Wegstap kom nie maklik vir Vic Nel nie

Moordlys(Voorblad)

Daar heers ’n doodse stilte in die vertrek. ’n Dik stilte. Felix lek oor sy lippe. Die afwagting raak te veel. Hy wag al lank hiervoor.

“Los my vrou en kind uit,” sê Jonck.

“Moenie oor hulle bekommerd wees nie. Ek het nie ’n saak met hulle nie. Hierdie besigheid is tussen ons twee.” Hy trek ’n mes uit ’n skede wat aan sy gordel hang.

“Vat hulle dan net hier weg. Hulle hoef dit nie te sien nie.”

“Baie edel van jou. Maar ongelukkig kan ek dit nie doen nie. Ter wille van balans, jy sien.” Hy stap om die rusbank en gaan staan agter Jonck. Hy gryp ’n handvol van die man se digte bos grys hare en pluk sy kop agtertoe.

Jonck wil hom teësit, maar met sy polse agter sy rug geboei, is die omvang van sy protes bloot sy skouers wat saamtrek. Dié ontspan egter in oorgawe.

“Nou maar doen dit dan net vinnig, verdomp,” sê Jonck en lig sy ken om beter toegang tot sy nek te gee.

“Dis eintlik meer genade as wat jy verdien, jou bliksem.” Felix sit die punt van die lem liggies op Jonck se nekvel. Hy sien hoe die vel effens induik onder die lem, en hoor hoe die vrou en kind hul asem intrek. Stadig stoot hy die lem oor die nek na links, na die nekslagaar. ’n Fyn rooi strepie volg die lem.

Jonck draai sy oë na hom. Sy uitdrukking van vrees en haat en adrenalien wat pomp, word skielik getemper deur herkenning.

Jonck se mond vorm die begin van ’n woord, sy adamsappel skuif in posisie om ’n woord of ’n sin te begin, maar Felix druk die lem diep in, deur die nekslagaar en na regs, oor die lugpyp en deur die ander slagaar. Skielik is Jonck se hele bolyf blinkrooi soos bloed onder hoë druk uit die slagaar pomp. Borrels vorm in die bloed waar die lugpyp afgesny is. Met die inaseming van bloed deur die gapende wond in sy lugpyp trek sy diafragma outomaties in ’n hoesrefleks saam en ’n fyn bloedsproei blaas deur die gat in sy nek. Hy roggel nog ’n keer of wat en word uiteindelik stil, sy kop agteroor op die rusbank.

Die vrou en die dogter ween dierlik agter hul toegeplakte monde.

“Ek is jammer julle moes dit aanskou,” sê Felix. Hy vee die meslem aan die rusbank af. “Maar soos ek sê, dis als ter wille van balans. Dit was nodig.”

Wil jy weet wat gaan gebeur? Koop Moordlys hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/spanning/moordlys/sagteband

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s