’n Duisend keer ja – Felicia Snyman

'n duisend keer ja_high res

“Dis darem ’n glimlag waarvoor ek nooit sal kan moeg word nie.”

Sy wip van die skrik. Wat is dit met hierdie man wat altyd op die vreemdste tye soos ’n duikboot in haar lewe opduik. Hy staan baie naby aan haar. Dankie tog hy kan nie gedagtes lees nie, anders was sy nou in ’n lekker tameletjie gewees.

Sy loer skuins op na hom. “Miskien sien jy dit net te min.” Sy kan nie help om weer te glimlag nie.

“Daaraan sal ek beslis moet aandag gee. Ten minste een keer ’n dag vir doeleindes van die gevallestudie.” Hy glimlag terug en haar hart bokspring opnuut.

“En dan is hy nog intelligent ook. Wat staan ’n mens te doen?”

Hy lag vir haar speelse opmerking en raak haar liggies aan om te wys sy kan maar instap.

Haar rug trek styf. Haar lyf reageer soos ’n tiener s’n op die ligste aanraking van hom. Sy maan haarself aan en fokus op die taak op hande. Om ’n sitplek in ’n restaurant in te neem kwalifiseer seker nie as ’n taak nie, maar met hom so naby aan haar is haar konsentrasie maar min.

Die dag verloop goed. Almal babbel onophoudelik en vrolik. Sy en Raquella stap later kleedkamer toe. Haar suster wag net totdat hulle buite hoorafstand is toe sy opgewonde uitroep.

“Julle sal so ’n oulike paartjie maak.”

“Sjuut! Is jy laf? Netnou hoor iemand jou. Ons is bloot besig om mekaar te leer ken. Daar is nog absoluut niks om oor opgewonde te raak nie.”

“Ek sê jou nou daardie man dink jy is ’n engel wat in watte toegedraai moet word, en jy lyk so gelukkig, asof die wêreld van jou skouers afgeval het.”

“Ek is gelukkig. Kom ons gaan terug. Netnou begin hulle dink ons bly ’n bietjie te lank weg en begin ongemaklike vrae vra.”

Hulle giggel toe hulle terugstap.

Sy sien hoe Le Roux opkyk en stip na haar kyk. Sy oë steek nie vir een sekonde weg dat hy hou van wat hy sien terwyl hy na haar kyk nie. Sy voel ontbloot onder sy sterk blik en kyk vinnig af grond toe.

Hy staan op. Toe hy by haar kom, vee hy liggies oor haar wang voordat hy verder stap. Sy bloos bloedrooi toe sy Raquella se opgewonde gesig langs haar sien. Sy sug net. Dit is ’n hopelose stryd wat sy teen haar eie hart verloor het.

“Hy moes ’n foonoproep gaan maak het,” verduidelik Deon sonder dat enige iemand spesifiek gevra het. Hy ken hierdie twee susters ook beter as wat hulle dink. Twee nuuskierige agies wanneer hulle enigsins in iemand se doen en late belangstel, natuurlik.

Oomblikke later voel sy Le Roux se groot hand saggies op haar skouer rus. Hulle kyk almal vraend na hom.

“Baie dankie vir die wonderlike dag, julle. Ek moet ongelukkig teruggaan plaas toe. Die werkers het die pype per ongeluk in die windpomp se gat laat afval. Dit is ’n ramp in die kleine. Ek sal tien teen een iemand moet inkry om dit te kom uithaal.”

“Ai, dit is omtrent nou ’n situasie wat jy op hande het. Sterkte en dankie dat jy saamgekom het. Laat weet as ons met iets kan help.”

“Dankie, Deon.” Hy gee Deon ’n ferm handdruk. “Raquella. Goed om jou weer te sien. Sê vir Caleb ek het gegroet. Hy speel seker nou. Christabella, sal jy saam met my stap?” Hy hou sy hand na haar toe uit en sy neem dit sonder aarseling.

Hulle loop in stilte by die restaurant uit en tot by sy bakkie. Le Roux sluit oop en duik amper met sy hele lyf in die kajuit in om iets uit te haal. Christabella rek haar nek om te probeer sien wat dit is.

Hy vat haar hand en sit iets in haar palm voor hy sy hand weer wegneem. Dit neem haar ’n oomblik om te registreer wat dit is. Haar gesig helder op en sy kyk met glinsterende oë na hom.

’n Klein bossie veldblommetjies is aan ’n windpompsleutelhouertjie van hout vasgemaak. Dit is delikaat en fyn.

“Dis pragtig. Is dit myne?”

Hy glimlag breed vir haar kinderlike opgewondenheid en tik haar op die neus.

“Verseker. Ek het dit nou die dag in ’n winkel gesien en dadelik aan jou gedink aangesien jy my byna al ’n klomp hartaanvalle gegee het oor jou obsessie met windpompe. Eintlik dink ek nogal baie aan jou.”

Sy ontmoet sy blik. “Jy oordryf nou, maar ek gaan jou vandag verskoon. Dis vreeslik mooi. Baie dankie.”

Sy kyk eers weer na die geskenkie voordat sy opkyk. “En ek dink baie aan jou ook.” Haar woorde kom sag uit.

Hy tree effens nader aan haar.

“Dit vat al my selfbeheersing om jou nie nou net hier in die straat in my arms te neem en te soen nie.”

Sy eerlike woorde laat haar bloos. Haar mond voel droog en sy lek oor haar lippe. Hy streel sag met sy duim oor haar onderlip en sy voel hoe haar hele wese weer begin smelt. Sy oë volg die vorm van haar mond. Dit vat al haar selfbeheersing om hom nie nader te trek en te soen nie.

Sy skud haar kop verward. Dis ongetwyfeld ’n nuwe gedagte. Hy tree weer agteruit en sy wonder of hy dit doen om sy selfbeheersing te behou.

“Jy is iets besonders.” Hy laat die woorde in die lug hang.

Sonder om te dink sit sy haar palm op sy wang. Hy neem haar hand en soen die binnekant daarvan. Toe draai hy om, klim in sy bakkie en ry weg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s