Flenters vir lint – Bernette Bergenthuin

“Ja. Jy maak my heel deurmekaar.”

“Waaraan is die wending in taktiek te danke, Christiaan? Of sal ons ons professionele beskaafdheid handhaaf, Tiaan?” Sy weet sy soek skoor, maar die bekendheid van ’n gekibbel is beter as hierdie onheilspellende wapenstilstand wat sy glad nie verstaan nie. Sy maak haar oë oop toe hy lank stilbly en kyk vraend na hom.

“Ek dink dis tyd dat ons oop kaarte met mekaar speel, Katinka.”

“Jy maak my bang as jy my Katinka noem. Dit klink soos ’n beskuldiging as jy dit sê, want jy gebruik

dit net as jy kwaad is.”

“Jy verander die onderwerp meesterlik, maar ek is steeds by oop kaarte, Katínka.”

Sy weier om die selfgenoegsame rustigheid wat louwarm van haar buik af versprei en ’n wonderlike lam gevoel deur haar ledemate stuur, te versteur en sluit weer haar oë. “Goed. Begin by jou naam.”

“Beteken dit dat jy my steeds nie sal vertrou nie, al plaas ek alles op die spel en vlek myself voor jou oop?” Sy stem klink skielik baie nader en haar hart slaan ’n paar slae oor sodat sy skerper antwoord as wat sy wou.

“Ja, dit beteken presies dit. Besluit maar self of jy jouself die moeite wil aandoen om derms te ryg.” Die soetwyn was dalk nie die beste plan ná Michelle se tequila nie, dink sy. Die vals bravade wat dit meebring, kan haar dalk net in die moeilikheid bring.

“Jy gaan dit nie vir my maklik maak nie, gaan jy, Tinkatooi?”

Sy skrik toe hy op die vloer voor haar gaan sit, een van haar voete op sy skoot neem, haar pers wighakskoen uittrek en stadig begin om haar voet te masseer, maar sy sug net behaaglik. Laat hy maar dink mans val elke dag oor hulle voete vir haar voete . . .

Die gedagte dreig om haar te laat giggel, maar sy drink net nog wyn. Die dag kan in elk geval nie meer op sy kop nie, al staan sy ook op haar kop. Dalk kom die dag dan reg? Haar wingerdlogika is skielik baie snaaks en sy glimlag lui.

“H’m . . . nee. Ek gaan nie. Dit vir jou maklik maak nie, bedoel ek. Maklik is klaarblyklik te boring vir Katinka du Plooy. Net toe dit begin lyk of ‘maklik’ dalk ’n opsie is, toe meng ‘moeilik’ in. Het ek jou vertel dat my kinderheld dalk voete van klei het? En boonop is ek verloof aan ’n witboordjiemisdadiger wat weier om vaderskap van sy kind by ’n ander vrou te erken. En hy sal enigiets doen om te keer dat ek hom ontmasker. Nee wat, ek gaan dit vir seker nie vir jou maklik maak nie.”

Die reaksie wat sy sensuele vingers op haar voete het, dreig om aan onbetaamlikheid te grens, maar Katinka gee nie om nie. Sy is lighoofdig. Sy verdien om ’n bietjie lighoofdig te wees. En sy wil nie hoor wat Christiaan wil sê nie. Sy kan nie nog ontnugtering hanteer nie, so sy reageer vir die eerste keer in ’n baie lang tyd op instink.

Sy maak haar oë lui oop, soek sy blik wat goudbruin in die lamplig skitter en lek haar lippe verleidelik af. Iewers in haar kop skree die koelkop-Katina dat sy moet ophou, dat sy besig is met ’n speletjie waarvan sy die rëels nie verstaan nie, maar sy maak Koelkop-Katinka stil met ’n laaste teug wyn.

3 thoughts on “Flenters vir lint – Bernette Bergenthuin

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s