Een nag in Parys − Cecilia Nortjé

Twee ure later, by die 34 miles-bordjie, biep haar selfoon agter in haar rugsak. Onder ’n koelteboom gaan sit sy met ’n kreun teen die stam. Teen die tyd lyk die stappery glad nie meer na so ’n goeie idee nie. Haar voetsole brand en sy is moeg en warm. Sy diep die selfoon uit haar rugsak en lees die boodskap. Dis van Dave, haar stiefpa. Ek hoor by Megan jy is in Frankryk. Geniet dit.

Sy sit ’n oomblik en peins voor sy ’n gepaste antwoord tik: Dankie, ek sal. Liefde vir Nicky.

Nie “wat maak jy daar?” of “is alles reg?” nie. Dis nie asof sy sommer links en regs oorsee vakansie hou nie en hy weet dit. Maar dis hoe hulle verhouding is: beskaafd en beleefd en sonder veel diepte. Op sy manier is Dave lief vir hulle, maar hy het ’n lewe van sy eie saam met sy nuwe vrou, Nicky. En dit sluit haar en Megan outomaties uit.

Met ’n suggie haal sy ’n bottel water en die oorblyfsel van gisteraand se baguette uit haar rugsak. Sy bid en geniet die eenvoudige koningsmaal. Seer voete of te nie, sy is geseënd. Om haar golf wingerde, en rustige voëlgeluide vul die lug. ’n Voertuig wat af en toe verbyry, is die enigste steurnis. Of dalk haar redding. Sy oorweeg dit ernstig om duim te gooi. Tot dusver het sy nog net een bushalte gesien. As sy nog veel verder moet stap, sit sy vanaand met blase. Toe sy mik om haar rugsak op te tel kom die silwer sportmotor van vroeër weer van agter af verby. En hierdie keer hou hy stil.

Beslis nie ’n Fransman nie, besluit sy terwyl sy met ’n bonsende hart opstaan. Daarvoor is hy te manlik.

Hy sit ’n bruingebrande arm op die deur. “Bonjour, mademoiselle.”

Oeps, Frans is hy beslis. Sy groet terug.

Hy vra iets in Frans. Cara lig haar hande op. “Je ne parle pas français. Only English.”

“Kan ek jou ’n saamrygeleentheid aanbied?” Sy Engels is verbasend aksentloos.

Sy kyk weifelend na hom. Iets in haar wil sonder skroom haar rugsak op die agtersitplek gooi en inklim. “Ek is op pad na Saint-Emilion.”

Hy skuif sy sonbril op sy kop. Heldergroen oë soos botsels aan ’n wingerdstok takseer haar. “Nou toe nou, ek ook.” Hy wys na die passasiersitplek. “Kom, klim in.”

Nog ’n oomblik kyk Cara weifelend na hom, dan stap sy oor die teerpad. Met die seker, vrye tred waarmee sy deesdae stap.

Hy leun oor en maak die passasiersdeur oop. “Phillippe du Buisson.”

“Cara Adcock.” Sy sit haar rugsak op die agterste roomwit leersitplek neer en klim in.

“Is jy hier met vakansie?” vra hy toe hy met ’n vaart wegtrek.

Sy diep ’n rekkie uit haar broeksak en tem haar wapperende hare met moeite in ’n poniestert. “Ja,” antwoord sy op Engels, dankbaar dat sy nie hoef staat te maak op haar tien Franse woorde en vingertaal nie. “En jy?”

“Besigheid,” sê hy met ’n effense glimlag. Om die een of ander rede voel dit of daar ’n verskuilde boodskap in sy woorde is. ’n Onlogiese opwinding pak haar beet. Jinne, maar die man is aantreklik. Nie uitpaas-mooi nie, net . . . manlik. Hy het daardie iéts: ’n geheimsinnige soort energie wat ’n mens oor hom laat wonder. Loraine sal verheug wees om te hoor sy het uiteindelik iemand ontmoet wat haar hormone roer.

“Dis waarom ek netnou verby jou gery het. Ek het by ’n ander wynplaas afgedraai. Ek voer wyn uit. Onder andere.”

“Sjoe, dit klink na lekker werk. Ek sal nie omgee om heeldag in die Franse platteland rond te ry nie.”

Weer die sydelingse draai van sy kop en die lui glimlag, asof hulle iets deel. Cara se bekken loop kant en wal vol van iets heerlik warm en baie eroties. Verbouereerd knyp sy haar hande tussen haar knieë vas en kyk na die verbyflitsende wingerde. Wat gaan nou met haar aan?

