Brug na haar hart – Elsa Winckler

brug na haar hart_high res

Sy is nie vreeslik mal oor al die honderde sosiale media-moontlikhede nie, maar sy het begin om haar voltooide skilderye op Instagram te vertoon. Aanvanklik was dit vir haarself – om haar vordering te sien, om elke dag rekenskap aan haarself te gee van dit wat sy onderneem het om te doen. Maar baie gou het mense belangstelling getoon, bestellings begin plaas en foto’s aan haar gestuur van brûe in hulle omgewing waaraan hulle besondere betekenis heg.

’n Brug verbind, maak toegang wat onmoontlik was moontlik, dra vervoer. Haar tekeninge het brûe geword na ander mense in ander lande, ander kulture.

Maar ’n brug doen soveel meer. Haar ouma was haar brug na warmte, liefde, aanvaarding. Anders as haar ouers, het ouma Bel nooit haar keuses bevraagteken of haar laat voel sy is minderwaardig omdat sy nie ook soos hulle belangstel in ’n beroep in die finansiële wêreld nie.

’n Sielkundige sal seker nog baie ander afleidings kan maak uit haar keuse om brûe te skilder. Elke skilderytjie wat sy klaarmaak, laat sing haar hart, en sy weet elke keer sy is met die regte ding besig.

Nie in haar wildste drome het sy kon dink sy sou so suksesvol wees nie. Die piepklein skilderytjies trek wêreldwyd aandag – sy verskeep tot in Amerika daarvan. En die lekkerste van alles? Sy maak meer as genoeg om vir haarself te sorg. Ouma Bel se geld is veilig belê vir die huis wat sy gaan koop wanneer sy terug is op Stellenbosch.

Dis ook hoekom sy in een van die luukser huisies in die Tankwa-Karoo-park gaan bly en nie gaan kamp nie. Dit is iets wat sy so ver as moontlik probeer vermy.

Soms, wanneer sy nie anders kan nie, skilder sy portretstudies. Dié werke adverteer sy nie en kan sy aan niemand anders verkoop nie. Op hierdie stadium skilder sy dieselfde mens oor en oor en oor. Wanneer hy eendag uit haar sisteem is, sal sy enige emosie kan skilder, enige gesigsuitdrukking op doek kan weergee. Dit is dus eintlik ’n goeie ding, want sy oefen net.

Yeah, right. Sy pers haar lippe opmekaar. Sy wonder al so lank oor hom, oor die soen, oor wat sou gebeur het as sy nie die wille weghol gekry het nie. Nou het hy haar weer gesoen en sy is bevrees dit gaan nog moeiliker wees om daarvan te vergeet.

Haar klein viertrek begin vreeslik skud. Dis ’n ellendige pad. Sy vou haar hande stywer om die stuurwiel en konsentreer om die motor in die pad te hou. Dis toe sy om ’n draai kom dat sy die groot viertrek langs die pad sien staan en ’n man wat sy hand uitsteek. Haar motortjie bokspring oor die klippe en sy moet weer op die pad konsentreer.

Sy haal haar voet van die petrolpedaal af en loer in haar truspieëltjie. Daar is nie ’n ander siel in sig nie. Dis net sy en die man. Sy is maar skrikkerig om vir ’n vreemdeling stil te hou, maar sy kan ook nie die stomme man so laat staan nie, sy sal nooit vannag slaap nie.

Sy hou dus maar stil. Toe sy opkyk, ruk haar hart tot stilstand en sy kreun hardop. Die man langs die groot viertrek is niemand anders nie as Henno van Niekerk. Sy sit doodstil, want haar breinselle weier om te werk.

Hy kom stadig nadergestap en gelate draai sy haar venster af.

“Eva?” vra hy verbaas. “Ek dog jy is al by jou bestemming.” Hy kyk haar motor kopskuddend op en af. “Ek kan nie glo jy ry met hierdie dingetjie nie.”

“My motor ry, joune staan. Wat is jou probleem?” val sy hom dwars in die rede.

Hy staar minute lank na haar en kruis sy arms.

“Ek het sonder petrol gaan staan,” sê hy, hoogs geïrriteerd.

’n Giggel begin laag in haar maag en wil-wil opsluit uitbars, maar sy sluk dit met mening terug. Die kloppende spiertjie in sy wang is ’n aanduiding dat die man dalk ietwat opgewerk is.

“Dis jou gelukkige dag,” glimlag sy en wip uit haar motor. Sy stap om na die agterkant en maak die deur oop. “Ek het ekstra petrol. Omdat ek maar net ’n vroumens is, het ek geluister wat almal sê. En almal sê . . .”

“Ja, ja, oukei,” sê hy ergerlik. “Almal sê maak vol, daar is nie weer ’n vulstasie voor die Tankwa nie. Dink jy ek weet dit nie?” Met lang treë stap hy na die agterkant van haar motor, haal twee van die groot kanne petrol uit en sit dit op die grond neer.

“Waar bly jy? Ek sal terugry dorp toe, die kanne weer volmaak en aan jou terugbesorg. Ek het ook my kos by die gastehuis vergeet.”

Toe bars die lag eenvoudig uit, verby al die pogings om dit in te hou. Sy beduie met haar vinger na hom en probeer iets sê, maar die lagbui is nog lank nie klaar nie.

Henno kners op sy tande en kyk na Eva. Met haar hande op haar heupe, vooroor gebuig, lag sy hom uit. Hy het niemand anders om te blameer vir sy penarie nie, net homself.

Voor hy mooi dink wat hy doen, beweeg sy voete die paar tree tot by haar. Sy kom net weer regop toe hy voor haar staan. Sy pers haar lippe opmekaar in ’n poging om die lag te stop, maar honderde duiweltjies dans in haar oë.

Hy gee nog ’n tree nader sodat hulle feitlik teen mekaar staan. Haar oë rek, die duiweltjies hou op dans en sy trek haar asem hoorbaar in.

“Wil jy weet hoekom ek van alles vergeet het?” vra hy.

“Hoekom?”

“Oor jou,” sê hy.

Sy skud haar kop en laat sak haar ken. “Henno, dis . . .”

“Belaglik, ek weet,” sê hy en druk haar hare agter haar oor in.

“Moenie,” sê sy en ruk haar kop vervaard terug. “Vat die petrol. Ek hoop jy kom reg.”

Voordat hy iets verder kan sê, is sy terug in haar motor en trek sy weg dat die klippe spat. Hy staar die stofwolk lank agterna. Dis eers toe hy die petrolkanne optel dat hy agterkom hy het ’n breë glimlag op sy gesig.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s