MOEDSWILLIGE VREEMDELING – Rika du Plessis

moedswillige vreemdeling_high res

“Wil jy hê ek moet hom polisiestasie toe vat, Christa?” vra Derek terwyl hy ’n spartelende Brandon stewig vashou.

“Nee, hy moet net loop, maar as hy ooit weer sy voete hier sit, gaan ek hom aankla,” antwoord sy rukkerig.

“Jy het gehoor, vent. Uit by die venster soos jy ingekom het, en as ek jou weer hier sien, is daar moeilikheid,” sê Derek, en druk die dronk man in ’n bondel oor die vensterbank voor hy die venster toemaak en die gordyne toetrek.

Voor Christa kom hy te staan en kyk bekommerd na haar.

“Hoe het dit gebeur?” vra hy sag.

Sy vertel hom, en hy slaan sy arms om haar. Nou bewe sy soos ’n riet toe sy besef wat kon gebeur het as Derek nie opgedaag het nie. “Kom klim in die bed en drink nog ’n bietjie wyn. Dit sal jou kalmeer en dan moet jy slaap.” Met sy arm steeds om haar lei hy haar na die bed toe, gooi die beddegoed oop en tel haar sommer in sy arms op om in die bed te sit.

Toe hy wil orent kom, gryp sy hom aan die arm.

“Moenie loop nie, asseblief,” soebat sy onbeskaamd. Stil staan hy en kyk na haar. Daar is ’n teer trek om sy mondhoeke en simpatie in sy oë. Hy gaan sit langs haar op die bed.

“Ek sal hier bly tot jy aan die slaap is, oukei?” vra hy sag.

“Is die venster nou toe?” vra sy terwyl haar oë in daardie rigting dwaal.

 “Ja, dit is, moenie bekommerd wees nie. Ek gaan hom nie weer oopmaak nie. Waar is die middeldeur se sleutel sodat ek daardeur na my huis toe kan gaan?”

“Hier in my bedkassie,” beduie sy. “Hoekom het jy teruggekom?”

Hy haal die sleutel uit en steek dit in sy sak.

“Ek het onthou ek het die twee glase en kwartbottel wyn hier vergeet. Dit sou dalk vir jou ’n verleentheid gewees het as tant Lenie dit môre hier moes kry. Nou is ek bly ek het gekom. As ek dink wat daai skurk jou kon aangedoen het, sidder ek. Hy is nou wel dronk, maar hy is sterk en baie groter as jy.”

“Baie dankie, Derek, en dankie dat jy sal bly tot ek slaap, maar ek weet nie of ek gou aan die slaap sal raak nie,” antwoord sy sag.

Hy skop sy skoene uit en gaan lê langs haar op die bed sommer bo-op die beddegoed. Agter haar rug gaan lê hy lepel met haar en slaan sy arm oor die beddegoed om haar lyf. Sy kop nestel hy teen hare. Vir ’n oomblik verstyf haar hele liggaam, maar toe sy voel hoe sy gebaar die kalmte deur haar laat vloei, ontspan sy geleidelik. Haar een arm kruip onder die beddegoed uit en sy reik na sy hand hier voor haar maag. Sy vingers vou dadelik om hare.

“Toe, slaap nou,” sê hy sag hier naby haar oor.

 “Ja . . . ja, ek dink ek sal nou kan slaap. Moenie vir Oupa-hulle hiervan vertel nie, asseblief,” fluister sy en maak haar oë toe. Christa is uiters bewus van die stewige mansfiguur so styf teen haar, en tog weet sy op hierdie oomblik sy het niks van hom te vrees nie. Haar gedagtes kring om die afgelope paar dae en die baie kere wat sy hulle koppe gestamp en sy hom selfs afgejak het, en sy wonder hoekom kon sy nie eerder die méns-mens in hom raaksien nie. Toe haar gedagtes begin deurmekaar raak, sluit sy dit af en voel hoe die loomheid haar bekruip.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s