Altyd somer − Annetjie van Tonder

altyd somer_high res

“Dis goed om so ’n jongmens ook hier te sien,” klink die ryk stem met ’n swaar aksent in Engels op.

Sy stol in haar spore. Byna het sy in die man vasgeloop, so ingedagte was sy. Dis sowaar die man van netnou in die tuin. Sy moet keer om hom nie aan te gaap nie, want van naderby is hy nog aantrekliker as netnou in die voortuin. ’n Vreemde sensasie tintel deur haar lyf. Verbaas wonder sy wat gaan met haar aan, want sy steur haar mos nooit veel aan mans nie. Nou verkyk sy haar aan hierdie byna volmaakte voorbeeld van die manlike geslag. Lank van gestalte, donker hare en byna gitswart broeiende oë. Gits, nog nooit voorheen het sy musiek in haar kop gehoor in ’n man se teenwoordigheid nie, nou draai een na die ander aria uit ’n Italiaanse opera in haar kop. Italiaans? Wel, hierdie man lyk soos sy haar nog altyd ’n Italianer voorgestel het.

Toe vervies sy haar vir haarself. Nee, kragtie, geen mansmens het haar nog ooit van haar voete af gekry nie, sy sal beslis nie toelaat dat hierdie een dit doen nie. Hy lyk buitendien te oud vir haar.

“Wat bedoel jy met so ’n jóngmens? Ek het al genoeg jare agter my om nie vir ’n kind aangesien te word nie,” sê sy ook in Engels. “Maar miskien is jy ook so horingoud dat jy my vir baie jonk aansien.” Toe sy klaar gepraat het, skrik sy haar yskoud. Ai, toggie, wat het haar besiel om so katterig te wees? Dit is ’n swakheid wat sy nie kan oorwin nie; sy het nie altyd ’n wag voor haar mond nie. Wie hy ook al is, sy het nou seker ’n vyand van hom gemaak.

Sy oë rek en sy kop trek skeef. “Jy’s kwaai, nè? Dis pas by daai bos rooi hare.” Hy frons en dit lyk asof sy oë haar lyf skandeer. “Dis mos eintlik ’n kompliment om te hoor jy lyk jonk,” sê hy half verbaas.

“Die meeste van die ander mense wat ek hier sien, lyk veel ouer as jy.” Sy glimlag stel skitterwit tande ten toon. “Hierdie óú oom mag tog seker ’n mooi jong nooi raaksien?” vra hy met sy swaar aksent en sy hand op sy hart.

Philna lig haar kop en kyk na hom. Wie gee hom die reg om melding te maak van haar rooi hare? ’n Krieweling roer in haar binneste toe sy sien hoe deurdringend hy na haar kyk. Dit voel asof sy swart oë oor haar skroei, alles afstroop en haar siel ontbloot, só intens bekyk hy haar. Dit is nie een van daardie bewonderende blikke wat sy gewoonlik kry nie, nee, hierdie een is berekenend, asof hy haar wil weeg om haar waarde as mens te bepaal. Sy linkerwenkbrou skiet omhoog terwyl sy mondhoeke inkeep. Hy lyk heel arrogant, gee sy toe. Is sy geweeg en te lig bevind? Is daar dalk iets fout met haar voorkoms, behalwe dat sy klein en tenger is? Sy het haar tog in die spieël beskou voor sy gekom het en was heel tevrede met wat sy gesien het.

Sy sug innerlik. Waarom was sy nie net ’n paar sentimeter langer nie? Maar nou is sy nie. Sy moet opkyk na hom en dit voel nie lekker nie, maar al moet sy dit dan doen, kyk sy hom nogtans vas in die oë. Sy kan ’n staalblik werp wanneer sy wil of dit nodig ag, en dis presies wat sy nou doen. “Ek moet sê, jy lyk nie juis na iemand wat by ’n bonsaiwerksessie hoort nie.”

Sy wenkbroue skiet omhoog. “Wel, ek dink darem ek is by die regte adres.”

“Miskien moet jy eers daarvan seker maak.” Sy lig haar ken en draai weg.

Miskien lyk sy nie baie gesofistikeerd nie; sy het die minimum grimering aan en haar hare is beslis nie in ’n salon gestileer nie. Sy hou net nie van stywe haarstyle nie en borsel gewoonlik haar hare tot dit blink soos sy.

Haar kennis van plante en bome en blomme sal wel later tot hom deurdring, dit wil sê as hy hier is vir die werksessies. Ja, sy ken bome en sy ken bonsais. Maar sy sal dit nie regtig vir hom sê nie – sy het nog nooit te koop geloop met haar kennis nie. Al kan sy soms bitsig wees, het haar oupa haar geleer om sover moontlik nederig te wees.

Sy het kwalik ’n paar tree gegee of hy staan weer voor haar. Hy kug.

