Vars van die drukkers

EEN NAG IN PARYS – CECILIA NORTJÉ

In Frankryk gaan Cara haar reuse liefdesteleurstelling afskud en mans eens en vir altyd vergeet. Maar toe kruis haar paadjie met die van die onmoontlik aantreklike Philippe en sy verloor haar hart een nag in Parys.

MAANLIGLIEFDE – ELIZE DAVIES

Mariëtte se lewe is soos haar kaste, netjies georden, met geen plek vir belaglike emosies soos die liefde nie. Nog minder is daar plek vir aantreklike hartebrekers soos Leon Lategan met sy blou oë en sy onstuitbare humorsin.

ALTYD SOMER – ANNETJIE VAN TONDER

Ricardo kom bied werkwinkels oor bonsaikuns by Philna se oupa se kwekery aan. Dié bonsaimeester maak haar subtiel die hof en wen onherroeplik haar hart. Maar wie is die vrou en seun in die foto wat hy oral saam met hom dra?

MOEDSWILLIGE VREEMDELING – RIKA DU PLESSIS

 Christa Burger en dokter Derek Havenga is haaks vanaf die eerste oomblik wat hulle ontmoet. Maar dié moeilike dokter is haar vennoot in die vakansieoordwoonstelle op Lambertsbaai. Stadig baan wrewel die weg vir liefde, totdat Derek se eksverloofde weer haar opwagting maak.

TUSSEN DIE KLIPPE – HANS DU PLESSIS

Tussen die klippe

Dis die jaar 1851 en die beeldskone Susanna Isabella Marais word aangekla van ‘sonde’. Sy word gedaag voor die Hof van Landdroste en Heemrade omdat die oudstes haar van veelmannery en bedrog beskuldig. En in die hof onder die wildeseringbome, waar die verrigtinge kort-kort onderbreek word deur die lawaai van bobbejane, voëls en vlakvarke, word haar skuld getuie vir getuie duideliker. Hulle ken haar so.

Dominee Johannes word deur die weledele Sinodale Kommissie uit die Kolonie gestuur om dié “hoogs onwettige, onsedelike en onchristelike egverbintenis” te ondersoek.

Susanna is een vroegoggend hof toe gesleep, “soos wat ʼn mens ʼn uitgediende velsak agter jou aansleep”. Haar lang, donker rok gekreukel, stowwerig en op die een skouer geskeur. Nogtans, soos destyds met die kerkraadsvergadering, is “haar groot, geel-bruin oë, ryp soos twee mispels, geamuseerd eerder as bang, spottend, neerbuigend selfs”.

Johannes is op soek na die waarheid van die Bybelse liefde. Hoe meer verdoemend die getuienis teen haar raak, hoe meer begin hy wonder of die liefde wat hy verkondig, meer is as die liefde tussen God en mens?

VIVA LA VIDA – BERNETTE BERGENTUIN

Viva la vida

Vida se beste vriend staan uiteindelik op trou. Maar as hy hom lewenslank wil opsaal met ’n meisie wat in alle opsigte die Barbie-model ’n treetjie voor is, is dit sy saak. Dit is wel hinderlik dat sy as “best woman” ’n tuxedo-aandrok moet dra en alles wat daarmee saamgaan om die verloofde gelukkig te hou. Ook die feit dat hulle haar met die verloofde se broer wil afpaar. Maar net vir die troue en net vir haar beste vriend is dit ook seker nie te veel gevra nie. En die man is regtig ’n vangs, as sy eerlik wil wees.

Terwyl haar beroepslewe as argitek ook ’n onverwagte trap of twee styg en sy daarmee probeer tred hou, doem ander komplikasies op: haar ewig onvergenoegde ma, haar immer swerwende pa, ongeoorloofde affairs begin aan die orde van die dag lyk, ’n ramparty haak ampertjies uit en ’n naweek in die Bosveld het rampspoedige gevolge.

As daar ooit ’n moontlikheid was dat Vida se beste vriend eintlik die liefde van haar lewe is, is dit nou te laat. Die strykkwartet speel al die troumars, letterlik. En Vida se sin vir humor is meestal al wat haar staande hou.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s