Vic Nel is terug

vic nel

Ek sal die gelukkigste persoon in die wereld wees as:

Ek sal sonder twyfel die gelukkigste mens in die wereld wees as almal net vir ’n slag ordentlik kan wees met mekaar.

Ek’s niks as dit nie was vir…

My twee dogtertjies nie.

As ek verveeld is …

Ek probeer nou nie die vraag ontduik nie, maar ek kan eerlikwaar nie onthou wanneer laas ek verveeld was nie. Daar is altyd nóg iets om te lees, nóg iets om te bou, nóg iets om te skryf.

images (1)

Vrede omring my as …

Vrede omring my as ek langs ’n braaivleisvuur sit met ’n koue bier in my hand, met die gelag van my dogtertjies in die agtergrond.

Waar wil jy op vakansie gaan?

Ek hou baie van toer. Net om te gaan waar die kar se neus heen lei. Ek is nie ’n ou wat sal jaag na ’n plek om dan vir ’n paar weke daar te sit, en dan terug te jaag nie. Ek dink ’n ongelooflike vakansie sal wees om kuslangs om Afrika te ry. Maar daarvoor het jy baie tyd en baie geld nodig. Ek dink ’n meer realistiese vakansie sal wees om ’n patrollie om die grens van Suid-Afrika te doen.

Watse verrassings is in jou beursie?

Die enigste ding wat werklikwaar verrassend aan my beursie is, is die verstommende leegheid daarvan.

images

Ek kan regtig leef sonder …

Pretensieuse mense. Pretensie in alle vorme is my einde.

 Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en my …

Niks kom tussen my en my braai nie.

Wat’s jou gunstelingwoord?

Braai.

chun-kit-to-braaivleis-Copy

My trooskos is …

’n Boerie-rol met atjar op. Baie atjar.

Wie is jou gunstelingskrywer?

Dit wissel van my bui. As jy my vroeg in die oggend vra mag dit Douglas Adams wees, later in die dag dalk John Irving, laat in die aand dalk JM Coetzee – afhangende van hoeveel rooiwyn daar in die huis is. En die volgende dag sal dit weer drie ander skrywers wees. Ek kan eerlikwaar nie een skrywer uitsonder nie, alhoewel daar ’n stewige kortlys is!

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

As ek enige drie mense na ’n ete sou nooi, sou dit Genghis Khan, Nikola Tesla en Mohandas Ghandi wees. By Genghis wil ek weet wat deur sy kop gegaan het toe hy Asië en Oos-Europa geplunder het in die dertiende eeu, by Tesla wil ek weet hoe om Eskom se drama uit te sorteer, en dan wil ek net sien of ek vir Ghandi kan oortuig om ’n happie van die skaaprib te probeer. Dit sal ook baie snaaks wees om hom en Genghis langs mekaar te sit.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Die beste raad wat ek ooit oor skryf ontvang het, was van ou tannie Page wat in Standerd 5 vir my Engels gegee het. Sy het gesê die enigste manier hoe ’n ding geskryf word, is wanneer die skrywer op sy stert gaan sit en dit DOEN. Dit maak nie saak wat enige skrywer of keurder of uitgewer vir jou sê nie − as jy dit nie DOEN nie, gaan daar niks gebeur nie. Die res is net ‘fine-tuning’ en detail. Maar die sweet en elmboog-ghries moet ingesit word voor enigiets geslyp en verfyn kan word.

Watter drie boeke het jy meer as drie keer gelees?

O, baie. Eo‘ van Greg Bear het ek seker al tien keer gelees. En ek dit nog tien keer in die toekoms lees. The Stand van Stephen King het ek ook al baie meer as drie keer gelees − maar dan, ek is seker Stephen King se inkopielys sal ook geweldig boeiend wees. En dan Spin van Robert Charles Wilson. Dis net een ongelooflike boek.

Waar is die vreemdste plekke waar jy al ooit geskryf het?

Die goeie ding van slimfone en skootrekenaars is dat ’n mens nie meer beperk word deur ’n groot, lomp rekenaar wat jou aan jou studeerkamer bind nie. Ek het ’n kopie van enige manuskrip waaraan ek werk op my selfoon, my tabletrekenaar, en dan die ‘meesterkopie’ op die rekenaar by die huis, waar ek al my veranderinge en byvoegings deur die dag inwerk. So, ek het al in toue by Binnelandse Sake geskryf, in verskeie restaurante en kroeë, op die strand, in toue by die bank, noem dit, en ek het waarskynlik al daar geskryf!

Moordlys(Voorblad)

As jy vir ’n dag as ’n ander bekende skrywer kan leef, watter skrywer sal dit wees? En hoekom?

Ek sou graag Pieter Pieterse wou wees. Daardie man het die regte idee gehad − jy haak jou karavaan en daar gaat jy. Ek kan nie aan ’n meer idilliese lewe dink nie.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

As ek nie ’n skrywer was nie, sou ek graag een van daai ouens by die SABS wou wees wat allerhande toetse ontwerp om dinge te breek. As ek so kyk na al die verbeeldingryke maniere waarop my kinders dit regkry om dinge in die huis te verwoes, dink ek die veld lê braak vir innovering.