“Stel jy regtig belang in die werksessies, Meneer, of is jy net uit pure nuuskierigheid of dalk verveeldheid hier?”

Hy antwoord nie, lyk net baie geamuseerd. Sy kry die gevoel dat hy die gesprek prettig vind. Wel, dan moet sy dit maar vir hom in sy neus vryf. “Ek, daarenteen, stel werklik belang. Jy sien, Meneer, my oupa is die voorsitter van hierdie bonsaivereniging.”

Asof haar oupa gehoor het sy praat van hom, kom hy na hulle toe aangestap. “Aha, meneer Torelli. Ons wag in spanning oor wat jy ons kom leer.” Joviaal soos altyd groet haar oupa met sy arms oop, asof hy die Italianer wil omhels.

Torelli! Wat vir hulle kom leer? Philna byt op haar tande. Ag, krappies, dit voel kompleet soos in haar skooldae as sy vergeet het om huiswerk te doen en verleë verskoning moes maak. Natuurlik, hoe kon sy so dom wees! Die aksent en sy totale andersheid. Sy moes kon raai hy is die groot Italiaanse bonsaimeester.

“Dis ’n groot eer wat die klub te beurt val dat so ’n wêreldberoemde bonsaikenner sy weg oopsien om Klerksdorp toe te kom. City of Matlosana, hier in die plat uitgestrektheid van Noordwes,” verwelkom oupa Darius die man nog steeds glimlaggend.

Haar gewete trap spoortjies deur haar kop omdat sy so kil met hom was, maar sy benadering tot haar was soos ’n toreador se rooi lap voor ’n bul, sy wou hom bykom. Gelukkig weet Oupa nie daarvan nie.

“Darius Steyn! Uiteindelik sien ek jou nou in lewende lywe ná al die jare se skype.”

Die Torelli-man gebruik, soos netnou, weer kort, afgebroke sinne asof hy mooi moet konsentreer op wat hy in Engels sê. Philna sien hy straal hier saam met Darius die ene hartlikheid uit wat sy gelaat laat blom. Half verbaas betrag Philna die twee. Die man het in ’n ommesientjie ’n metamorfose ondergaan. Met gevoude arms luister sy na die twee mans se gesprek en laat haar blik so ongemerk as moontlik oor die Italianer gaan. Sy aksent klink nogal sexy, pas by die lyf. Toe sy besef waaraan sy dink, voel sy hoe haar wange warm word.

Uiteindelik sien haar oupa haar ook raak en trek haar onder sy arm in. “Ek sien jy en my kleindogter het al ontmoet.”

“Ons het nie regtig ontmoet nie, Oupa, slegs terloops gesels,” skerm sy en loer na die Italianer. Torelli. Volbloed Italiaans. Maar praat van skynheilig? Voor Oupa is hy nou die ene sjarme en glimlag warm terwyl hy kopknik.

“Slegs gesels,” beaam hy en sy oë lag haar uit.

“Ag, dan moet ons die saak dadelik regstel. Dis my kleindogter, Philna Steyn, my regterhand. Sy stel vurig belang in die bonsais.” Haar oupa druk haar saggies. “En dit is nou die eregas van die aand, Phillie, meneer Torelli.”

“Aangename kennis, meneer Torelli,” prewel Philna en voel hoe die hitte op haar wange begin gloei.

“Ricardo, asseblief, anders gaan jy my baie oud laat voel.” Sy gitswart oë terg terwyl hy dit sê.

Voor sy nodig het om te antwoord, praat oupa Darius met haar. “Ek glo jy sal later by die verversings mooi na ons eregas omsien, Phillie.”

Philna sluk. O, aarde tog, sy sal hom dus nie kan vermy nie. Sy sal eerder draaie om hom wil loop, want sy voel nou soos ’n uiterste gek. Tydens elke werksessie sal sy boonop na hom moet luister, na hom moet kyk. Sy knik en mompel: “Ja, Oupa.” Sy sal dit vir haar oupa doen omdat hy mooi vra.

Haar oupa knik tevrede. “Ja, hier het jy nou ’n ware bonsaimeester voor jou, my kind. Wat ek van bonsais weet, het ek by hom oor die internet geleer. Voorheen was dit ek en sy pa Gianni wat gekorrespondeer het, maar hy het dit later aan Ricardo oorgegee. Toe ons uiteindelik internet gekry het, kon ek en Ricardo mekaar op skype leer ken.” Darius vat Ricardo aan die skouer. “En uiteindelik kan ons persoonlik ontmoet.”

Ricardo en haar oupa gesels verder asof sy onsigbaar is. Philna luister eers vir ’n rukkie, maar draai toe ergerlik om en loop. Sy het nie nodig om soos ’n kleuter hier te staan en tande tel nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s