IN GESPREK MET Elize Davies

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as …

My kinders gesond, gelukkig en gevestig is, en as ek kan aftree, gesond kan bly en genoeg geld kan hê!

Liefde is soos…

’n Eksotiese plantjie − raar en kosbaar, maar dit verg spesiale aandag om te groei.

Ek’s niks as dit nie was vir

My Hemelse Vader en my ouers nie.

As ek verveeld is …

Sal ek nie weet wat my getref het nie, want daardie woord bestaan nie in my woordeskat nie. Daar is altyd hope en hope goed wat my aandag verg of waarvoor ek lus is.

Vrede omring my

As ek langs die see stap, of in my tuintjie werk, of ’n boek in ’n sonkolletjie sit en lees.

Waar wil jy op vakansie gaan?

Die Skotse Hooglande. Of ’n Griekse eiland. Of die Franse platteland. Of ’n bootvaart op die Rynrivier. Na enige plek in die natuur waar daar nie miljoene malende mense is nie.

Watse verrassings is in jou beursie?

Hy is dolleeg!

Ek kan regtig leef sonder …

Televisie. En mense wat aanhoudend oor niks kekkel. En kritiese, veroordelende mense of mense wat nie respek het vir ander nie.

Wat’s jou gunstelingwoord?

O, daar is baie. Afrikaans het sulke heerlike, unieke, onvertaalbare woorde: sommer, holderstebolder, gramadoelas, onhebbelik, rondskarrel, bollemakiesie…

My trooskos is…

Sjokolade en cappucino!

download

Wie is Elize Davies as sy van haar skrywerstoel af opstaan?

Nog steeds dieselfde mens: ’n ma wat bekommerd is oor haar kinders, ’n vrou vir ’n liefdevolle man, ’n dogter wat verlang na haar ma wat nie meer daar is nie, ’n suster vir my wonderlike susters en broer, ’n vriendin vir die dierbaarste vriendinne op hierdie aarde.

Wie is jou gunstelingskrywer?

Daar is baie, ek is ’n leesverslaafde. Dalene Matthee en Annelie Botes. Alexander McCall Smith, Bill Bryson en Nora Roberts. Alta Cloete, Chanette Paul en al die Romanza-skrywers.

images

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Onder die Groot Geeste:  Shakespeare, Beethoven en NP van Wyk Louw.

Onder die lewendes: my drie seunskinders, wat oor die wêreld versprei is, of my twee susters en my beste vriendin.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Mej. FR Malan, hoof van die destydse Hoër Meisieskool Stoffberg in Brakpan, het vir my geleer dat “’n dogter van Stoffberg” nie sommer moed opgee nie: as ’n mens nie dadelik sukses behaal nie, probeer jy weer. Dit is iets wat ’n skrywer moet onthou as daardie “nee dankie”-briefies kom…

Vir wie sal jy jou laaste dans wil spaar? Hoekom?

Vir my man, wat al amper veertig jaar aan my sy is en nog net so lief is vir my as 40 jaar gelede.

Het jy altyd weet dat jy ’n skrywer wou word?

Toe ek klein was, wou ek ’n juffrou word, maar vandat ek op skool begin opstelle skryf het, was skryf my hartsbegeerte.

onm

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

My skoonsuster se hond − hy het hemel op aarde. Of ’n skrywer soos JK Rowling wat ’n trefferboek skryf en oornag ’n miljoenêr word.

Wie/wat beïnvloed jou skryfstyl?

Ander skrywers se pragtige, raaksê-woorde en uitdrukkings maak my skoon jaloers en lus om nuwe lewe in my eie moeë woordeskat te blaas.

Waar kry jy inspirasie vandaan?

Ek leef, droom en dink stories. Elke vakansie is ’n moontike agtergrond vir ’n boek, elke persoon op straat ’n moontlike karakter, elke situasie waarvan ek lees of hoor ’n moontlike gebeurtenis in ’n storie.

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Vroegoggend, as ek alleen is − dis moeilik om jou in jou verhaal te verloor as die televisie blêr of mense om jou rondmaal of met jou praat.

Wie is die inspirasie agter Mariëtte?

’n Nie-identiese tweeling uit my laerskooldae het my dikwels oor tweelinge laat wonder. En twee onlangse, opspraakwekkende hofsake waarin jong mans die aangeklaagdes was, het aan Mariëtte ’n beroep besorg.

maanligliefde_high res

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Ek het glad nie ’n vaste roetine nie − ek werk voltyds, en saans en naweke is daar huispligte. My skryfwerk word gruwelik afgeskeep.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Gaan sit en probeer! Die eerste poging is die moeilikste − as hy eers neergepen is, kan jy na hartelus herskryf en verfyn en verander.

Sal jy dit ooit oorweeg om ’n roman te skryf?

Hoekom? Hoekom nie? Ja, ek wil nog eendag.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Die publikasie van my heel eerste boek − dis ’n onbeskryflike gevoel!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s