Middernagsoene – Alma Carstens

Blank-Book

Ben stoot die bril ingedagte terug op sy neusbrug terwyl hy in die breë gang afstap en ’n verslag loop en lees. Iets lyk nie reg met die uitslag van die bloedtoetse nie, maar hy sal eers vir die ander uitslae moet wag voor hy verdere toetse kan aanvra. Hy is op pad na sy kantoortjie by ongevalle, maar besluit om eers by die susters se diensstasie navraag te doen oor die pasiënt.

“Suster Watson, het meneer Hanson se ander toetsuitslae al teruggekom van die laboratorium af?”

Ina Watson kyk haastig deur die hoop verslae in die mandjie en skud haar kop. “Nee, nog nie, dokter Joubert. Sal ek hulle bel en uitvind?”

“Asseblief.” Hy draai weg en stamp liggies aan iemand. “Jammer,” sê hy en mik om aan te stap toe die meisie voor hom intree.

“Dokter Joubert?” vra sy met opgetrekte wenkbroue. “Ek sit al wie weet hoe lank hier en wag vir jou, want jy antwoord nie my oproepe nie en reageer nie op die klomp boodskappe wat ek al vir jou gelos het nie.”

Hy haal sy bril af en kyk ondersoekend na haar. Is hy veronderstel om haar te ken? Dalk ’n pasiënt van hom? Hy kan nie onthou dat hy enige boodskappe ontvang het waarop hy nie geantwoord het nie. Gewoonlik bel hy sy pasiënte dadelik terug.

“Ek is jammer, juffrou . . .?”

“Reichman. Van Crous en vennote,” sê sy en steek haar hand na hom toe uit.

Ben neem haar hand en glimlag verskonend. “O, oor die huis in Rosestraat?”

“Ja, oor die huis in Rosestraat,” sê sy styf met nie ’n sweempie van ’n glimlag om haar mooi mond nie.

Hy wys met sy hand dat sy saam met hom moet stap. “Kom ons gaan gesels in my kantoor. Hoe kan ek help? Waarom soek jy so dringend na my?”

“Ek het die laaste van die oordragvorms gebring en dit sal my baie help as jy dit kan teken. Nou dadelik, asseblief, want meneer Crous wag daarvoor.”

Ben glimlag vir haar parmantige houding. Sy is behoorlik vies vir hom as hy so na haar stemtoon luister. Dis baie duidelik dat sy hard probeer om professioneel op te tree, maar sy kan haar ontevredenheid met hom nie heeltemal wegsteek nie.

“Natuurlik, geen probleem nie.” Hy wag tot sy op die stoel langs sy lessenaartjie gaan sit voor hy op die een agter die lessenaar neersak. “Ek is werklik jammer dat ek jou nog nie teruggebel het nie, Juffrou. Elke keer as ek dit wou doen, het daar ’n noodgeval ingekom.”

Sy maak die lêer oop en haal die dokumente uit. Toe kom staan sy langs hom en sit die papiere op die lessenaar neer. “Daar moet jy parafeer en daar.” Sy blaai deur die bladsye en wys oral waar hy moet parafeer. “En hier moet jy voluit teken. En daar ook,” wys sy met haar vinger. “En hier moet jy jou inligting en vandag se datum invul.”

Ben kry die ligte geur van haar parfuum toe sy effens oor hom leun om die bladsye by te kom. Vir ’n oomblik verloor hy konsentrasie en sien nie waar sy wys nie. Hy vergeet heeltemal wat sy hier kom doen het en is meteens net bewus van haar teenwoordigheid so naby aan hom. Dit neem ’n rukkie voor hy besef dat sy van die lessenaar af weggetree het en afwagtend na hom staan en kyk.

“Is daar ’n probleem, Dokter?”

“Nee, maar moet ek nie eers die dokument lees voor ek dit teken nie?”

“Dis standaardvorms en ek het reeds daardeur gegaan en seker gemaak al die inligting is korrek, maar u is welkom om dit deur te lees voor u teken,” sê sy styf.

Ben knik en byt op sy lip om te verhoed dat hy hardop lag. Hy vind haar houding geweldig amusant, veral noudat sy die “jy” en “jou” laat vaar het en hom as “u” aanspreek asof dit haar outoriteit moet bevestig. Terwyl hy vlugtig deur die paragrawe lees en die vorms teken, trommel sy ongeduldig met haar vingers teen die nou rompie waar die materiaal oor haar linkerheup span. Dit trek sy aandag af en hy kyk vlugtig op.

“Iets fout?” vra sy parmantig en lig haar wenkbroue.

Hy skud sy kop en bring sy handtekening aan op elke plek waar hy dink sy aangedui het. Toe hy die bladsye bymekaargemaak het, hou sy haar hand na hom toe uit, maar hy oorhandig dit nie dadelik aan haar nie.

“Was dit nou so moeilik?” mompel sy sag.

Ben kan sy lag nie langer hou nie. Nie net moes hy haar baie erg omgekrap het nie, maar sy maak seker hy weet dit. “Hoekom het ons nog nie voorheen ontmoet nie? Ek het die huis al byna twee maande gelede gekoop.”

“Marius Fouché het die oordrag hanteer, maar hy is tans met siekverlof. Meneer Crous het my nou aangestel om dit by hom oor te neem. As u ’n probleem daarmee het . . .”

“Nee, glad nie,” val Ben haar vinnig in die rede en moet weer sy lag onderdruk toe hy opmerk hoe hard sy probeer om afsydig voor te kom. Sy vererg haar telkens opsigtelik vir hom en ondervind moeite om professioneel op te tree. Sy belangstelling is opeens geprikkel. “Juffrou Reichman, het jy ’n naam?”

“Natuurlik, nes enige ander mens, Dokter.” Sy staan steeds met haar hand uitgestrek na hom in afwagting van die dokumente wat hy vashou.

Hy staan stadig van die stoel af op. “Mag ek weet wat dit is?”

“Giselle. As jy dan moet weet,” mompel sy die laaste sin ontevrede.

“Giselle,” proe hy haar naam versigtig op sy tong. “Soos die ballet?”

Sy trek haar skouers op. “Die oordragvorms, asseblief,” gebied sy styf.

Ben oorhandig die vorms aan haar terwyl sy gedagtes verwoed rondsoek na iets om die gesprek mee aan die gang te hou. Hy is ineens onwillig om haar te laat gaan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s