In jou volgende lewe sou jy graag ’n … wil wees?

In my volgende lewe sou ek graag ’n hond in die Breytenbach-huishouding wou wees.

Wat beinvloed jou skryfstyl?

Ek slaan ag op hoe mense praat. Die manier waarop hulle praat, die idoom wat hulle gebruik. Ek het al baie kop gestamp met die keurders en proeflesers oor aardighede in my karakters se dialoog, maar as jy ’n bietjie om jou luister sal jy vind dat bittermin mense suiwer Afrikaans praat. En ’n baie goeie stukkie raad oor skryf is om te skryf soos jy praat. Enigiets anders is kunsmatig. Dink ’n bietjie daaraan – as ons almal eng aan taalreëls geklou het, het ons almal nou nog Hollands gepraat. ’n Skrywer moet nou nie heengaan en intensioneel die taal gaan staan en verkrag nie. Nee, die skrywer hou bloot net ’n spieël in die lug om die huidige stand van die taal te weerkaats.

Waar kry jy jou inspirasie vandaan?

Die boeke wat ek skryf gee nie voor om literêre werke te wees nie. My eerste boek, Kodenaam Icarus, sowel as sy opvolg, Moordlys, is beide politieke rillers, as ek dit so kan stel. Dis nie rêrig misdaadfiksie nie, alhoewel daar polisieondersoeke oor moorde en die sulks in beide voorkom. Die moorde wat wél gepleeg word, het in beide boeke politiese motivering agter dit. So, dit is eintlik ’n bietjie moeilik om te klassifiseer. Maar my inspirasie put ek uit die oopslaan van die meeste Suid-Afrikaanse oggendblaaie. ’n Ou sien hier ’n opskrif oor een of ander moord, en dan daar ’n opskrif oor ’n politieke leier wat nou al wéér met iets ergs weggekom het. En dan dink ek, jitte, dit sal nou nogals ’n ding wees as daai moord op die voorblad verband hou met daai berig op bladsy drie…

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Ek het geen roetine nie. Twee klein dogtertjies maak dit baie moeilik. So, ek skryf wanneer ek ’n kans kry. Ek verkies egter laatmiddag.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Die hoogtepunt in my skrywersloopbaan so ver is sonder twyfel die dag toe my eerste manuskrip deur LAPA Uitgewers vir publikasie aanvaar is.

Waarom die spanningsgenre?

Daar is tans ’n geweldige oplewing in Afrikaanse spanningsverhale, en ek vind dit baie opwindend.

Hierdie is Vic Nel se tweede boek. Hoeveel boeke beplan jy in die Vic Nel-reeks?

Vic het nog ’n entjie om te gaan − sy vervreemde dogter het ’n vinnige verskyning in Kodenaam Icarus gemaak sonder om haar pa te herken. Ek wil die twee nog op ’n manier bymekaar uitbring en kyk hoe so ’n hereniging sal ontvou. Weens die aard van die karakters sal enige volgende boeke ook moet bou op die ontknoping in die hede van die vuil politiek van die verlede, maar dan staan Vic ook die gevaar om geyk te raak. Maar ja, ek kan nie sê hoeveel nie, maar daar is nog ’n paar op pad…

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Alhoewel Moordlys in die hede afspeel, vorm die hereniging van Oos- en Wes-Duitsland die agtergrond van die verhaal. Nou ja – dit het reeds ’n kwarteeu gelede gebeur, en dit was ’n bietjie van ’n tameletjie om dit wat 25 jaar gelede gebeur het, so voor te hou om dit relevant te maak vir op-die-oog-af onverwante gebeure in die hede. En dan vind die aanvanklike onverwante gebeure nog in Suid-Afrika ook plaas!

Het jy, nadat Moordlys vir publikasie aanvaar is, in alle opsigte na jou keurder geluister?

Ja. Ons het oor ’n paar dinge vasgesit, maar ’n keurder is ’n keurder om ’n rede. Die keurders het ’n baie beter insig in wat die lesers wil hê, en hoe dit aan hulle opgedis moet word. Daar is ’n paar klein dingetjies waaroor ek my voet dwars gesit het, omdat dit die dialoog meer realisties maak. Ek gaan seker weer hel kry van die kritici oor my taalgebruik, maar ek glo die lesers sal beter identifiseer met karakters wat praat soos hulle. Maar dit was net een of twee klein gevalletjies. ’n Skrywer is te na aan sy of haar werk om rérig te veel met die keurders se opinie te kan stry. Die truuk is net om dit te besef, en vrede daarmee te maak.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende spanningsverhaalskrywers?

Skryf is ’n eensame besigheid. Maar as die gogga jou gebyt het en jy het ink in jou are is daar niks beter nie. DOEN dit net!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s