Van altyd af – Karen de Villiers

Van altyd af_high res

Sy voel eintlik ’n bietjie depressief en kry haarself jammer. Net die gedagte aan hoe amper sy eergister verdrink het, wil haar sommer laat huil. Sy besef ook dat sy Adam nie moet laat agterkom wat die probleem is nie en begin ’n verspotte liedjie sing.

“Lindie, kan jy miskien net ’n bietjie sagter sing? Ek probeer konsentreer. Die pad is besig. Al wat leef en beef, is op die pad en hulle ry boonop soos padvarke,” brom Adam onderlangs.

Lindie is dadelik geïrriteerd en gee hom ’n vuil kyk voor sy ’n ander liedjie begin neurie. Sy weet Adam gebruik die verkeer as ’n verskoning. In sy kop is hy al klaar besig om die gereedskap, klere en toerusting te pak. Hy gaan in hierdie bui wees tot en met die dag wat die kompetisie ’n aanvang neem. Pure senuwees, as iemand haar sou vra. Gelukkig weet sy al hoe om dit te hanteer; sy het dit al deur die jare hoeveel keer meegemaak.

By die huis aangekom, begin die groot werk. Eers word alle kamptoerusting afgelaai en daarna gewas. Dit neem ure nadat hulle by die huis aangekom het voor hulle agteroor kan sit met ’n koeldrank in die hand. Lindie neem haar kans waar en gaan tap die bad vol water. Net toe sy wil inklim, kom sy agter dat haar boek nog in die kamer is, en dat die badhanddoeke nog nie uitgehaal is nie. Vinnig neem sy die klein gastehanddoekie en kyk in die spieël. As sy dit voor haar hou, sal niks sigbaar wees nie, en Adam gaan sekerlik nog vir ’n hele ruk buite besig wees. Stadig maak sy die deur oop en kyk links en regs, maar sien en hoor niks. Sy glip vinnig uit en kry haar boek waar dit op haar bed lê. Sy is nog besig om die handdoeke uit die kas te haal toe iemand met ’n plat hand teen die kasdeur slaan. Lindie skrik so groot, sy laat val die klein handdoekie en die boek op dieselfde tyd en gil kliphard.

“Jou sussie se vissie, vir wat maak jy my so skrik!” skreeu sy dit uit terwyl sy die handdoek probeer optel sonder om meer van haar naakte lyf ten toon te stel.

“Adam, wat maak jy! Maak dadelik jou oë toe en kry hulle van my lyf af. Hoekom is jy nie meer buite nie?”

Adam, wat nog nie sy asem teruggekry het nie, sukkel om ’n woord uit te kry.

“Vir wat staan jy net met ’n handdoek in die gang rond? Enigiemand kon hier ingestap het. Weet jy nie hoe gevaarlik dit kan wees nie? Hoe moet ek jou hier vir ’n paar weke los en jy kan nie na jouself kyk nie?” kry hy dit uiteindelik uit.

Adam, wat dit nog nooit kon weerstaan om haar skrik te maak nie, is dadelik spyt hy het dit gedoen. Hy was nie bewus van die klein handdoekie wat sy voor haar probeer vasklem het nie. Die kas se deur het oopgestaan en hy kon net haar hare sien uitsteek. Hy kry toe ’n blik van ’n baie mooi maar baie naakte lyf voor hom. Instinktief wou hy probeer keer en amper het hy sy hande in kontak met Lindie se vel gebring. Hy wonder of dit net so sag is soos wat dit lyk. Vir ’n oomblik dink hy hoe haar vel in die swembad gevoel het. Die volgende oomblik skuif Lindie by hom verby en slaan die badkamerdeur met geweld toe.

 

’n Stilte hang in die kombuis toe Lindie instap. Nie eens die radio speel soos gewoonlik nie. Sy sien vir Adam waar hy by die venster uitstaar.

“Ek hoop jy vergeet dit wat jy netnou gesien het. Jy mag dit nooit vir iemand noem of oorvertel nie. Ek was nog nooit in my lewe in so ’n verleentheid geplaas nie,” kom dit verontwaardig van Lindie.

“Ek moet sê, dit wat ek gesien en amper gevoel het, was nie te onaangenaam nie. Ek dink egter nie dat jy so voor ander mans moet rondloop nie. Hulle kan dalk nie so ’n gentleman soos ek wees nie. Die geboortevlekkie op jou maag het met die jare ook nie groter geraak nie. Dit is nog dieselfde grootte as toe jy baie klein was en nie jou onderklere wou aantrek nie,” skerts Adam met duiweltjies in sy oë.

Lindie ervaar gloed op gloed. Sy bal haar hande in vuiste en storm by die vertrek uit terwyl sy mompel: “Gentleman se voet in ’n visblik. Jy het óf uitstekende oë óf jy het my lyf baie goed bestudeer.”

Dis ’n hele ruk daarna voor Lindie uit haar kamer kom. Sy begin die potte en panne rondpluk en verbasend gou is die kos op die tafel.

“Adam, kom eet.”

Stadig kom Adam in die eetkamer in. In sy hand is daar ’n wit sakdoek en hy wapper dit voor hom uit. Lindie kan dit nie keer nie en bars kliphard uit van die lag.

“Goed, goed, jy is vergewe, maar jy mag nog steeds nooit vir iemand daarvan vertel nie. Jy moet my dit belowe, asseblief,” kry sy dit uiteindelik uit.

“Ek sal, as jy belowe dat jy nie weer die kans sal waag om so in die huis rond te loop nie. Jy mag dit dalk nie besef nie, maar om dit voor die verkeerde persoon te doen kan ernstige gevolge vir jou hê.”

“Goed, noudat ons dit uit die weg geruim het, kan ons seker eet. Ek dink jy sal van ’n gekookte ete hou.”

Baie later sit elkeen met ’n koppie koffie en bespreek die kamp wat verby is en die opkomende kompetisie. Lindie wil meer inligting daaroor hê en raak later amper meer opgewonde daaroor as wat Adam is.

“Het jy toe vir Fritz opgespoor?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s