“Van waar af stap jy?”

“Bordeaux.”

Hy lyk onthuts. “Dis ’n stewige ent.”

“My tyd is my eie.”

“Waar was jy al oral?”

“Parys, Épernay, Annecy en Nîmes.”

“Ek hoop nie jy het na al die dorpe gestap nie?”

Sy lag. “Nee. Ek het met die sneltrein gery.”

“En wat is jou indrukke sover?”

“Frankryk is ’n ongelooflike mooi land, veral die platteland.”

Hy knik instemmend. “En jy doen dit alles stoksielalleen?”

“Hoekom nie?”

“Geen rede nie,” glimlag hy. “Ek vra net.”

Dis ’n ruk stil, dan vra hy: “Hoe lank beplan jy om in Saint-Emilion te bly?”

“Ek weet nie. Dit hang af hoe mooi die dorp is.”

“Dan gaan jy lank bly, glo my.”

Cara weet nie wat om met haar hande te maak nie. Deksels, die mansmens is onbehoorlik sexy. Veral die baardstoppels om daardie sensuele mond gee haar die skokkendste gedagtes elke keer as hy so veelseggend glimlag. Sy antwoord nie.

“Wat is jou planne ná Saint-Emilion?”

“Ek het nog twee weke om terug te keer na Parys. Ek sal maar sien hoe die gier my lei.”

“’n Avontuurlustige meisie.” Hy laat dit na ’n groot kompliment klink. Cara onderdruk ’n giggel. As hy maar moet weet hoe ’n bangbroek sy regtig is.

“En jy?” vra sy, skielik vrymoediger. “Hoe lank gaan jy in Saint-Emilion bly?”

“Tot my besigheid afgehandel is, ek moet ’n paar kelders in die omgewing besoek. Seker so twee dae.”

Hy bring die motor vaardig tot stilstand sodat ’n trop ganse sketterend oor die pad kan waggel. Cara verkyk haar aan die goue haartjies op sy voorarm, sy skraal vingers op die ratknop. Goedversorg en sensitief, soos die hande van ’n musikant. Hande wat sal weet hoe om te liefkoos . . . Sy verskuif ongemaklik toe die hitte laag in haar lyf soos ’n verbode fonteintjie weer wil-wil opborrel.

“Van waar af kom jy?” vra Phillippe.

“Engeland.” Sy byt haar lip vas. Deksels! Hoekom het sy dit nou gesê? Maar daar steek darem ’n titseltjie waarheid daarin. Haar stiefpa is ’n rou Engelsman en in haar kinderjare het hulle gesin ’n jaar lank in Engeland gewoon ter wille van sy werk. Sedert hy vier jaar gelede na sy geboorteland teruggekeer het, het sy en Megan darem ook weer by hom gaan kuier. Buitendien maak die leuentjie seker nie soveel saak nie, oor ’n paar minute laai haar weldoener haar af en sien sy hom tog nooit weer nie.

Hy kyk skuinsweg na haar. “Jy klink nie Engels nie, lyk dit nog minder. Eerder Italiaans.”

“My ouma aan my ma se kant was Italiaans.” Hierdie keer is dit die volle waarheid.

“Die mooiste vroue in die wêreld woon in Italië.”

Cara voel hoe sy bloos. Die man is onmoontlik sjarmant. En sy moet erken; sy geniet die vleitaal.

En hoekom nie? Omdat jy nie so is nie, herinner sy haarself. Ruk jou reg.

Phillippe kyk sydelings na haar. “Is iets fout?”

Sy kug. “E . . . nee. Jy lyk ook nie na ’n Fransman nie.”

Sy enigste antwoord is ’n grinnik. Ook maar goed so, dink Cara verlig. Want wat sou sy sê as hy ’n verduideliking eis? Vir my is die Fransmanne maar vaal en onindrukwekkend. Wat natuurlik impliseer dat hy nie is nie.

Blykbaar is sy nuuskierigheid bevredig, want hy vra nie verder uit nie. Na ’n ruk skakel hy die radio aan. Cara maak haar oë toe. Dit voel of sy hulle uit die lug sien, soos ’n toneel in ’n fliek: die aantreklike man in die silwer sportmotor met die donker meisie langs hom, haar hare flappend in die wind terwyl ’n Franse sangeres se rokerige stem met ’n akkordeon flankeer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s