Een laaste somer – Dina Botha

een laaste somer_high res

Luigi sit sy bagasie neer en haak ewe familiêr by haar in.

“Carlos, terwyl jy vir ons vervoer reël, gaan ek en Carmin nog ’n drankie op die jag geniet. Dit lyk in elk geval nie of die ander haastig hotel toe is nie.”

Carmin wil haar arm onder syne uittrek en sê dat sy nie vir die hotel se bussie gaan wag nie. Sy gaan solank aanstap huis toe. Sy wil die bekende reuke en geure van die eiland op haar eie tyd inneem en haar daarin verlustig. Dit sal buitendien nie die eerste keer wees wat sy al die pad van die hawe tot by die hotel loop nie. As kinders het sy, Alisha en Alexus dit dikwels gedoen. Niks keer haar nie. Haar kortbroek is gerieflik vir die stappie, en sy het ’n paar gemaklike sandale aan haar voete.

Carmin kry egter nie kans om enige van die goed vir Luigi te sê nie, want ’n koel en alte bekende stem agter haar sê haar naam.

“Carmin?”

Carmin voel hoe die bloed haar gesig verlaat en haar bene dreig om jellie te word. Ses jaar lank wag sy vir hierdie oomblik. Nee, eerder vrees sy dit, want hoe kyk ’n meisie haar slegste herinnering in die oë? Sy ruk haar vinnig reg. Die ontmoeting sou tog een of ander tyd plaasvind. Dis net jammer dat sy nie meer tyd gehad het om haar daarop voor te berei nie. Sy veins ’n verbaasde glimlag en draai stadig om. Haar hart ruk toe Alexus nie alleen is nie. Met haar kort donker hare en perfek gegrimeerde gesig, is die meisie aan sy sy ’n toonbeeld van skoonheid en elegansie. Carmin kyk by Alexus verby. ’n Entjie verder dra ’n man bagasie van ’n jag af, een wat sy dadelik herken as die Anita, Ari Papadakis se jag. Sy stuur haar blik terug na Alexus en fokus op sy voorkoms. Hy is in ’n wit hemp en langbroek geklee en hy dra sy hare effens korter as wat sy kan onthou. Daardie mooi en jong gelaatstrekke wat haar so bekoor het, het hom laat verander in ’n uiters aantreklike volwasse man.

“Alexus, wat ’n verrassing om jou te hier sien!” Sy maak haar arm uit Luigi s’n los en loop nader. Toe soen sy Alexus liggies op elke wang.

Alexus se oë is agter ’n donkerbril verskuil en sy kan dus nie probeer aflei hoe hy voel nie. Sy skouers is egter in ’n stywe lyn teruggetrek.

“Hoekom het jy nie laat weet jy kom nie?” vra hy kortaf.

“En die verrassing bederf?”

“Jou ma weet dus nie dat jy huis toe kom nie?”

“Nee, niemand weet nie. Ek het aanvanklik laat weet dat ek nie Pa se verjaarsdag kan bywoon nie, maar soos jy kan sien, het ek intussen van plan verander.”

Luigi vat haar aan haar arm om haar aandag te trek. “Jammer om te onderbreek, Carmin. Carlos het reëlings getref. Die hotelbussie kom ons haal.”

“Dankie, Luigi, ek sal nou by julle wees. Het jy nie iets gesê van ’n drankie nie?” vra sy met ’n soet glimlag.

“Natuurlik, ek gaan kry vir jou iets om te drink.”

Soos ’n skoothondjie draai Luigi om en gaan weer aan boord.

Een van die meisies lag hard en effens skril en Alexus frons ontevrede. “Ou vriende van jou?”

“Meer soos nuwe vriende. As jy my nie aan jou vriendin gaan voorstel nie, moet jy my verskoon. Ek sien jou later by die huis.”

“Wag, Carmin. Jammer, dit was ongemanierd van my. Ontmoet Kate Rogers, ’n sakevriend se dogter. Kate, dit is my suster Carmin.”

“Aangename kennis,” sê Kate en klink verras.

“Amerikaans?” vra Carmin toe sy die aksent herken.

“Dis reg. Ek woon in New York.”

Kate se grysgroen oë vernou voordat sy na Alexus kyk. “Jy het genoem dat jy twee susters het, maar nie dat die een so blond en anders is nie, en met anders bedoel ek sy lyk nie soos ’n Griek nie.”

“Haar ma is ’n Suid-Afrikaner en net so lig van gelaat.”

“O, dit verklaar alles.”

As Kate in New York woon, beteken dit sy kuier by Alexus op die eiland? Reguit vra kan sy ook nie.

Carmin kan egter nie besluit of sy van die meisie hou of nie. Gewoonlik besluit sy dadelik en is selde verkeerd in haar besluit. Daar sal seker genoeg tyd wees om daardie antwoord te vind. Toe besef sy dat Alexus die subtiele vraag rondom haar nasionaliteit netjies omseil het. Hy het gesê haar ma is Suid-Afrikaans, wat kan beteken hulle het dieselfde pa maar twee ma’s. Sou hy doelbewus die feit verswyg dat hulle slegs aangetroude familie is? Is dit vir hom belangrik dat Kate aan hulle as eie broer en suster dink?

“Hier is jou drankie, Carmin, met baie ys soos jy dit verkies.”

“Dankie, Luigi. Laat ek jou sommer nou aan my broer voorstel. Ek is seker jy sal hom weer op die eiland raakloop.”

Carlos staan ook nader en die jongmense word oor en weer aan mekaar voorgestel. Sy kyk weer na Kate. “Kate, gaan jy by die Papadakisse inwoon of bly jy in die hotel?”

“In die hotel. Alexus sê hy wil nie julle ma verontrief nie.”

“Dan sal ons almal mekaar weer raakloop. Totsiens vir eers.”

Carmin verander van plan. Sy wil nie meer alleen wees nie. Sy stoot doelbewus haar arm deur Luigi s’n. Hy stort ’n bietjie van sy drankie en sy besef dadelik dat hy nie heeltemal so vas op sy voete is as wat hy behoort te wees nie. Die frons tussen Alexus se oë word dieper en sy oë killer.

“Jy kom saam met ons, Carmin,” sê hy en slaan oor na Grieks.

Sy boog haar wenkbroue. “Hoekom?”

“Want jou vriende is almal besope. Jy waarskynlik ook.”

Luigi is klaarblyklik ook die taal magtig, want hy lig sy hand in beswaar op. “Haai, jy kan nie so met Carmin praat nie,” probeer hy haar verdedig.

“Ek mag, sy is my suster en ek dra haar belange op die hart. Carmin, wat gaan dit wees? Gooi ek jou dronk vriend in die see of ry jy saam met ons huis toe?”

Om een of ander rede glo sy hy bedoel elke woord wat hy sê. Omdat sy nie haar vakansie op so ’n suur noot wil begin nie, hou sy haar drankie na Luigi uit. Sy gooi haar rugsak oor haar skouer en tel haar drasak op. Sy weet dis seker ongelooflik min bagasie vir ’n internasionale model, en indien iemand dit sou oopmaak, sal hulle vind dit bevat net ligte klere en onderklere, niks uitspattigs nie. En natuurlik swemklere. Dis haar idee van ’n vakansie, nie ’n spul ontwerpersklere in ontwerperstasse nie. Indien sy enige iets anders benodig, sal sy dit koop.

“My ouboet het gepraat, Luigi. Ek sal jou more by die hotel kom opsoek.” Sy soengroet hom op albei wange, waai vir die ander jongmense en toe vir Carlos.

“Carlos, dankie vir die saamrygeleentheid.”

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s