Mooi mans is moeilikheid

Geniet hierdie lusmakertjie uit ’n Stukkie perfeksie deur Susan Olivier.

'n stukkie perfeksie_high res

“Moenie jaloers raak nie. Gun die oujongnooi haar plesiertjies. Ek het nou die dag gesien julle tweetjies praat so lekker by die basaar. Het jy hom al vir koffie genooi?”

“Hoekom sal ek dit doen?” Sy sidder altyd as sy dink aan haar ma se alewige gekarring oor ’n trouman, maar sy moet tannie Anna nie uit die oog verloor nie. Sy is net so gretig dat Mari ’n man kry.

“Omdat hy ’n goeie vangs is. ’n Slim en mooi man, met ’n innemende persoonlikheid. Hy gaan nie lank alleen rondloop nie. Nie as die meisies in ons dorp ’n sê het nie.”

“Ek weet hy gaan nie lank alleen wees nie, want hy het ’n ogie op Erna.” Mari glimlag ingenome toe Anna verbaas na haar kyk. Haar tannie dink sy weet als wat in ander mense se lewe aangaan; dié keer weet Mari ’n bietjie meer.

“Jou vriendin? Hoe het dit gebeur? Hy het nog nie haar naam voor my genoem nie.”

“Sy wil mos nog altyd onderwys studeer en hy het aangebied om haar studie te betaal.”

“Aitsa, dis gaaf van hom, maar jy moenie te veel daarin lees nie.”

“Natuurlik het hy ’n ogie op haar. Watter man gaan so vrygewig wees net vir die lekkerte daarvan?” ’n Gesprek met tannie Anna ontaard soms in ’n skaakspel. Wat weet haar tannie wat sy nie weet nie?

“In ander omstandighede sou ek met jou saamstem, maar ek is redelik op hoogte van sy doen en late, en Erna is nie die enigste meisie wat hy help nie. Hier is ’n jong verpleegstertjie in die ortopediese afdeling vir wie hy geld voorgeskiet het om haar karretjie te vervang toe dit nou die dag opgepak het.”

“En die verpleegster is seker jonk en mooi?” Verslae skud Mari haar kop. Mooi mans kan eenvoudig nie vertrou word nie.

“Santie is ’n beeldskone blondine. Amper irriterend mooi, want sy kom soms met moord weg wanneer sy skalks vir die dokters glimlag.”

“Dis slegte nuus. Erna is onervare wat mans betref. Hy gaan vir haar ore aansit.”

“Dit ly geen twyfel dat Santie haar tande vir hom slyp nie en wie kan haar blameer? Ek het gedink dis ’n wedersydse ding, maar nou hoor ek van Erna.”

“En tog moedig Tannie my aan om by hom aan te lê?”

Anna glimlag suur. “Hy is nie getroud nie. Tot dan keer niks jou nie.”

“Wat is Tannie se indrukke van hom? Wees nou doodeerlik. Is hy ’n opportunis? Eers Santie, nou Erna. Wie is volgende? Ek moet my vriendin beskerm. Ek het geweet dis nie om dowe neute wat hy so vrygewig is nie.”

Anna haal haar skouers op. “Ek dink nie hy is ’n kansvatter nie. Ek hou regtig van hom. Hy’s ’n uitstekende spesialis en ’n aanwins vir ons hospitaal. Ons werk lekker saam. Ek weet nie hoekom hy kwansuis Kersvader wil speel nie.”

Moet sy Erna waarsku? Sal sy haar ooit glo? Mari twyfel nogal daaroor, want sy het Janie nie geglo toe sy haar teen Stef gewaarsku het nie.

Daar is ’n ligte klop aan die deur en Alex stap in. Mari kyk ontstig na hom. So amper is sy weer uitgevang omdat sy onbewustelik gehoop het hy is anders as die mans waarmee sy ’n bloutjie geloop het.

Anna glimlag vriendelik. “Hallo, Alex, ons praat nou net van jou. Kan ek vir jou ook koffie skink? Die water is nog warm. En Mari het weer beskuit ook gebring.”

“Dankie, Anna. Dit sal lekker wees.” Hy kyk na Mari. “Hou jy jou tannie uit die werk?”

“Nee, ek is op pad.”

Hy keer toe sy wil opstaan.

“Hokaai nou, dit was ’n grap. Jy hoef jou nie te wip nie.” Hy glimlag paaiend.

Mari frons kwaai. “Ek wip my nie.”

“Dan wil ek graag sien hoe jy reageer die dag as jy jou regtig wip.”

“Komaan julle twee, los mekaar uit. Hier is jou koffie, Alex, en kry van die beskuit.”

“Kan ek ook bestel?”

“Hoeveel pakke wil jy hê?” vra Mari nors.

“Twee pakke. Van die karringmelk en die growwe beskuit. Ek kon nog nie besluit watter die lekkerste is nie.”

Mari staar strak na hom. So maklik smeer niemand heuning om haar mond nie; dis al afgesaag om komplimente vir haar gebak te kry. “Ek bak Saterdagoggend weer en sal joune Sondag saam met tannie Anna stuur. Sy kom vir ete.”

“Dis nie nodig nie. Ek kom haal dit sommer op die plaas. Sê net wanneer.”

“Ek stuur dit saam met haar.”

Hy knik. “Dankie. Ek stuur die geld.”

“Ek sal jou later laat weet wat dit kos.” Sy sug verlig toe hy bes gee. Hy is nie welkom op die plaas nie, nie terwyl hy met haar vriendin se gevoelens speel nie.

Hy sluk sy koffie vinnig. “Ek moet loop.” Hy gryp twee stukke beskuit. “Anna, ek vat sommer saam. Dankie, hoor! Sien julle weer.”

Hy verdwyn in die gang af en Anna skud haar kop. “Jy het ’n klap nodig.”

“Hoekom?” Mari kyk ongelowig na haar.

“Sodat jy kan bykom.”

“Wat het ek nou weer gesondig? Ek het my nie gewip nie, maar ek weet hoe eng sommige spesialiste is en netnou kom Tannie in die sop oor ek in werktyd kuier.”

“Dis nie waarna ek verwys nie, dommie.” Anna sit die vuil koppies op die skinkbord. “Die man soek ’n verskoning om te kom kuier en jy gryp nie die geleentheid aan nie.”

Mari lag. “Ag nee, nou sien Tannie spoke. En ná ons gesprek oor Santie oorweeg ek dit nie eens nie. Ek soek nie ’n man met ’n klomp meisies op sleeptou nie.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s