Droom saam met my – Dina Botha

Die bloed vloei uit Sanrie se wange toe sy die voordeur oopmaak. Boshoff staan voor haar, geklee in ’n gebleikte denim en ’n donkerblou T-hemp.

“Môre, Sanrie.”

Terwyl sy nog tot verhaal probeer kom, verskyn Barnard agter hom. Sy glimlag en steek so haar skok vinnig weg.

“Wat doen jy . . . julle hier?”

“My ma het gesê ek moet kom kyk of ek jou met die trekkery kan help. My kar is in vir ’n diens en Boshoff het aangebied om my te bring.”

“Hoe weet julle wat my nuwe adres is?”

Wat ’n dom vraag. Boshoff en haar oupa het mos mekaar se selfoonnommers.

“Toemaar, dis nie nodig om te verduidelik nie.”

Sy hou die deur groter oop en hulle stap by haar verby. Beide mans steek in die sitkamer vas en kyk rond.

“Sjoe, die plek is klein,” merk Boshoff ingedagte op.

Haar bloeddruk styg dadelik. Hoe durf Boshoff Nel haar woonplek kritiseer?

“Hoe kleiner, hoe makliker om skoon te hou,” sê sy kortaf.

Sy het nie ’n goeie nagrus agter die blad nie. Om skielik met die wete gekonfronteer te word dat jy op ’n ander meisie se ou verlief is, is nie ’n goeie ervaring nie. En nou staan daardie ou voor haar en hy lyk vrek aantreklik in sy informele klere.

“Hoe kleiner, hoe meer beknop,” kap Boshoff terug en kyk deurdringend na haar.

Wil die man sowaar die laaste woord inkry of wat?

“Hoe kleiner, hoe goedkoper,” sê sy en daag hom met haar oë uit om daarop te verbeter.

“H’m, ten minste sal jy nie sommer ’n ou by jou kan laat intrek nie. Hier is nie plek vir nog ’n persoon nie.”

“As dit my kêrel is, is dit ideaal. Ek en hy sal soveel nader aan mekaar wees. Maar ek moet jou reghelp, geen man gaan hier intrek sonder ’n trouring aan my vinger nie.”

“Dis goed so, want julle sal mekaar letterlik vertrap of versmoor.”

Barnard lag en lyk effens verward deur die spanning wat skielik dik in die lug hang.

“Ek dink Sanrie waarsku ons om nie enige verwagtinge te begin koester nie, boet, of wat dink jy?”

“Daar lê beslis ’n bedekte waarskuwing in,” bevestig Sanrie voor hy kan antwoord.

Toe sy dit sê, besef sy dat hulle gespek nou regtig aan kinderagtigheid grens en dat Barnard dit hoogs vermaaklik vind. Boshoff se spekulatiewe oë verklap nie werklik wat hy dink nie. Dit krap haar net meer om. Sy is nie daar om die twee Nel-broers op hierdie Saterdagoggend te vermaak nie.

“Waarheen moet daardie bokse gaan?” verander Boshoff dadelik die onderwerp.

“Dis gemerk. Kombuis vir kombuisware. Badkamer vir badkamergoed en so aan.”

“En die een wat sê onderklere, kan ek dit solank vir jou gaan uitpak?”

“Moenie jou laf hou nie,” sê sy en pluk die boks uit Barnard se hand. “Soek eerder ’n boks wat gemerk is gordyne, want ek gaan hulp nodig hê met die ophang daarvan.”

Boshoff tel ’n boks op en lees die etiket. Toe loop hy sonder ’n verdere blik kombuis toe.

Die woonstel is te klein vir meubels, bokse én drie mense wat uitpak, en sy moet kort-kort by Boshoff of Barnard verby skuur. Barnard dink dis snaaks terwyl Boshoff se gesig stroef bly.

Hoekom het hy in die eerste plek saamgekom, wonder sy later toe sy bui steeds nie sak nie.

Daar is net een boks oor en sy dra dit kombuis toe. Boshoff sit op sy hurke en druk potte en panne in ’n kas in. Sanrie steek in die deur vas, skielik onwillig om alleen saam met hom in ’n vertrek te wees. Hy kyk op en hulle oë ontmoet. Voordat sy kan retireer, staan hy regop en pen haar met ’n reguit blik vas.

“Hoe lank gaan jy my nog ignoreer, Sanrie?”

“Wie sê ek ignoreer jou?”

“Hou op speletjies speel. Ek weet nou hoekom jy gistermiddag so kwaad vir my was. Maar ek is jammer, ek gaan dit nie sê nie.”

Sy is werklik verward. “Wat bedoel jy, wat gaan jy nie sê nie?”

“Dat ek jammer is ek het jou gesoen.”

“O,” sê Sanrie flou en die boks glip amper uit haar hande. Boshoff neem dit dadelik by haar en sit dit op die bedieningsblad neer.

“Is jy nie?” maak sy dubbel seker sy het hom reg verstaan.

“Nee, ek is nie.”

“So ja, met al die bokse weg, lyk die plek lyk sommer baie beter,” praat Barnard agter haar. Sy draai om en forseer ’n glimlag na haar lippe. Hopelik sien hy nie die verwarring in haar oë nie.

“Dankie vir al jou moeite om die bokse buite te gaan weggooi. Noudat ons die koffie en suiker gevind het, wil julle koffie hê?”

“Nee, dankie, ek en Barnard gaan ry,” sê Boshoff skielik haastig.

Barnard frons. “Ek sou graag wou bly, maar ek het nie my eie wiele nie.”

“Volgende keer,” sê Sanrie heimlik verlig.

Sanrie groet en druk die deur agter die twee mans toe. Sy sak in die gemakstoel neer. Boshoff se woorde het die wind heeltemal uit haar seile geneem. Hy is nie jammer hy het haar gesoen nie. Hoeveel betekenis kan sy aan sy woorde heg?

’n Halfuur later weet sy steeds nie wat om te dink nie en staan sy op om orde in die deurmekaar kombuiskaste te gaan skep.

Jy kan Droom saam met my hier koop:  https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/droom-saam-met-my/sagteband 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s