamer. Die babamonitor lê op ’n bankie binne haar bereik. Dis doodstil. Ag wel, dis seker maar die wind. Sy maak haar oë toe en leun terug in die water.

“Dit lyk heel gesellig. Wat van ’n glasie wyn? Volgens wat ek gehoor het, geniet jy soms laataand ’n glas wyn.”

Hannah se oë vlieg oop. Net betyds onthou sy dat sy kaal in die bad lê, anders het sy van skrik opgevlieg en sou sy die gevolge moes dra. “Wat de hel soek jy in my badkamer, Nicolas Hamilton? Is ek nie geregtig op my privaatheid nie? Of is dit nie op jou van toepassing nie?” Hemel, hoekom lyk hy vir haar so dierbaar terwyl verskillende emosies op sy gesig afspeel? Die klomp badskuim is wel ’n genade. Net haar gesig steek uit.

Hy kom ewe gemaklik ingestap en sit ’n glas wyn op die rand van die bad neer. Nou moet hy nog net op die bad se rand kom sit, of nee, stadig van sy klere ontslae raak en by haar in die water inklim. Sy knip haar oë verskrik, bang hy kan sien waaraan sy dink. Sy neem die glas wyn en sluk diep. Sy laat die koue vloeistof deur haar liggaam vloei om so haar bloed weer af te koel en ook sommer die vreeslike gedagtes uit haar geheue te vee. Sy sorg darem dat sy nog betaamlik is onder die badskuim.

“Toe ek hoor jy hou van ’n glasie wyn laat saans, het ek gedink jy sal daarvan hou om met een in die bad te ontspan. En nee, Hannah, jy het nog steeds jou privaatheid. Ek kon ruik jy moes taamlik badskuim gebruik het. Daarom het ek dit gewaag om hier in te kom.” Hy glimlag geheimsinnig. “Ek het geweet jy sou nie opvlieg en my by die deur uitjaag nie. Bad klaar, ek wag vir jou in die sitkamer.” Die deur klik sag agter hom toe.

Sy verstik amper in die volgende sluk wyn. Hierdie man is net een groot boek waarvan sy skaars die eerste bladsy gelees kry. Gelukkig het sy haar japon saamgebring badkamer toe. Haar nagklere is nie geskik om voor haar baas in te verskyn nie. Victoria’s Secret in ’n meer beskaafde gedaante, maar tog heeltemal te eksplisiet.

In die sitkamer sit hy gemaklik met ’n glas wyn in sy hand. Die halfleë bottel staan op die koffietafel. Sy gaan sit op die gemakstoel en plaas haar leë glas op die tafel voor haar. Hy skink dit weer vol.

“Jy is gou terug.”

“Ja.” Hy drink ’n sluk van sy wyn. “Ons moet praat, Hannah.”

Ag genade, waaroor tog nou weer? Sy tel haar glas op, maar kan nie een sluk neem nie. Sy is te bang sy verstik, want sy gesigsuitdrukking voorspel niks goeds nie.

“Ek en my ouers het dinge uitgeklaar wat die trustgeld betref.” Hy vryf deur sy deurmekaar hare.

Sy kan die sug van verligting nie keer nie.

“Daar is egter ’n voorwaarde aan verbonde.”

Hannah vou haar hande styf voor haar bors nadat sy die glas neergesit het. Hoekom het sy ooit vir een oomblik gedink sy sal nie deel wees daarvan nie?

“Jy is van môre af nie meer in my diens nie.”

Ag genade, nou word sy sommer in die pad gesteek. Waarheen sal sy gaan? Na ’n jeugherberg? Of na die tuinwoonstel op haar skoonouers se landgoed? Haar hart mis ’n slag. Sy voel hoe haar hele wese op ’n hoop trek.

“Nee, Hannah, ek stuur jou nie na jou skoonouers toe nie. Jy bly nog steeds hier en versorg vir Annabelle elke dag.”

“Nou hoekom nie as jou werknemer nie?” Hoe gaan sy ooit oorleef? Sy het nou wel vir hom ge-

sê dat sy vir die res van haar lewe verniet na

Annabelle sal kyk, maar dis nie vreeslik prakties nie.

“Jy sal hier woon, eerstens as ’n vriendin van die familie. Tweedens as my spesiale vriendin.”

Sy moet sluk om die droogheid uit haar keel en mond te kry. “Wat beteken dit?” Haar hart klop weer normaal, miskien ’n klein bietjie te vinnig.

Nicolas se gesig ontspan sigbaar. Hy leun terug teen die bank en sit sy arm op die rugleuning. “Dit beteken dat jy in die toekoms saam met my my sosiale verpligtinge sal nakom en dat daar in almal se oë iets aan die ontwikkel is tussen ons twee.”

Nou sit sy kiertsregop op die punt van die stoel. Vergete is die skamele nagklere en die japon wat dit skaars bedek. “Is jy nou besig om heeltemal van jou kop af te raak?” Sy moet sluk om die trane te keer. Trane van vernedering én verligting. Hierdie man kan tog nie van haar verwag om weer in dieselfde sosiale kringe van vroeër te beweeg sonder om ’n spektakel van hulle albei en sy familie te maak nie?

“Waar kom jy aan hierdie absurde plan? Ly jy aan vlugvoosheid of wat? Of het jy te veel wyn gedrink? Jy is ook nog steeds getroud.” Sy staan op en onthou betyds om haar japon styf om haar middel te vou. “Ek dink jy moet nou eers gaan slaap. Ek sal môre soos gewoonlik op my pos wees.”

Is jy al ‘n Romanza-klublid? Jy kan hier aansluit:  https://www.lapa.co.za/Romanza/Romanza-klub

Romanzaklubvoordele

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s