Reënboogbruid – Mari Grobler

reënboogbruid_high res

Haar eerste beker egte boeretroos proe soos manna uit die hemel. Sy lees die koerant deur, los dit op die tafeltjie vir iemand anders en gaan dwaal in die interessante lughawewinkeltjies rond.

’n Lang blonde man wat net soos Hubert Jones lyk, staan by ’n rak in ’n boekwinkeltjie en haar hart ruk. Toe hy verby haar stap, sien sy sy oë is bruin in plaas van blou, sy neus is langer en sy mond het ’n ander vorm. Sy wonder of dit haar voorland is om vir die res van haar lewe na glimpe van Hubert in ander mans te soek. Dis tog verregaande. Niemand sal ooit hy kan wees nie.

Sy is haastig om haar mense te sien en is een van die eerste passasiers wat aan boord gaan vir die vlug na Port Elizabeth. Gelukkig het sy ’n sitplek by ’n venster. Sy maak haar sitplekgordel vas, leun met haar kop teen die rugleuning en maak haar oë toe. Dis die eerste dag van Desember, ’n mooiweersdag vol somer. In Japan is daar nou wit sneeutoppe met verskillende skakerings van skadu’s in die berge.

“Sayonara, totsiens,” het sy vir meneer Laroche gesê toe sy hom moes groet. Hy het aan sy grys bokbaardjie gevat-vat soos hy altyd maak wanneer hy emosioneel word en sy gevoelens blitsvinnig weer agter sy amber oë verskuil. Japannese, selfs digters, glo die antwoord lê in dit wat nié gesê word nie.

“Mata dozo, come again,” het hy geantwoord en ’n opgerolde scroll met een van sy gedigte in haar hand gedruk. Sy het die scroll oopgerol en die woorde verstaan asof sy dit self geskryf het.

Slightly disguised words

like stars in the rain . . .

I knew you at first sight.

katoogFacebooktweede5

Sy het hom ook met die eerste oogopslag geken, dié middeljarige Japannees wat haar geleer het dat slegs eerlike gedigte misterieus en onsterflik word. Hy het haar gewys hoe om simbolies en dubbelduidend te skryf en ’n hele wêreld in die natuur te ontdek: insekte, reptiele, soogdiere, weersveranderinge, berge, plante, getye en planete. Dit sou wonderlik wees as sy hom en Hubert Jones in haar tas kon pak en kon saamneem huis toe. Sommer vir Su Fen ook, glimlag sy by haarself. Sy weet sy gaan die drie mense vir die res van haar lewe onthou en mis.

Tog voel sy opgewonde om binnekort weer in haar eie huis in haar eie kamer te slaap, maar sy weet sy sal Japan nooit kan vergeet nie. Die land het haar met ope arms ontvang en sy het in die drie maande van haar verblyf daar al hoe meer veroosters en soos ’n opregte Japannees gevoel. Die landskappe met die sagte skakerings in mis en helder kleure in die son is gedigte wat net wag om geskryf te word. Sy gaan veral vir meneer Laroche mis, wat vier tale magtig is en ’n Japannese haikoe in ’n oogknip in Engels kan vertaal.

Die middeljarige promotor met sy skerpkyk- half skelerige bruin oë en diep insig by wie sy so baie oor die skryfkuns geleer het, was terselfdertyd vir haar ’n pa-figuur in die vreemde, ’n vreemdeling wat daagliks al hoe meer bekend geword het. Sy het hom selfs van Hubert Jones vertel. Volgens hom is geen afstand groot genoeg om ware liefde te keer nie en dit sal wel oorbrug word. Sy moet leer om te wag soos die bome vir reën wag. Hy het haar aan Wang Wu herinner, die verbeeldingsmaat waarvan Ma- Simoné haar kleintyd vertel het. Haar ma is ook ’n enigste kind en het dié maat vir haarself opgetower nadat ’n familielid vir haar ’n Oosterse boek gegee het met ’n prentjie van ’n ou Chinees in syklere daarin afgedruk. Sy wonder hoekom sy en Ma-Simoné albei so met die Ooste gepla is.

Gelukkig was my Wang Wu ’n vlees-en-bloed- mens, dink sy verlig. Ek het die voorreg gehad om hom te leer ken. Hoe gaan ek nie daarna verlang om saam met hom gesoute pampoenpitte te eet, ryswyn te drink en gedigte te skryf nie? Hy het my vakgebied verstaan en my nooit ongemaklik laat voel in sy teenwoordigheid nie. Hoekom het ek nie eerder op hom in plaas van Hubert Jones verlief geraak nie?

Die aankondiging dat hulle binnekort gaan opstyg en hulle sitplekgordels moet vasmaak, verbreek haar diep gedagtegang en ruk haar terug tot in die hede. Sy weet sy en meneer Laroche en Su Fen sal ten minste kontak hou, maar Hubert het soos ’n skim in Taiwan agtergebly. Hy het nie eers haar foonnommer of adres nie. Van hom sal sy nooit weer hoor nie. Net die blote gedagte gaan lê soos ’n swaar klip in haar hart.

Sy leun met haar kop teen die venster toe die vliegtuig die aanloopbaan bevlieg soos ’n windhond met terpentyn onder sy stert se sagste plek. Toe hulle opstyg, kyk sy oor die vlerk van die metaalvoël wat al hoe verder weg van Hubert vlieg. Hugh wat sy nooit weer sal sien nie, Hugh wie se beeld soms nog so fel in haar geheue vassteek dat dit voel of sy hom kan aanraak as sy haar oë toemaak en haar hand uitsteek. Sy hoop maar die beeld sal mettertyd heeltemal vervaag. Gelukkig sit daar niemand langs haar nie en kan sy rustig in haar gedagtes afskeid neem van alles wat sy in die Verre Ooste moes agterlaat, die goeie en die slegte. Sy dommel weg en droom ’n verspotte droom van haar en Hubert wat op die rug van ’n getemde Oosterse draak bokant wolke vlieg.

Sy skrik wakker en maak die haikoeboek wat Hubert vir haar gegee het oop. Daar was nie tyd om dit in Japan te lees nie. Sy was te besig om haar eie haikoes te skryf. Sy blaai deur die boek en sien ’n klein opgevoude stukkie papier tussen die blaaie. Toe sy dit oopvou, sien sy daar is iets in Hubert se hoekige handskrif geskryf. Minette, ek het dit nooit in reguit woorde vir jou gesê nie. Die Chinese versluier dit wat vir hulle werklik waardevol is, maar ek wil graag hê jy moet dit weet. Ek sal jou liefhê tot die Sewe Susters eendag in die Melkweg se arms gaan lê. Hubert Jones.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s