MAANLIGLIEFDE – ELIZE DAVIES

maanligliefde_high res

Sy haal die kontrak uit wat sy huis toe gebring het om deur te lees, en maak haar op die bank in die sitkamer tuis. Sy gaan nou hierdie kontrak lees, en as Leon Lategan opdaag, sal sy hom in sy peetjie stuur.

Dit wil sê ás hy opdaag. Met daardie onstuitbare humorsin van hom was dit alles dalk net ’n groot grap ten koste van haar: om vir die vaal, eksie-perfeksie prokureurtjie te sê hy kom haar haal, sodat sy haarself mooimaak en vir hom sit en wag, en dan daag hy nie op nie. Standvastigheid en betroubaarheid is nie juis kenmerke van die Leons van hierdie lewe nie.

Maar op die kop tienuur is daar ’n vinnige, harde klop aan haar deur.

“Hoe het jy by die sekuriteitsdeur ingekom?” vra sy kwaai toe sy die deur oopmaak en Leon Lategan daar staan, hartbreek-, verlammend aantreklik in ’n T-hemp, denimkortbroek en sandale.

“Gedink ’n sekuriteitsdeur sal dit regkry om my uit te hou, Groenoog?”

Haar oë begin blits van verontwaardiging, maar Leon lag. “’n Vriend van my bly in nommer 214 hier bo. Hy was so gaaf om die deur vir my oop te maak en boonop vir my ’n kaartjie vir die deur te leen,” sê hy lui terwyl sy blik oor haar kuier. ’n Stadige, waarderende glimlag plooi om sy mond en sy oë begin glinster.

“H’m. Mooi. Baie, baie mooi.” Sy stem is dieper as gewoonlik en die warm bewondering in sy oë laat die bloed in haar wange opstoot. Sy maak haar mond oop om vir hom te sê sy gaan nie saam met hom nie, maar hy gee haar nie kans nie.

“Is jy reg om te gaan?” vra hy meteens saaklik. “Het jy iets warms? ’n Trui of ’n ding? Dit raak saans nogal koel.”

Asof sy in ’n marionet verander het, draai Mariëtte willoos om, gaan kamer toe en kom ’n paar oomblikke later met haar handsak en ’n trui te voorskyn.

Woordeloos haal Leon haar sleutel van ’n hakie teen die muur af. Steeds woordeloos stap hulle gang-af hysbak toe.

Wat doen sy, wonder Mariëtte benoud. Sy hou nie van hierdie mansmens nie. Hy het hopeloos te veel selfvertroue, en hy is arrogant en beledigend daarby. Sy is tog in beheer van haar eie lewe; hoekom laat sy toe dat hy haar so manipuleer? Sy is vol van die beste voornemens, maar een kyk in daardie blou oë en daardie einste voornemens verdamp soos vroegoggenddou.

Die plaas lyk nog mooier as wat sy onthou.

“Wat is daardie vrugte? Is dit lemoene?” vra sy toe hulle verby die boord met die rye en rye glinstergroen bome ry.

“Nartjies,” antwoord hy lakonies. “Maar hier is lemoenboorde ook, en ander soorte sitrusvrugte – clementines, tangerines, mandarins, en kumkwats. Dis vrugbare grond dié, en die klimaat is uiters geskik vir sitrus.”

Hy hou langs ’n stowwerige bakkie voor die dubbelgarage stil en loop om om die motordeur vir haar oop te maak. ’n Drietal groot honde kom hulle stertswaaiend tegemoet en snuffel aan Mariëtte se skoene tot Leon hulle bestraf.

“Welkom op Klein Vrede, juffrou Lindemann,” sê hy met ’n glimlaggie en sy blik is warm en vriendelik.

“Dankie,” sê sy waardig, en dan, nuuskierig: “Hoekom Klein Vrede?”

“My ouma se keuse,” sê hy lakonies. “Daar is ’n gedig van Antjie Krog met dié titel. My ouma was mal daaroor. Kom ons gaan in. Ek dink Josephine het skons gebak. Sy is my huishoudster,” voeg hy by toe sy vinnig na hom kyk.

Josephine is lank, skraal en vriendelik, en te oordeel na die geurige, uitgeryste skons en tuisgemaakte aarbeikonfyt wat sy voorsit, ’n uithalerkok.

“Is Ben nie hier nie?” vra Mariëtte na ’n rukkie.

“Hy bly nie hier nie,” verduidelik Leon. “Hy bly by my ma-hulle terwyl hy Landboukunde swot. Hulle plaas is ’n paar kilo’s van hier af. Hy maak die einde van die jaar klaar, dan sal hy seker ook gaan boer. Nog ’n skon vir jou?”

Mariëtte skud haar kop. “Dit was heerlik, maar ek het genoeg gehad, dankie.”

Leon staan op. “Kom ek gaan wys jou die waterval.”

Hy staan ’n oomblik stil en kyk op haar af. “Jy is kleiner as gewoonlik,” merk hy op.

“Dis die plat skoene,” sê sy verdedigend.

“H’m. Ek weet nie hoe kry julle vroumense dit reg om op sulke stelte rond te loop nie. Kyk, jy pas nou perfek onder my ken in.”

Hy kom nader, maar Mariëtte ontwyk hom behendig.

“Die waterval,” herinner sy hom koel en verwens die warm blos wat oor haar wange spoel.

Leon lag. “Nou ja, kom laat ons gaan.”

Hulle stap verby die boorde waar groot, helder vrugte soos oranje Kersfeesliggies tussen die glansende groen blare hang. Leon pluk ’n groot nartjie en skil dit behendig af. Die skille word ongeërg onder die boom teen die stam gegooi. Hy breek die geelryp vrug oop en trek die skyfies uitmekaar.

“Dis die laaste nartjies van die jaar. Proe net hoe soet.” Hy druk ’n skyfie in haar mond en sy kou gehoorsaam. Die vrug is sappig en hemels soet.

“Lekker,” sê sy toe sy klaar gesluk het.

“Kry nog een.” Hy voer haar weer, skyfie vir skyfie, en hou sy blik op haar mond gerig terwyl sy eet, en Mariëtte voel hoe haar wange begin brand. Hoe kan ’n doodgewone handeling so . . . so ontstellend eroties wees, wonder sy en probeer haar hamerende hart onder beheer hou.

“My nooi is in ’n nartjie,” sê Leon tergend toe sy die laaste skyfie klaar geëet het. Hy leun vorentoe totdat sy lippe aan hare raak. Sy mond streel sag en warm oor hare en hy proe en ruik na son en na man, en Mariëtte se lyf begin gloei en sy weet sy sal nooit weer ’n nartjie kan eet sonder om aan hierdie oomblik te dink nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s