Moord in die suikerrietlande

Kom kuier Woensdag 1 Junie saam met Dibi Breytenbach🙂

“Sien jy haar?” roep Johannes Kleinveldt agter hom.

Maarschalk antwoord nie.

’n Sweetdruppel rol teen sy rug af. Hy sou veel eer-

der in die hof wou wees. Daar is ten minste lugversorging.

Versigtig en stadig gee hy nog ’n tree, soos ’n verkleurmannetjie. Hy het nog nooit ’n dooie mens gesien nie.

Hy het geen behoefte daaraan om een te sien nie.

Nog ’n druppel gly tussen sy blaaie in. Sies.

“Nog ’n bietjie,” sê die boer.

Maarschalk knik. Hy stoot die groen stingels versigtig uitmekaar. Die beweging van die riete laat ’n wolk brommers opstyg. Die hitte en klamte het sy werk gedoen.

Hy staan stil en wurg aan die dik gevoel in sy keel.

Hy sluk weer.

“Sien jy haar?” vra Kleinveldt.

Die plaasmense roer onrustig. Dis een van hulle mense wat daar lê.

“Ja,” antwoord Maarschalk. Die woord is enkel en finaal.

Hy sien haar.

Skugter Khethiwe se gesig is mismaak.

Hy verbeel hom haar skaam laggie, heel anders as die groteske karikatuur van ’n mens wat voor hom op die grond lê. Sy het gely voordat sy dood is.

Die smaak lê soos etter op sy tong.

“Wat sien jy?” vra Kleinveldt op ’n afstand.

Maarschalk buig dieper in die suikerriet in, maar versigtig. Hy skud sy kop, selfs al kan die boer hom nie sien nie. “Jy wil nie weet nie,” sê hy sag.

Khethiwe lê op haar rug tussen die groen stingels, ’n klein, stil figuur. In die helder sonlig lyk sy skraal en oneindig breekbaar, soos ’n dooie tinktinkie.

Haar kop is kaal en daar is ’n donker bewegende stroom onder haar heupe en haar opgeblase lyf.

Miere.

Maarschalk kan hulle krassende voetstappies hoor.

Hulle swartrooi rûe glinster in die helder son. Die insekte steur hulle nie aan hom nie. Hulle het werk om te doen. Brommers draai om sy kop. Sy teenwoordigheid is vir hulle ’n irritasie. Hulle het ook werk om te doen, dié gevleuelde ontbinders.

’n Sterfte in die bos is arbeidsintensiewe banaliteit.

Maarschalk ril ten spyte van die hitte en die soelte. In die helder vroegmiddagson is dit maklik om te sien hoe Khethiwe aan haar einde gekom het.

Hy sluk swaar en sy kiewe trek saam.

Sy nekspiere is lam en hy voel sy elfuurtee in sy keel opstoot.

Die blinkbont doek om die skraal vrou se nek het die lewe uit haar gewurg. Haar oë peul uit die kasse en haar tong steek obseen tussen haar geswolle lippe uit.

Maarschalk maak sy oë toe en neem met sy selfoon ’n foto van die toneel. Hy sluk weer. Dit is ’n verskriklike dood.

Hy tree versigtig agteruit.

“Bel die polisie,” sê hy oor sy skouer vir Johannes Kleinveldt wat intussen nader gestap het, maar buite sig van die hartseer prentjie in die suikerriet bly. Nyx is kort op sy hakke.

“Die polisie?” vra Kleinveldt.

“Ja. En moenie nader kom nie.” Maarschalk draai om en tree bewerig uit die riet die trekkerpad tussen die lande in. “Sy’s vermoor.”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s