Liefde by die universiteit

Lorna en die professor – Malene Breytenbach

lornaenp

Stadig ry sy in die straat af en sien daar voor die valboom by die ingang waar mense by hul motorvensters uitleun en ’n kode op ’n toegangsbordjie intik of ’n personeelkaart deur ’n gleuf vee. Dan lig die valboom op en sodra die motor deur is, sak dit onmiddellik weer af. Daar kan sy beslis nie ingaan nie. Sy het nog nie ’n kode of toegewyste parkeerplek nie. Hopelik sal sy dit gou kan kry as sy eers begin werk.

’n Groot silwer VW Touareg kom van die teenoorgestelde kant en draai skielik voor haar in sodat sy hard moet rem. Maar nie betyds nie. Met ’n skok hoor sy die aaklige kraak soos haar motor teen die groot voertuig bots. Sy kreun kliphard. Ag hemel, net nie dit nie. Nie vandag nie.

Om haar het mense gaan staan en staar na die ongeluk. Twee studente kyk grootoog van die sypaadjie af en ’n derde een grinnik asof hy lekker kry om dit te sien. Lorna voel hoe die hitte tot in haar gesig opstyg. Dat sy nou bloedrooi moet bloos, maak alles nog erger.

’n Man wat soos ’n dosent aangetrek is – ’n netjiese langbroek en hemp – klim uit die groot voertuig. Hy lyk in sy dertigs en is beslis aantreklik met sy goudbruin hare en ’n lenige lyf. Maar sy gesig is woedend toe hy nader kom. Lorna byt so hard op haar lip dat sy bloed proe. Sy draai haar ruit af.

“Juffrou, ek besef jy soek parkeerplek en jy is seker laat vir jou klas, maar kyk tog waar jy ry,” raas hy. “Julle studente ry ook so roekeloos, ’n mens is jou lewe nie seker hier op die kampus nie. Jy het my kar gestamp. Klim asseblief nou uit en kom kyk watse skade jy aangerig het.”

Lorna klim uit en probeer haar bedees hou, maar eintlik is sy kokend van ergernis en verontwaardiging. Toe kan sy haarself net nie langer beteuel nie en sy bars uit: “Ek is jammer, Meneer, maar dit is jou skuld dat ek in jou vasgery het. Hoe kan jy sommer net so voor my indraai?”

Hy is seker ’n kop langer as sy en kyk met saamgeperste lippe, ’n vreeslike frons en blitsende oë na haar. Dit tref haar dat hy die mooiste helderblou oë het wat sy nog aan iemand gesien het. Ongelukkig spat die vonke nou daaruit.

“Dit het gelyk asof jy stilstaan in ’n besige straat en toe draai ek. Het jy my nie sien aankom nie? My flikkerlig was in elk geval ook aan.”

“Nee, Meneer, ek soek wel parkering maar ek het regtig nie gaan stilstaan nie. My motor het nog beweeg. Dié straat is baie besig en boonop vol padvarke.”

Haar woede bou op en haar wange vlam maar die woord padvarke het darem uitgeglip. Dit laat hom nog kwater lyk.

“Kyk, Juffrou, julle studente . . .”

“Ek is nie ’n student nie, Meneer,” help sy hom kil reg.

Hy lyk vir ’n oomblik uit die veld geslaan. “O, nou wat dan?”

“Ek moet vandag hier by Informasietegnologie begin werk.”

“O so? Dis goed dat ek dit weet. Ek sal jou maklik in die hande kan kry. Hier is skade en dit beteken polisieverklarings vir die versekering en allerhande hassles. Ek ry nie met ’n beskadigde voertuig nie.”

Hy kyk, vuiste op sy heupe, na waar die twee motors teen mekaar staan.“Die skade is darem gering. Dit kon veel erger gewees het.”

Aan sy voertuig sien sy slegs ’n skraap maar daar is ’n lelike duik in die modderskerm van haar motortjie. Sy is lus en bars in trane uit. Sy het nie geld om dit reg te maak nie en sal maar net met ’n beskadigde motor moet ry.

Hy gaan maak sy motordeur oop en haal iets uit. Kom terug met ’n pen en notaboekie.

“Goed, wie is jy, Juffrou?” vra hy.

“Lorna Ramsay.”

Hy skryf in sy boekie.

“Selfoonnommer?”

Sy gee dit.

“Huisadres?”

Sy gee dit ook.

“Afdeling?”

“Ek gaan by die dienstoonbank by Informasietegnologie werk.”

Sy wenkbroue boog boontoe. “Jy lyk dan soos ’n eerstejaarstudent.”

Sy vererg haar bloedig en byt op haar lip. Hy kyk ’n oomblik kwaai na haar, haal ’n beursie uit sy broeksak, neem ’n visitekaartjie daaruit en gee dit vir haar. Sy lees en haar moed sak tot in haar skoene. Professor Arno Retief van die departement Siviele Ingenieurswese. ’n Groot vis in dié geweste en sy is slegs ’n sardientjie.

“Ek sal dit by die polisie gaan aanmeld,” sê hy bars en skryf haar registrasienommer neer. “Jy het my nou laat gemaak vir my eerste klas en jy is natuurlik ook laat. Ons praat weer, juffrou Ramsay.”

Hy draai kortom en gaan klim in sy motor, ry na die valboom, trek sy kaart deur die gleuf en ry deur. Sy kyk hom agterna, ignoreer die nuuskierige mense wat na haar staar, klim in haar motor en ry. Doer anderkant is daar darem plek om te parkeer, sien sy. Ver weg.

Kon sy maar so ’n indrukwekkende en sexy man in gunstiger omstandighede ontmoet het, wens sy. ’n Professor en nog jongerig en aantreklik daarby. Maar hy dink sy is net ’n roekelose en astrante meisietjie wat soos ’n eerstejaarstudent lyk en hy is boonop kwaad vir haar. Sy sug. Sowaar, die dag het nie goed begin nie.

Sy parkeer en sluit haar motor, kyk toe op haar horlosie. Hemel, dit is al kwart oor agt. Sy kreun hardop. Op haar eerste dag wil sy ’n goeie indruk maak, maar sy is sowaar laat. Wat gaan hulle van haar dink? Sy draf behoorlik in die straat af na die ingang.

’n Jong man sit in die voorportaal van die Informasietegnologiegebou toe sy ingehaas kom. Hy staan op toe sy die deur agter haar laat toeklap en kyk ergerlik na haar.

“Hallo, ek wag al lank vir jou. Ek is Donovan Lackay en jy is seker Lorna Ramsay.”

“Hallo, ja, ek is Lorna Ramsay.”

“Ons hoof het my gestuur om jou in te wag want jy moet eers jou toegangskaart laat aktiveer. Ek moet jou waarsku, daar’s g’n genade vir mense wat by die dienstoonbank laat kom vir werk nie. Ons ses verteenwoordigers kry vierhonderd en meer oproepe per dag.”

“Ek is regtig jammer, maar ek het hier voor in professor Arno Retief van siviele ingenieurswese se groot viertrek vasgery. Nou is ek behoorlik ge-rattle.”

Sy irritasie verdwyn en hy kyk simpatiek na haar. “Oeps, dis hectic. Is jou kar baie stukkend?”

“’n Bietjie ingeduik maar ek sien min skade aan syne. Hy was baie kwaad vir my.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s