Verlief op die baas – Madelein Stoltz

Blank-Book

Haar blik dwaal oor die res van die gaste. Sy trek haar asem vinnig in toe sy vir Darius van alle mense by ’n hoektafel sien plaasneem. Hy is nie alleen nie. Die vrou oorkant hom het ’n kort rooi rok aan en haar swart hare blink soos ’n waterval teen haar rug. Christi kan nie haar gesig sien nie, maar sy weet dit is nie Chloe nie.

Die luis, stoom Christi verontwaardig. Nou weet sy hoekom Darius haar aangesê het om sy afspraak met Chloe te kanselleer. Hy het natuurlik ’n ander begeerliker prooi in die oog. Sy luister net met ’n halwe oor na iets wat Colette sê. Is die swartkop die rede hoekom hy en Chloe nou die dag woorde gehad het? Is Darius moeg vir Chloe? Christi klik haar tong uit pure ergernis. Vir mans soos hy het sy nie tyd nie. Gelukkig werk sy net vir hom. Sy bepaal haar aandag weer by haar gesprek met Colette. Sy gaan nie weer in daardie tafel se rigting kyk nie.

“Ten minste was die kos puik,” laat Colette van haar hoor op pad terug in haar kar. “Buitendien werk hy seker baie lang ure ook saans en ek is nie die tipe wat elke aand wil sit en televisie kyk om die tyd om te kry terwyl my kêrel werk nie.”

“H’m,” antwoord Christi, maar haar aandag is nie by die gesprek nie. Sy moet nog haar ouers laat weet dat sy eers Saterdagoggend gaan deurry Nelspruit toe en weer Sondagmiddag vroeg sal moet terugry. Sy het haar familie weke laas gesien en ’n telefoonoproep een keer ’n week is nie meer genoeg nie. Sy verlang na hulle.

Dinsdagaand is Christi al in die bed en amper aan die slaap toe haar selfoon lui. “Het ek jou nie uitdruklik gevra om my afspraak gisteraand met Chloe te kanselleer nie?” tref Darius se bruusk stem haar soos ’n onverwagte haelkorrel in die gesig.

Christi sit verskrik regop en vroetel om haar bedlamp aan te skakel. “Maar ek het haar laat weet,” verdedig sy haarself. Sy verduidelik vinnig terwyl haar hartklop versnel. Darius klink hoog beduiweld.

“In die vervolg maak jy seker dat my boodskappe gekry word. Danksy jou het Chloe nou ’n tantrum gegooi en dit duidelik gestel dat sy my slegs sal vergewe as ek ’n verloofring aan haar vinger plaas. Ek laat my nie emosioneel afpers deur ’n vrou nie. Sy was veronderstel om my na ’n partytjie te vergesel die naweek. So, aangesien jy nie die nodigheid ingesien het om persoonlik met haar te praat nie, sal jy die gevolge moet dra.”

Christi is wawyd wakker toe sy haar selfoon neersit. Darius het afgelui sonder om eens te groet. Watse gevolge? Gaan hy haar nou afdank? Waar gaan sy weer so ’n goed betalende pos kry? Hoekom het sy nie meer moeite gedoen en self met Chloe gepraat nie?

Met die dat haar slaap nou weggeskrik is, kruip sy onder die beddegoed uit en loop kombuis toe. Sy maak tee en wonder of Colette nog wakker is. Die klok teen die kombuismuur wys dis al ná elf. Die vermetelheid van die man om haar so laat in die aand te steur, en dit op ’n werksdag! Sy is nie ’n nagwolf soos hy wat tot in die vroeë oggendure al deur steelfotograwe afgeneem is wanneer hy en gewoonlik ’n aktrise of model van een of ander glansgeleentheid kom nie.

Sy drink haar tee met ’n loodswaar hart. Hoe gaan sy aan Tiaan verduidelik dat sy weer eens werkloos is as Darius haar afdank? Sy het haar pa vroeër vanaand reeds laat weet dat sy die bedrag wat sy normaalweg in die spaarrekening plaas, gaan verdubbel. Haar pa het dadelik vir Tiaan gesê en haar boetie was vreeslik opgewonde toe hy agterna met haar gepraat het.

Toe sy terug is in die bed, rol sy rusteloos rond. Sy is nog wawyd wakker toe haar selfoon se wekker vyfuur die oggend skril tekere gaan.

Sy dwing haarself om op te staan en probeer rustig klaarmaak vir werk. Sy maak Colette wakker met koffie in die bed en sluk hare vinnig af voor sy groet en die drie verdiepings se trappe afloop en in haar Volla klim.

Darius van Helsdingen het haar verwens, dink sy minute later toe sy glad nie haar kar aan die gang kan kry nie. Die enjin is morsdood. “Nee,” skel sy en stamp met haar hande op die stuurwiel. Sy sal Colette moet vra om haar by die stasie te gaan aflaai. Darius kom met die eerste vlug terug vanuit Kaapstad en soos sy hom ken, gaan hy reguit kantoor toe ry. Vandag is die een dag wat sy nie laat mag wees nie.

Tot Christi se frustrasie kom sy en Colette meer as ’n halfuur later eers by die woonstel weg, want Colette laat haar nie aanjaag nie. In Voortrekkerweg staan die karre stil stad se kant toe. Christi staar in ongeloof na die verkeer om hulle terwyl die minute verbytik. Hulle is vasgekeer en kan nêrens afdraai nie.

“Dit is al kwart oor sewe,” merk sy later op hete kole op. “Ek gaan nie betyds vir werk wees vanoggend nie.”

Colette wikkel haar skouers asof sy spierpyn het. “Bedaar tog net. Jou baas sal mos verstaan as jy een dag laat is.” Sy klink ongeduldig en tik met haar lang naels op die stuurwiel.

“Jy verstaan nie!” Christi bars tot haar ergernis in trane uit, en vertel vir Colette van Darius se oproep.

Colette diep ’n sneesdoekie uit haar handsakkie op en gee een vir Christi aan. “Die man kan jou nie oor so ’n simpel rede afdank nie. Goeie werkers word nie agter elke bossie uitgekrap nie. Hy kan op sy knieë gaan en dankie sê omdat jy vir hom werk. Toe, droog nou daardie trane af. Aha, daar gebeur nou iets. Ons beweeg weer. Cheer up.”

Dis makliker gesê as gedaan, dink Christi swartgallig. Hulle het baie lank stilgestaan. Nie eens die sneltrein gaan haar vanoggend red om betyds vir werk te wees nie.

 

One thought on “Verlief op die baas – Madelein Stoltz

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s